JESAJA 40:26-31
JESAJA 40:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk boontoe en sien! Wie het hierdie dinge geskep? Dit is Hy wat die hemelse leër een vir een uitlei, hulle almal op die naam roep. Deur die toedoen van Hom wat groot vermoëns en geweldige krag het, ontbreek nie een nie. Waarom sê jy dan, Jakob, en beweer jy, Israel: “My lewenspad is verborge vir die HERE, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie – ondeurgrondelik is sy insig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.
JESAJA 40:26-31 Bybel vir almal (ABA)
Kyk op. Wie het die sterre gemaak en wie het gesê hoeveel sterre daar moet wees? Wie het vir elke ster 'n naam gegee? Hulle is almal daar omdat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen.” Nageslag van Jakob, mense van Israel, hoekom sê julle die Here sien nie wat met julle gebeur nie? Hoekom sê julle dit maak nie vir God saak wanneer mense slegte dinge aan julle doen nie? Weet julle nie, het julle nie gehoor nie? Die Here is God vir altyd, Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nie moeg nie en Hy rus nie, en niemand kan weet hoeveel die Here weet nie. Die Here maak mense weer sterk wat moeg is. Hy laat mense dinge doen wanneer hulle dit self nie meer kan doen nie. Seuns sal moeg word, jongmanne sal val, maar die mense wat in die Here glo en wat op Hom vertrou, sal nuwe krag kry. Hulle sal vlieg soos arende, hulle sal hardloop en nie moeg word nie, hulle sal aanhou loop, en nie rus nie.
JESAJA 40:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
JESAJA 40:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
JESAJA 40:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Slaan julle oë op in die hoogte, en kyk, wie het hierdie dinge geskape, wat hulle leër volgens getal na vore bring; Hy noem hulle almal by name deur die grootheid van sy sterkte, omdat Hy sterk in krag is; nie een faal nie. Waarom sê jy, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is verborge vir die HERE, en my reg het by my God verbygegaan? Het jy nie geweet nie? Het jy nie gehoor dat die ewige God, die HERE, die Skepper van die eindes van die aarde, nie beswyk en nie moeg word nie? daar is geen ondersoek na sy verstand nie. Hy gee krag aan die vermoeide; en vir die wat geen krag het nie, vermeerder Hy krag. Selfs die jongmense sal moeg word en moeg word, en die jongmanne sal heeltemal val. Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle sal opstyg met vlerke soos arende; hulle sal hardloop en nie moeg word nie; en hulle sal wandel en nie moedeloos word nie.
JESAJA 40:26-31 Die Boodskap (DB)
Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie. Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie? Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie. Hy gee vir dié wat uitgeput is weer nuwe krag. Hy maak dié wat swak geword het, weer sterk. Selfs dié wat jonk is se krag kan ingee. Dié wat nog in die krag van hulle lewe is, kan inmekaarsak. Maar hulle wat op die Here vertrou, kry altyd weer krag. Hulle word soos ’n arend wat vlieg. Hulle hardloop en word nooit moeg nie. Hulle loop en raak nooit uitgeput nie.
JESAJA 40:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kyk op na die hemel. Wie het die sterre gemaak? Hy laat hulle soos ’n leërmag uitmarsjeer, die een ster na die ander, en roep elkeen by sy naam. Met sy groot krag en mag sorg Hy dat nie een wegraak of verdwaal nie. Israel, hoe kan jy dan sê: “Die HERE sien nie my moeilikheid raak nie”? Hoe kan jy beweer: “God weier om na my saak te luister”? Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie? Weet jy nie dat die HERE van altyd af God is nie? Hy is die Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg of gedaan nie en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie. Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die HERE stel, sal nuwe krag kry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.