JESAJA 53:3-4
JESAJA 53:3-4 Bybel vir almal (ABA)
Al die mense het gedink hierdie man is nie belangrik nie en hulle wou hom nie sien nie. Hy het swaargekry en hy was altyd siek. Die mense het hulle gesig weggedraai, hulle wou nie na hom kyk nie. Die mense het gedink hy is nie belangrik nie, en ons het gedink hy beteken niks. Maar hy was siek sodat ons gesond kan wees, hy het swaargekry sodat ons nie sal swaarkry nie. En ons het gedink dit is God wat hom straf en wat hom slaan en verneder.
JESAJA 53:3-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
JESAJA 53:3-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.
JESAJA 53:3-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy is verag, deur mense verlaat, 'n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie 'n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder.
JESAJA 53:3-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy word verag en deur die mense verwerp; 'n man van smarte en bekend met droefheid; en ons het as 't ware ons aangesig vir hom verberg; hy was verag, en ons het hom nie geag nie. Waarlik, Hy het óns smarte gedra en óns smarte gedra, maar ons het Hom geag as geslaan, deur God geslaan en verdruk.
JESAJA 53:3-4 Die Boodskap (DB)
Mense het die rug vir hom gedraai. Hy het swaargekry. Hy het geweet wat lyding is. Mense het hom vermy. Ons het niks van hom gedink nie. Hy het al die siektes gehad wat ons eintlik moes gehad het. Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar het. Maar ons het gedink dit is God wat hom vir sy eie oortreding straf.
JESAJA 53:3-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie. Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister.