JESAJA 43:1-2
JESAJA 43:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Maar, Israeliete, nageslag van Jakob, nou sê die Here, Hy wat julle gemaak het: “Julle moenie bang wees nie, want Ek maak julle vry. Ek het julle geroep, Ek het julle name genoem, julle is Myne. Wanneer julle deur water moet gaan, dan is Ek by julle, riviere sal nie oor julle vloei nie. Wanneer julle deur vuur moet gaan, dan sal die vlamme julle nie brand nie.
JESAJA 43:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
JESAJA 43:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie
JESAJA 43:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Maar nou,” so sê die HERE, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
JESAJA 43:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos, Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne. As jy deur die water gaan, sal Ek by jou wees; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy nie verbrand word nie; en die vlam sal jou nie aansteek nie.
JESAJA 43:1-2 Die Boodskap (DB)
Die Here het jou gemaak, Jakob. Hy het jou ’n volk gemaak, Israel. Hy sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie. Die vlamme sal jou nie brand nie.
JESAJA 43:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar nou, Jakob, sê die HERE wat jou geskep het, Hy wat jou gevorm het, Israel: “Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie.