JESAJA 56:1-8
JESAJA 56:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Julle moet aanhou doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moet reg doen aan ander mense, want Ek sal gou kom om my mense te red. Almal sal dit sien. Dit sal goed gaan met iemand wat die Sabbatdag nie ontwy nie, en nooit verkeerde dinge doen nie. Daar is mense wat nie Israeliete is nie, en wat My kom dien. Hulle sê: ‘Die Here wil nie hê ons moet aan sy volk behoort nie.’ En daar is mans wat ontman is. Hulle sê: ‘Ek is soos 'n droë boom wat nie vrugte kan dra nie.’ Hulle moenie so dink nie, want die Here sê: ‘Die mense wat ontman is, moet aanhou om my Sabbatdag te vier en om te doen wat Ek wil hê. Hulle moet aanhou lewe soos Ek gesê het toe Ek met die Israeliete 'n verbond gemaak het. Dan sal Ek hulle name opskryf in my tempel sodat almal dit altyd sal onthou. Hulle name in die tempel sal vir hulle belangriker wees as seuns en dogters. Hulle name sal altyd daar wees. En Ek sal die mense wat nie Israeliete is nie en wat My kom dien, op my gewyde berg bring sodat hulle bly sal wees wanneer hulle in die tempel kom bid. Hulle moet lief wees vir my Naam, hulle moet my dienaars wees, hulle moenie die Sabbatdag ontwy nie en hulle moet aanhou lewe soos Ek vir hulle gesê het toe Ek met die Israeliete 'n verbond gemaak het. Ek sal daarvan hou dat hulle op my altaar offers bring, almal sal weet dat al die volke in my tempel kan kom bid.’ ” Dit is wat die Here gesê het, Hy wat Here is. Vyande het die Israeliete weggejaag uit hulle land, maar die Here sal die Israeliete bymekaarmaak en Hy sal nog meer mense saam met hulle bring.
JESAJA 56:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word. Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie. En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is 'n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure 'n gedenkteken en 'n naam gee wat beter is as seuns en dogters; 'n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie. En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke. Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.
JESAJA 56:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Here: Laat reg geskied, doen reg, want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom, en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word. Dit gaan goed met die mens wat die sabbat onderhou en dit nie ontheilig nie, wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie. Dit gaan goed met die mens wat hom hieraan hou. 'n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. 'n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar 'n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure 'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense 'n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot 'n huis van gebed vir al die volke. Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.
JESAJA 56:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So sê die HERE: “Handhaaf die reg en tree billik op, want my verlossing is naby, dit kom; en my geregtigheid is op hande, dit word geopenbaar. Gelukkig is die mens wat dit doen, die mensekind wat daarby hou, hy wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, wat sy hand daarvan weerhou om enigiets verkeerds te doen. Die nakomeling van 'n vreemde wat hom aan die HERE verbind het, mag nie sê, ‘Die HERE sal my beslis van sy volk afskei’ nie. 'n Eunug moet nie sê, ‘Kyk, ek is 'n droë boom’ nie. Want so sê Ek, die HERE, vir die eunugs, vir dié wat wel my Sabbatte onderhou, wat dit kies waarin Ek vreugde vind, en wat vashou aan my verbond: Ek sal vir hulle iets gee wat beter is as seuns en dogters: In my •tempel en teen my mure sal Ek hulle gedenk met 'n teken en 'n naam. 'n Ewige naam sal Ek aan hulle gee wat nie uitgewis sal word nie. “En die nakomelinge van 'n vreemde wat hulle aan die HERE verbind het om Hom te dien, om die Naam van die HERE lief te hê en om sy dienaars te word – almal wat die Sabbat onderhou deur dit nie te ontheilig nie, en wat vashou aan my verbond – hulle sal Ek na my heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in my huis van gebed. Hulle •brandoffers en •maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar. Ja, my huis sal genoem word 'n huis van gebed vir al die volke. ” Die uitspraak van my Heer, die HERE, Hy wat die verstrooides van Israel byeenbring, is: “Ek sal by Israel nog meer byeenbring as wat reeds by hom byeengebring is.”
JESAJA 56:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So sê die HERE: Bewaar die reg en doen reg, want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word. Geseënd is die man wat dit doen en die mensekind wat dit aangryp; wat die sabbat bewaar om dit te verontreinig en sy hand bewaar om enige kwaad te doen. En laat die seun van die vreemdeling wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE het my heeltemal van sy volk afgesonder nie; en laat die hofdienaar nie sê: Kyk, ek is 'n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die eunugs wat my sabbatte onderhou en kies wat My welgevallig is, en aan my verbond vashou; Selfs aan hulle sal Ek in my huis en binne my mure 'n plek en 'n naam gee wat beter is as van seuns en dogters; Ek sal hulle 'n ewige naam gee, wat nie uitgeroei sal word nie. Ook die seuns van die vreemdeling wat hulle by die HERE aansluit om Hom te dien en die Naam van die HERE lief te hê, om sy diensknegte te wees, elkeen wat die sabbat bewaar om dit te verontreinig en my verbond aangryp; Selfs hulle sal Ek bring na my heilige berg en hulle juig in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die mense. Die HERE HERE, wat die verstoottes van Israel bymekaarmaak, sê: Tog sal Ek ander by hom versamel, behalwe die wat by hom versamel is.
JESAJA 56:1-8 Die Boodskap (DB)
Die Here sê: Julle moet reg doen. Julle moet regverdig wees teenoor ander mense. Ek kom julle binnekort bevry. Die man wat die sewende dag reg deurbring en wat nie verkeerde dinge doen nie, sal gelukkig wees. Iemand wat van ’n ander volk kom, moet nooit dink die Here is nie bereid om hom in sy volk op te neem nie. Iemand wat sy manlikheid verloor het, hoef nie te dink dat hy onaanvaarbaar is omdat hy nie kinders kan hê nie. Vir die ontmandes sê die Here: As hulle op die sewende dag maak soos Ek van hulle vra en by my ooreenkoms met hulle bly, sal Ek hulle ’n erenaam gee in my tempel. Dit sal ’n naam wees wat selfs beter is as kinders. Hulle sal ’n naam kry wat vir altyd onthou sal word. Ek sal die man wat van ’n ander volk af kom en bereid is om die Here lief te hê, toelaat om na my woonplek toe te kom. Hy moet doen wat die Here van hom vra. Hy moet gewillig wees om die sewende dag reg deur te bring. Hy moet ook volgens die ooreenkoms van die Here leef. Ek sal hom bly maak wanneer hy in my huis tot My kom bid. Ek sal met genoeë die diere aanvaar wat hy vir My slag en die offers wat hy op my altaar vir My bring. My huis sal ’n huis genoem word waar die nasies tot die Here kom bid. My Here, wat hulle wat weggevoer is, weer bymekaarmaak en terugbring, sê: Daar is ook nog ander wat Ek saam met Israel sal laat bymekaarkom.
JESAJA 56:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So sê die HERE: “Tree regverdig en eerlik op, doen wat reg en goed is, want Ek is op pad om julle te red. Geseënd is almal wat versigtig dit alles doen. Geseënd is elkeen wat my Sabbatdae onderhou deur te weier om dan te werk. En geseënd is almal wat weier om die verkeerde te doen. “’n Uitlander wat deel geword het van die volk van die HERE moenie dink: ‘Die HERE sal my sekerlik uitsluit van sy volk!’ nie. ’n Ontmande moenie dink: ‘Ek is maar ’n droë boom!’ nie.” Want so sê die HERE: “Aan die ontmandes wat my Sabbat onderhou en kies om te doen wat My behaag, en lewe volgens my verbond, vir hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n gedenkteken oprig, en ’n erenaam gee wat beter is as dié van seuns en dogters. Ek sal aan hulle ’n blywende naam gee, wat nooit uitgewis sal word nie. Ek seën ook die uitlanders wat hulle aan die HERE wy en Hom dien en liefhet en die Sabbatdae onderhou en lewe volgens my verbond. Ook húlle bring Ek na my heilige berg en gee hulle vreugde in my huis van gebed. Hulle brandoffers en ander offers sal Ek aanvaar, want my tempel sal ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies.” Die oppermagtige HERE, wat die ballinge van Israel terugbring, sê: “Benewens my volk Israel bring Ek ook ander huis toe.”