JESAJA 55:3-11
JESAJA 55:3-11 Die Boodskap (DB)
Spits julle ore en kom na My toe. Luister mooi dat julle kan lewe. Ek wil met julle ’n vaste ooreenkoms sluit. Ek wil vir julle alles gee wat Ek vir Dawid belowe het. Ek het hom ’n getuie gemaak vir die nasies. Hy was ’n leier wat oor die nasies regeer het. Julle sal ook nasies beveel om na julle toe te kom, al het julle hulle nie voorheen geken nie. Nasies wat vroeër nie eers van julle geweet het nie, sal na julle toe aangehardloop kom. Hulle sal dit doen ter wille van die Here julle God. Hulle sal kom ter wille van die hoë God van Israel wat aan julle eer bewys het. Vra wat die Here van julle wil hê terwyl dit nog moontlik is. Bid tot die Here noudat Hy naby is. Die goddelose moet die verkeerde manier waarop hy lewe, laat staan. Die sondaar moet afsien van sy verkeerde gedagtes. Hy moet na die Here toe terugkom. Die Here sal hom graag terugontvang. Hy moet na ons God toe kom. Ons God sal hom alles vergewe. Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink. Die reën val op die aarde en die sneeu val uit die lug. Dit gaan nie weer terug na waar dit vandaan kom nie. Dit bly in die grond en laat die plante groei. Dit laat die plante saad maak om te oes. Dit gee kos om te eet. Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor Ek dit gestuur het.
JESAJA 55:3-11 Bybel vir almal (ABA)
Luister en kom na My toe, luister sodat julle kan lewe. Ja, Ek wil 'n verbond maak met julle, 'n verbond wat vir altyd sal wees. Ek wil aanhou lief wees vir julle soos Ek lief was vir Dawid. Want kyk, Ek het vir Dawid gesê hy moet vir die volke wys wie Ek is. Ek het hom 'n koning gemaak wat oor die volke regeer het. En kyk, julle sal 'n volk roep wat julle nie ken nie, 'n volk wat julle nie ken nie, sal na julle toe hardloop. Want Ek is julle God die Here, die Heilige God van Israel, en Ek gee weer eer vir julle.” Julle moet vir die Here vra wat Hy wil hê, Hy wil dit vir julle sê. Julle moet tot Hom bid, Hy wil hoor wat julle sê. Die mense wat verkeerd doen, die mense wat slegte planne het, moet ophou. Hulle moet hulle planne los, en hulle moet terugkom na die Here, na ons God, want die Here is genadig, Hy vergewe altyd weer. “Ja, Ek dink nie soos julle dink nie, en Ek doen nie soos julle doen nie. Ja, wat Ek dink en doen, is ver bo wat julle dink en doen, soos die hemel ver bo die aarde is. Ja, die reën en die sneeu kom uit die hemel en dit gaan nie terug na die hemel nie. Dit maak die aarde nat, en daar groei plante wat saad gee sodat die man wat wil saai, saad het en sodat die man wat wil eet, brood het. So sal my woorde wees wat uit my mond kom, dit sal doen wat Ek wil hê. My woorde sal doen wat Ek gesê het hulle moet doen, my woorde sal nie leeg na My toe terugkom nie.
JESAJA 55:3-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak, tot 'n vors en 'n gebieder van die nasies. Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
JESAJA 55:3-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid. Ek het hom 'n getuie gemaak vir die volke, 'n regeerder en gebieder van volke. Nou sal jy nasies ontbied wat jy nie geken het nie, en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop ter wille van die Here jou God, die Heilige van Israel, omdat Hy jou in eer herstel het. Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.
JESAJA 55:3-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef! Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid. Kyk, 'n getuie vir die volke het Ek hom gemaak, 'n leier, iemand wat bevel voer oor volke. Kyk, jy sal 'n nasie roep wat jy nie ken nie; en 'n nasie wat jou nie ken nie, sal na jou toe hardloop, ter wille van die HERE, jou God, ter wille van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.” Soek die HERE terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die HERE terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik. “Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die HERE. “ Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne. Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit, en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet, net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.
JESAJA 55:3-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Neig jou oor en kom na My toe; luister, en jou siel sal lewe; en Ek sal 'n ewige verbond met jou sluit, die vaste ontferminge van Dawid. Kyk, Ek het hom gegee as 'n getuie vir die volk, 'n leier en bevelvoerder vir die volk. Kyk, jy sal 'n nasie roep wat jy nie ken nie, en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop ter wille van die HERE jou God en vir die Heilige van Israel; want Hy het U verheerlik. Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die onregverdige sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, en Hy sal hom genadig wees; en aan onse God, want Hy sal menigvuldig vergewe. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde natmaak en dit laat uitspruit en uitbot, sodat dit saad kan gee aan die saaier en brood aan die eter. So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal volbring wat My behaag, en dit sal voorspoedig wees in alles waarheen Ek dit gestuur het.
JESAJA 55:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister tog, kom na My toe. Luister na My dat julle kan lewe. Ek is gereed om ’n ewige verbond te sluit. Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos Ek aan Dawid belowe het. Ek het hom ’n getuie gemaak vir al die volke, ’n regeerder en bevelvoerder van volke. Jy sal oor nasies regeer wat jy nie geken het nie. Nasies wat jou nie ken nie sal na jou toe hardloop ter wille van die Here jou God, die Heilige van Israel, wat jou vereer.” Vra na die HERE terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom nou aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die HERE en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe! “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die HERE. “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes. Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.