JESAJA 60:1-22
JESAJA 60:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. Kyk rondom jou, kyk, hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe: jou seuns kom van ver af, jou dogters word met liefde gebring. Jy sal dit sien en van vreugde straal, jy sal bewe van blydskap, want die rykdom van die see word joune, die skatte van die nasies kom in jou besit. Jou land sal vol kamele wees, jong kamele uit Midian en Efa. Almal wat uit Skeba kom, bring goud en wierook en verkondig die lof van die Here. Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaargemaak, die ramme van Nebajot is tot jou beskikking; hulle is aanneemlike offers op my altaar. So vermeerder Ek die roem van die huis waar Ek geëer word. Wat kom hier aangesweef soos wolke, soos duiwe na hulle neste toe? Dit is die skepe van die eilande wat na My toe op pad is; heel voor is die skepe van Tarsis af. Hulle bring jou seuns van ver af, en ook silwer en goud, tot eer van die Here jou God, die Heilige van Israel, omdat Hy jou roem wil vermeerder. Uitlanders sal jou mure herbou, en hulle konings sal in jou diens wees. Ek het jou in my toorn gestraf, maar in my genade ontferm Ek My oor jou. Jou poorte sal altyd oop staan, dag of nag sal hulle nie gesluit word nie sodat die rykdomme van die nasies na jou toe gebring kan word, en hulle konings as gevangenes na jou toe gelei kan word. Die nasie, die koninkryk wat jou nie dien nie, sal verdwyn, dié nasies sal heeltemal tot niet gaan. Die hoë bome van die Libanon sal na jou toe kom, sipresse, platane en denne, om die roem van my heiligdom te vermeerder, om luister te verleen aan my tempel: dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel. Jy sal nie meer verstoot en gehaat wees nie, 'n plek waar niemand kom nie, want Ek gee blywende roem aan jou, vreugde sonder einde. Jy sal deur nasies en konings versorg word soos 'n kind wat aan sy moeder se bors gevoed word. Dan sal jy besef dat Ek die Here is, jou Redder, dat die magtige God van Jakob jou Verlosser is. Ek gee vir jou goud in die plek van brons, silwer in die plek van yster, brons in die plek van hout, yster in die plek van klip. Ek laat vrede oor jou regeer, Ek laat geregtigheid jou bestuur. Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie, of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie. Jy sal jou mure noem: Redding, jou poorte: Lof. Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby. Al jou inwoners sal regverdiges wees, hulle sal die land vir altyd besit. Hulle is die loot wat Ek self daar geplant het, die werk van my hande om my roem te vermeerder. Die kleinste onder hulle sal duisende word, die swakste 'n sterk nasie. Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here.
JESAJA 60:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Jerusalem, jy moet opstaan, jy moet jou lig laat skyn, want jou lig het gekom, die lig van die Here self sal op jou skyn. Ja, kyk, dit is donker oor die aarde, oor al die volke. Maar die Here gee vir jóú lig, sy lig kom na jou toe. Nou sal die volke en die konings lewe in jou lig, die lig van jou nuwe dag. Jerusalem, kyk rondom jou, jy sal sien jou seuns en jou dogters kom van ver. Mense dra hulle, en hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe. Wanneer jy dit sien, dan sal jy baie bly wees. Jou hart sal vinnig klop en jy sal bly word, want al die duur en mooi dinge van die volke sal joune word. Dit sal na jou toe kom oor die see. Daar sal baie kamele na jou toe kom, kamele van die lande Midian en Efa. Hulle sal almal van die land Skeba kom en hulle sal goud en wierook bring. Die mense sal die Here prys. “Al die skape en bokke van die land Kedar sal joune word, die ramme van die land Nebajot sal aan jou behoort. Ek wil graag hê dat jy hulle op my altaar moet offer, en Ek sal trots wees op my pragtige tempel.” Wie is dit wat daar nader kom soos 'n wolk? Wie kom soos duiwe wat na hulle neste vlieg? Jerusalem, dit is jou seuns wat van ver kom, hulle kom van die ver lande langs die see. Hulle kom met skepe, en hulle bring goud en silwer saam. Hulle kom om jou God die Here te eer, die Heilige God van Israel, en Hy sal vir jou ook eer gee. “Mense van ander lande sal jou mure bou, en hulle konings sal vir jou werk, want Ek het jou gestraf toe Ek kwaad was, maar Ek wil graag weer goed wees vir jou. Jou poorte sal elke dag en nag oop wees sodat die duur en mooi dinge van die volke na jou toe kan kom, en sodat die volke hulle konings na jou toe kan lei. Dit sal sleg gaan met die volke wat jou nie dien nie, die vyande sal hulle lande verwoes, en hulle stede sal hope klippe word. Die hout van die beste bome op Libanon-berg sal na jou toe kom, sipreshout, plataanhout en dennehout, en dit sal my tempel mooi maak, Ek sal die plek waar Ek woon, pragtig maak. Die mense wat jou verdruk het en wat gedink het jy beteken niks, sal na jou toe kom en laag voor jou buig. Hulle sal jou noem ‘Stad van die Here, Sion wat behoort aan die Heilige God van Israel.’ Daar het niemand in jou gewoon nie, niemand wou deur jou loop nie. Maar nou sal almal trots wees op jou, elke nuwe geslag sal bly wees oor jou. Volke en hulle konings sal jou oppas soos 'n ma haar kind oppas, en jy sal weet Ek is die Here wat jou red, die Sterk God van Jakob is jou Bevryder. Jerusalem, jy het nou brons, maar Ek bring vir jou goud, jy het yster, maar Ek bring silwer, jy het hout, maar Ek bring brons, jy het klip, maar Ek bring yster. Ek sal vir jou vrede gee, jou mense sal reg doen aan mekaar. Niemand sal weer kan sê dat iemand slegte dinge doen aan die mense in jou land nie en niemand sal jou huise verwoes en afbreek nie. Jy sal sê jou mure se naam is ‘Die Here red,’ en jou poorte se naam is ‘Prys die Here.’ In die dag sal die son nie meer vir jou lig gee nie en die maan sal nie meer op jou skyn nie. Maar die Here sal altyd jou lig wees, jou God sal vir jou eer gee. Jou son sal nie ondergaan nie, jou maan sal nie kleiner word nie, want die Here sal altyd die lig wees vir jou. Die tyd is verby toe jy moes huil en treur. Jou mense sal almal doen wat die Here wil hê, en die land sal altyd aan hulle behoort. Hulle sal wees soos 'n loot wat die Here geplant het, 'n loot wat Hy self geplant het om Hom te eer. 'n Paar mense sal wees soos 1 000 mense, die swakste mense sal wees soos 'n sterk volk. Ek sal dit gou laat gebeur wanneer Ek so besluit, Ek is die Here.”
JESAJA 60:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. Slaan jou oë rondom op en kyk — hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan. 'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die HERE. Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nébajot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak. Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos 'n wolk en soos duiwe na hulle vensters? Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die HERE jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het. En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal seker verwoes word. Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal die plek van my voete heerlik maak. En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel. In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag. En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob. Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders. Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie — van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof. Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en jou God sal jou sieraad wees. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby. En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit — as lote deur My geplant, 'n werk van my hande, tot my verheerliking. Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.
JESAJA 60:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die HERE skyn oor jou. Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die HERE, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af kom hulle aan; en jou dogters – op die heup word hulle gedra. Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. 'n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die HERE se lofwaardige dade sal hulle verkondig. Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik. “Wie is dit daardie wat soos 'n wolk aangesweef kom, soos duiwe na hulle neste? Ja, op My wag die eilande; die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt om jou kinders van ver af te bring. Hulle silwer en goud is by hulle, ter ere van die Naam van die HERE, jou God, ter ere van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. “Vreemdes sal jou mure herbou, en hulle konings sal tot jou diens wees. Ja, in my grimmigheid het Ek jou geslaan, maar in my guns ontferm Ek My oor jou. Jou poorte sal altyd oopstaan; bedags en snags sal dit nie gesluit word nie, sodat mense die rykdom van nasies na jou toe kan bring, met hulle konings wat in 'n segetog gelei word. Ja, die nasie en die koninkryk wat jou nie dien nie, sal ondergaan; sulke nasies sal volledig verwoes word. Die luister van die Libanon sal na jou kom – sipresse, wildevliere en dennebome, almal tegelyk – om my heilige plek te versier. Aan die rusplek van my voete sal Ek eer gee. Na jou sal hulle neergeboë kom – die kinders van jou verdrukkers; almal wat jou verag het, sal diep neerbuig by jou voetsole. Hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel. In plaas daarvan dat jy verlate en gehaat is, sonder enige verbygangers, sal Ek jou 'n voorwerp van ewige trots maak, 'n vreugde van geslag tot geslag. Jy sal die nasies se melk drink, aan koninklike borste sal jy drink. Dan sal jy besef dat Ek die HERE is wat jou verlos, jou losser, die Magtige van Jakob. In plaas van koper bring Ek goud, en in plaas van yster bring Ek silwer, in plaas van hout, koper, en in plaas van klippe, yster. Ek stel vrede aan as jou toesighouer, geregtigheid as jou regeerder. Daar sal nie langer iets oor geweld in jou land gehoor word nie, of oor verwoesting en vernietiging binne jou grense nie. Jy sal jou mure Verlossing noem, en jou poorte Lof. Vir jou sal die son nie meer daar wees as 'n lig bedags nie, en die maan sal nie as 'n helder lig vir jou skyn nie. Die HERE sal as 'n ewige lig daar wees, en jou God as jou roem. Jou son sal nie weer ondergaan nie, en jou maan sal nie verdof nie; want die HERE sal vir jou 'n ewige lig wees, en jou routyd sal verby wees. Jou volk is almal regverdiges; vir altyd sal hulle die land besit, hulle, die werk van my hande, die loot wat Ek geplant het om My te verheerlik. Die kleinste sal 'n stam word, en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd vinnig laat gebeur.”
JESAJA 60:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Staan op, skyn; want jou lig het gekom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar die HERE sal oor jou opstaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En die heidene sal na u lig kom en konings na die glans van u opstanding. Slaan jou oë op rondom en kyk: hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou; jou seuns sal van ver af kom, en jou dogters sal aan jou sy gevoed word. Dan sal jy sien en saamvloei, en jou hart sal vrees en verruim word; omdat die oorvloed van die see na jou sal verander, sal die magte van die heidene na jou toe kom. Die menigte kamele sal jou oordek, die dromedarisse van Midian en Efa; almal van Skeba sal kom; goud en reukwerk sal hulle bring; en hulle sal die lofsange van die HERE verkondig. Al die kleinvee van Kedar sal by jou versamel word, die ramme van Nebajot sal jou dien; hulle sal met welbehae op my altaar opkom, en Ek sal die huis van my heerlikheid verheerlik. Wie is dit wat soos 'n wolk vlieg en soos duiwe na hulle vensters? Waarlik, die eilande sal eers op My wag, en die skepe van Tarsis, om jou seuns van ver af te bring, hulle silwer en hulle goud saam met hulle, na die Naam van die HERE jou God en na die Heilige van Israel, want Hy het het u verheerlik. En die kinders van vreemdelinge sal jou mure opbou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou getref, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm. Daarom sal jou poorte gedurigdeur oop wees; dag en nag mag hulle nie gesluit word nie; sodat mense die leërs van die heidene na jou kan bring, en dat hulle konings gebring kan word. Want die nasie en die koninkryk wat U nie dien nie, sal vergaan; ja, daardie nasies sal heeltemal verwoes word. Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die denneboom en die kis saam, om die plek van my heiligdom te versier; en Ek sal die plek van my voete heerlik maak. En die seuns van die wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe kom; en almal wat jou verag het, sal hulle voor jou voetsole neerbuig; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel. Terwyl jy verlaat en gehaat is, sodat niemand deur jou gegaan het nie, sal Ek jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag. Jy moet ook die melk van die heidene suig en die bors van konings suig, en jy sal weet dat Ek, die HERE, jou Verlosser is en jou Verlosser, die Magtige van Jakob. Vir koper sal Ek goud bring, en vir yster sal Ek silwer bring, en vir hout koper en vir klippe yster; Ek sal ook vir jou dienaars vrede maak en aan jou amptenare geregtigheid. Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie, verwoesting of verwoesting in jou grondgebied; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof. Die son sal bedags nie meer jou lig wees nie; ook om glans sal die maan jou nie verlig nie, maar die HERE sal vir jou 'n ewige lig wees en jou God jou heerlikheid. Jou son sal nie meer ondergaan nie; en jou maan sal nie onttrek nie, want die HERE sal jou ewige lig wees, en die dae van jou rou sal verby wees. En jou volk sal almal regverdig wees: hulle sal die land vir ewig beërwe, die loot van my plant, die werk van my hande, dat Ek verheerlik kan word. 'n Kleintjie sal 'n duisend word en 'n kleintjie 'n sterk nasie; Ek, die HERE, sal dit verhaas op sy tyd.
JESAJA 60:1-22 Die Boodskap (DB)
Staan op, Jerusalem, dat jy lig kan gee vir die wêreld. Die Here is by jou. Hy maak jou soos ’n lig wat skyn in die wêreld. Dit is donker in die wêreld. Daar is duisternis onder die volke. By jou laat die Here dit egter lig wees. Hy is by jou. Hy maak lig vir jou dat jy ook ’n lig kan wees. Die nasies kom na jou lig toe. Die konings van die wêreld kom na die helder lig wat by jou skyn. Kyk ’n bietjie wat besig is om reg rondom jou te gebeur. Jou mense begin bymekaarkom om terug te kom huis toe. Jou seuns kom van ver af terug. Jou dogters word aangedra terug na jou toe. Wanneer jy sien wat gebeur, gaan jy van blydskap straal. Jou hart sal opgewonde begin klop. Die seehandelaars sal met jou begin besigheid doen. Die rykdom van die wêreld sal na jou toe begin vloei. Lang karavane van kamele sal uit Midian en Efa op jou toesak. Hulle sal uit Skeba aankom met goud en wierook om die Here te aanbid. Jy kan die kleinvee van Kedar en die bokramme van Nebajot gebruik soos jy wil. Jy kan hulle enige tyd op die altaar vir die Here kom offer. Hulle is ’n aanwins vir sy tempel. Wat is dit wat soos wolke hier aangesweef kom, soos duiwe wat terugkom hok toe? Dit is die skepe van die ander lande wat jou kinders weer huis toe bring. Vooraan is die skepe van Tarsis. Hulle is gelaai met goud en silwer om die Here jou God, die groot God, te vereer. Hy wil sy volk in ere herstel. Buitelanders sal jou mure weer opbou. Hulle konings sal vir jou werk. Toe Ek vir jou kwaad was, het Ek jou gestraf. Noudat Ek jou jammer gekry het, sal Ek weer vir jou goed wees. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn. Die beste hout uit die Libanon sal na Jerusalem gebring word. Sipres-, plataan- en dennehout sal gebruik word om my tempel mooi te maak. Ek sal die plek waar Ek aanbid word, mooi laat maak. Die volke wat jou onderdruk het, sal by jou kom verskoning maak. Almal wat op jou neergesien het, sal onderdanig wees en by jou voete kom kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, en: Sion van die heilige God van Israel. Jy was vroeër ’n eensame en verlate plek waarby niemand wou kom nie. Ek maak jou nou ’n pragtige plek wat een geslag mense na die ander graag wil besoek. Nasies sal vir jou gee wat jy nodig het. Konings sal jou soos ’n ma versorg. Jy sal dan besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos het. Die magtige God van Jakob het jou vrygemaak. Ek sal sorg dat jy goud kry pleks van koper. In die plek van yster sal Ek jou silwer laat kry. Koper sal in die plek van hout kom en yster in die plek van klip. Ek sal vrede oor jou laat regeer. Geregtigheid sal jou leier wees. Daar sal nie weer van geweld in jou land gehoor word nie. Verwoesting en vernietiging sal nie meer in jou gebied voorkom nie. Die mure om jou stad sal jou beskerm. Jy sal met vreugde by jou poorte kan in- en uitgaan. Jou lig sal gedurende die dag nie meer van die son af kom nie. Jy sal nie meer afhanklik wees van die maan wat in die nag skyn nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Jou God sal oor jou skyn. Jou dae van hartseer is verby. Jou son sal nooit ondergaan nie. Jou maan sal nooit donker word nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Almal van jou volk sal doen wat reg is. Die land sal vir altyd aan hulle behoort. Hulle sal die plante wees wat Ek self daar geplant het. Ek het hulle met my hande gemaak sodat hulle eer aan My kan gee. Die kleinste groepie sal duisende sterk word. Dié wat die minste was, sal ’n groot volk word. Op die regte tyd sal Ek dit alles laat gebeur.
JESAJA 60:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Staan op, Jerusalem, laat jou lig skyn sodat alle volke dit kan sien! Want die HERE se heerlikheid skyn op jou. Duisternis kom oor die aarde, donkerte oor al die nasies, maar oor jou gee die HERE lig, oor jou verskyn sy teenwoordigheid. Nasies sal stroom na jou lig, en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. Kyk rondom jou. Hulle kom almal bymekaar. Jou seuns kom uit ver lande. Jou dogtertjies word op die heup gedra. Jy sal dit sien, jou oë sal blink, en jou hart sal bons van vreugde, want handelaars van oor die hele wêreld bring hulle skatte na jou, die rykdom van baie lande. Troppe kamele kom na jou toe, jong kamele uit Midian en Efa. Almal wat uit Skeba kom, bring goud en wierook om daarmee die lof van die HERE te besing. Die kleinvee van Kedar word vir jou gegee. Die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal aanvaarbaar wees vir offers op my altare. Ek sal my heerlike tempel nog verder verheerlik. “Wat sien Ek aangesweef kom soos wolke, soos duiwe na hulle neste toe? Die eilande sien op na My, die skepe van Tarsis is heel voor om jou kinders van ver af te bring, saam met hulle skatte, tot eer van die HERE jou God, die Heilige van Israel, want Hy het jou laat skitter met sy glans. “Vreemdes sal jou stede herbou, hulle konings sal tot jou diens wees. Ek het jou in woede gestraf, maar in my genade sal Ek My oor jou ontferm. Jou stadshekke sal heeldag en heelnag oop wees, sodat die rykdom van die nasies na jou gebring kan word en die konings in ’n triomftog die stad binnegelei sal word. Die nasie of koninkryk wat jou nie dien nie, sal verdwyn en vernietig word. “Die pragtige bome van die Libanon sal na julle toe kom, die woude vol sipresse, platane en denne. Dit sal gebruik word om my heiligdom te versier. My tempel sal heerlik wees. Die kinders van jou verdrukkers sal voor jou kom buig. Almal wat op jou neergesien het, sal jou voete kom soen. Hulle sal jou noem: die Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel. “Waar jy voorheen verstoot is, gehaat en deur almal vermy, gee Ek jou nou blywende roem, en maak Ek jou ’n vreugde, geslag na geslag. Jy sal die melk van nasies drink, aan ’n koninklike bors drink. Dan sal jy weet dat Ek, die HERE, jou Redder en Verlosser, die Magtige van Jakob is. Ek ruil jou brons vir goud, jou yster vir silwer, jou hout vir brons en jou klippe vir yster. Vrede en regverdigheid sal jou heersers wees! Geweld sal verdwyn uit jou land, ja, ondergang en verwoesting van binne jou grense. Redding sal om jou wees soos stadsmure, en almal wat die stad binnekom, sal My loof. Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig verskaf nie, en snags sal jy nie die maan nodig hê vir lig nie, want die HERE sal vir altyd jou lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son sal nooit weer ondergaan, of die maan afneem nie. Want die HERE sal jou lig wees vir altyd. Jou dae van hartseer het op ’n einde gekom. Al jou inwoners sal regverdig wees. En hulle sal die land vir altyd besit, want Ek sal hulle met my eie hande plant, om my roem te vermeerder. Die kleinste onder hulle sal duisende word, die swakste ’n sterk nasie. Ek is die HERE. Wanneer die tyd daarvoor kom, sal Ek dit doen.”