JAKOBUS 1:6-26

JAKOBUS 1:6-26 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer mense bid, dan moet hulle glo dat God sal gee wat hulle vra, hulle moenie twyfel nie. Want 'n mens wat twyfel, is soos die see se branders, die wind waai die branders heen en weer. Iemand wat twyfel, moenie dink dat die Here vir hom iets sal gee nie, so 'n mens weet nie wat hy moet besluit nie, hy weet nooit wat hy moet doen nie, hy is nie seker nie. 'n Gelowige wat onbelangrik en arm is, moet bly wees dat die Here dink hy is belangrik. Maar 'n gelowige wat ryk is, moet bly wees dat die Here nie dink hy is belangrik nie, want sy baie goed kan wegraak soos 'n veldblom wat verdwyn. Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is 'n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos 'n veldblom. Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy 'n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so 'n mens, dan sal God vir hom 'n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom. Wanneer daar dinge is wat 'n mens se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen, dan moet die persoon nie sê: “Dit is God wat wil hê ek moet verkeerde dinge doen” nie, want niemand kan vir God verkeerde dinge laat doen nie, en God wil ook nie hê dat mense verkeerde dinge moet doen nie. Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen. Hy wil die dinge baie graag doen, dit is vir hom soos 'n vangnet wat hom vang. Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie. Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos 'n lig wat altyd skyn. God het besluit om vir ons die boodskap te stuur wat waar is, Hy het vir ons nuwe lewe gegee, ons het die eerste en belangrikste geword van almal wat Hy nuut gemaak het. My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie. Want wanneer 'n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie. Daarom moet julle heeltemal ophou om verkeerde en slegte dinge te doen. Julle moet nederig wees en julle moet luister na die goeie boodskap wat God in julle harte gegee het. Dit is die boodskap wat vir julle kan red. Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan bedrieg julle julleself. Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos 'n mens wat in 'n spieël na sy eie gesig kyk. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat 'n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so 'n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê. As iemand dink dat hy vir God dien maar hy dink nie voordat hy praat nie, dan bedrieg hy homself, en dan beteken sy godsdiens niks.

JAKOBUS 1:6-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk. Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees. SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen. As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.

JAKOBUS 1:6-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. 'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos 'n veldblom. As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan. Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het. My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 'n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.

JAKOBUS 1:6-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen. Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n veldblom sal hy vergaan. Want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af, en sy skoonheid gaan tot niet. Net so sal die ryke verwelk in alles wat hy doen. Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. Moenie mislei word nie, my geliefde broers. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees. Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie. Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle •siele te verlos. Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. Want wie 'n hoorder van die woord is en nie 'n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in 'n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener. As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so 'n mens se godsdiens is vergeefs.

JAKOBUS 1:6-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar laat hy in geloof bid, sonder om te wankel. Want hy wat wankel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedryf en voortgesweep word. Want laat daardie man nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. 'n Dubbelsinnige man is onbestendig in al sy weë. Laat die broeder van geringe graad hom verheug omdat hy verhewe is: Maar die ryke, deurdat hy verneder is, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son kom nie vroeër op met 'n brandende hitte nie, maar dit laat die gras verdroog, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal ook die ryk man in sy weë verwelk. Geseënd is die man wat versoeking verdra, want as hy beproef word, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. Laat niemand as hy versoek word, sê: Ek word deur God versoek nie, want God kan nie deur die kwaad versoek word nie, en Hy versoek niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Wanneer begeerlikheid dan swanger geword het, bring dit sonde voort; en sonde, as dit voleindig is, baar die dood. Moenie dwaal nie, my geliefde broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte gawe is van bo en daal af van die Vader van die ligte, by wie daar geen veranderlikheid of skaduwee van omkering is nie. Uit sy eie wil het Hy ons verwek met die woord van waarheid, sodat ons 'n soort eerstelinge van sy skepsele sou wees. Daarom, my geliefde broeders, laat elke mens gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van die mens werk nie die geregtigheid van God nie. Daarom, lê alle vuilheid en oorvloed van stoutheid af, en ontvang met sagmoedigheid die ingeënt woord, wat in staat is om julle siele te red. Maar wees daders van die woord en nie alleen hoorders nie, deur julleself te mislei. Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, is hy soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n glas aanskou. Want hy sien homself en gaan sy gang en vergeet dadelik watter soort mens hy was. Maar elkeen wat insien na die volmaakte wet van vryheid en daarin bly, hy is nie 'n vergeetagtige hoorder nie, maar 'n dader van die werk, hierdie man sal geseën word in sy daad. As iemand onder julle blykbaar godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy eie hart bedrieg, hierdie man se godsdiens is tevergeefs.

JAKOBUS 1:6-26 Die Boodskap (DB)

Maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.Dit is ’n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit? God werk anders as ons met mense. Vir Hom is daardie arm man of vrou wat in nederige omstandighede bly, baie belangrik. Vir julle met wie dit so gaan, moet dit baie moed gee. Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig. Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan? Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het. Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie. Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood. Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel. Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af. Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur. Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie. Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Wees liewer gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken. Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring. Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul. Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek. Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet.

JAKOBUS 1:6-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar, as ’n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ’n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie. Gelowiges wat nie status in die samelewing het nie, moet trots wees op die status wat God aan hulle gee. Gelowiges wat ryk is, moet bly wees oor hulle nederige status voor God. Want hulle rykdom sal soos die veld se blomme net ’n rukkie hou. Julle weet mos: Die warm son kom met gloeiende hitte op en verskroei die veld. Die blomme val af, en die veld se prag is weg. So sal die rykes ook met alles wat hulle bymekaargemaak het, vergaan. Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet. Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: “God verlei my” nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie. Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters. Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie. Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is. My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie. Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red. Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself. Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen. As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie.

JAKOBUS 1:6-26

JAKOBUS 1:6-26 AFR83