JAKOBUS 1:15-20
JAKOBUS 1:15-20 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie. Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos 'n lig wat altyd skyn. God het besluit om vir ons die boodskap te stuur wat waar is, Hy het vir ons nuwe lewe gegee, ons het die eerste en belangrikste geword van almal wat Hy nuut gemaak het. My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie. Want wanneer 'n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie.
JAKOBUS 1:15-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees. SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.
JAKOBUS 1:15-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het. My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 'n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.
JAKOBUS 1:15-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. Moenie mislei word nie, my geliefde broers. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees. Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie.
JAKOBUS 1:15-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wanneer begeerlikheid dan swanger geword het, bring dit sonde voort; en sonde, as dit voleindig is, baar die dood. Moenie dwaal nie, my geliefde broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte gawe is van bo en daal af van die Vader van die ligte, by wie daar geen veranderlikheid of skaduwee van omkering is nie. Uit sy eie wil het Hy ons verwek met die woord van waarheid, sodat ons 'n soort eerstelinge van sy skepsele sou wees. Daarom, my geliefde broeders, laat elke mens gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. Want die toorn van die mens werk nie die geregtigheid van God nie.
JAKOBUS 1:14-20 Die Boodskap (DB)
Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood. Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel. Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af. Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur. Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie.
JAKOBUS 1:15-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters. Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie. Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is. My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie.