JESAJA 38:9-22

JESAJA 38:9-22 Bybel vir almal (ABA)

Koning Hiskia van Juda was siek en hy het weer gesond geword. Hy het toe 'n lied geskryf. Hy het gesê: Ek het gedink ek sal nog jonk wees wanneer ek sterf, ek sal na die doderyk moet gaan voordat ek oud geword het. Ek het gedink ek sal die Here nie weer sien nie, hier waar die mense woon wat lewe. Ek het gedink ek sal nooit weer 'n mens sien nie, hier in die wêreld waar die mense woon. Die Here het my afgebreek en Hy het my gebêre soos 'n skaapwagter sy tent afslaan en bêre. Hy het my lewe afgesny en opgerol soos 'n stukkie garing. Hy gooi my heeltemal weg, elke dag en nag. Soos wanneer 'n leeu 'n bok vang en sy bene stukkend kou, so breek Hy my. Die Here gooi my heeltemal weg, elke dag en nag. Ek sug en kla soos 'n voëltjie, soos 'n duif. Ek het opgekyk na die hemel totdat my oë klein geword het. Here, dit gaan sleg met my, help my asseblief! Wat moet ek sê? Dit is die Here wat dit gedoen het. Moet ek my hele lewe lank swaarkry? Here, U laat mense lewe en U sal my saam met hulle laat lewe. U sal my weer sterk laat word en U sal my laat aanhou lewe. Nou weet ek, dit was vir my goed dat dit so sleg gegaan het met my. U is lief vir my, U het my nie laat sterf nie, ja, U het al my sondes vergewe. U het dit gedoen, want mense wat dood is, kan U nie loof en prys nie. Hulle kan nie aanhou hoop dat U sal doen wat U belowe het nie. Net iemand wat lewe, kan U prys, soos ek vandag doen. 'n Pa kan vir sy kinders vertel dat U doen wat U belowe het. Here, U red my. Ons sal in die tempel op ons liere speel so lank ons lewe. Jesaja het toe gesê hulle moet 'n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit, sodat die koning gesond kan word. Hiskia het gevra hoe hy sal weet wanneer hy weer na die tempel kan gaan.

JESAJA 38:9-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

GESKRIF van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het. Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare. Ek het gesê: Ek sal die HERE nie sien nie, die HERE, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie. My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent; ek het my lewe opgerol soos 'n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys. Bring ek myself tot bedaring tot die môre — soos 'n leeu só verbreek Hy al my beendere; van dag tot nag gee U my prys. Soos 'n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos 'n duif; my oë het dof gekyk na bo: HERE, ek is benoud, wees U my Borg! Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het? Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel. Here, by hierdie dinge leef 'n mens, en geheel en al is daarin die lewe van my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe! Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes agter u rug gewerp. Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie. Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend. Die HERE staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die HERE. En Jesaja het gesê: Laat hulle 'n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word. En Hiskía het gesê: Wat is die teken dat ek na die huis van die HERE sal opgaan?

JESAJA 38:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na die siekte en herstel van koning Hiskia van Juda het hy geskryf: Ek het gedink: in die fleur van my lewe sal ek sterf, op vroeë leeftyd sal ek aan die doderyk oorgegee word. Ek het gedink ek sal die Here nie meer sien nie, die Here in die land van die lewendes, ek sal geen mens meer sien nie, by dié wat op die aarde woon, nie meer wees nie. My woonplek is afgebreek, opgerol soos 'n skaapwagter se tent. My lewe is verby, afgebreek soos 'n weefdraad. U het aangehou om my te straf. Ek het die hele nag stilgebly, maar soos 'n leeu het U my bene verbreek, U het aangehou om my te straf. Ek het gekerm soos 'n voël wat kerm, ek het gekla soos 'n duif. My oë het moeg geword van opkyk na die hemel toe. Here, red my uit my ellende. Wat kan ek sê? Die Here het met my gepraat, Hy het gedoen wat Hy gesê het. Ek sal my hele lewe lank swaar loop oor wat ek moes verduur. Mense leef ten spyte hiervan, Here, en ek sal daarmee saam kan leef, maar maak my tog gesond, herstel my! Dit was vir my goed om soveel te ly; U het my lief, U het my uit die dood gered; U het al my sondes vergewe. In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof, so doen ek dit vandag. Vaders sal hulle kinders van u trou vertel. Here, U het my gered. Ons sal op ons liere speel al die dae van ons lewe, in die huis van die Here. Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword. Toe vra Hiskia: “Wat is die teken dat ek weer na die huis van die Here toe sal gaan?”

JESAJA 38:9-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Geskrif van Hiskia, die koning van Juda, toe hy siek was en van die siekte herstel het. Ek het by myself gedink, in die middel van my lewensdae moet ek deur die poorte van die •doderyk gaan. Ek is opgeroep vir die res van my jare. Ek het gedink: Ek sal die HERE nie sien nie – die HERE in die land van die lewendes. Ek sal nie meer na mense kyk saam met die bewoners van die wêreld nie. My woonplek is afgeslaan en van my weggeneem, soos die tent van 'n herder. Soos 'n wewer het ek my lewe opgerol – van die skering het Hy my losgeknip. Dag en nag laat U my dit ontgeld. Ek het om hulp geroep tot die oggend. Soos 'n leeu, breek Hy al my beendere. Dag en nag laat U my dit ontgeld. Soos 'n swaeltjie, soos 'n kraanvoël, so kerm ek; ek kla soos 'n duif. My oë word klein soos ek kyk na die hemel. My Heer, dit druk swaar op my; staan U vir my in! Wat kan ek sê? Hy het dit vir my gesê; Hy het self opgetree. Sal ek al my lewensjare moeisaam voortgaan, weens die bitterheid van my siel? My Heer, mense leef van wat U sê en doen; en dit geld vir almal in die lewensjare. My lewensasem – U moet my gesond maak, hou my aan die lewe! Kyk, tot vrede het my intense bitterheid gelei; U self het my lewe teruggehou van die kuil van vernietiging, ja, U het al my sondes die rug toegekeer. Want die doderyk sal U nie prys nie; die dood sal U nie loof nie. Dié wat na die put afdaal, verlaat hulle nie op u trou nie. Dit is die een wat leef, die een wat leef – hý prys U, soos ek vandag. 'n Vader kan u trou bekend maak aan sy kinders. Die HERE is daar tot my redding; ons sal my snaarinstrumente laat opklink by die huis van die HERE solank ons leef. Jesaja het gesê: “Hulle moet saamgeperste droë vye bring en aan die sweer smeer, sodat hy sal kan bly leef.” Hiskia het mos gevra: “Wat is die teken dat ek na die huis van die HERE sal opgaan?”

JESAJA 38:9-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die skrywe van Hiskia, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte genees is: Ek het in die afsny van my dae gesê: Ek sal na die poorte van die doderyk gaan: Ek is beroof van die oorblyfsel van my jare. Ek het gesê: Ek sal die HERE, ja, die HERE, in die land van die lewendes nie sien nie; My leeftyd het gewyk en soos 'n herdertent van my af weggeneem; soos 'n wewer het ek my lewe afgesny; deur pynsiekte sal hy my uitroei; van dag tot nag sal U aan my 'n einde maak. Ek het tot die môre toe gereken dat hy soos 'n leeu al my gebeente sal breek; van dag tot nag sal U 'n einde aan my maak. Soos 'n kraanvoël of 'n swaeltjie, so het ek geklets: ek het getreur soos 'n duif; my oë beswyk om na bo te kyk; vir my onderneem. Wat sal ek sê? hy het met my gespreek en self dit gedoen; ek sal my jare lank saggies gaan in die bitterheid van my siel. O HERE, van hierdie dinge lewe mense, en in al hierdie dinge is die lewe van my gees; so sal U my herstel en my laat lewe. Kyk, vir vrede het ek groot bitterheid gehad, maar U het dit in liefde vir my siel gered uit die put van verderf, want U het al my sondes agter u rug gewerp. Want die doderyk kan U nie loof nie, die dood kan U nie loof nie; die wat in die kuil neerdaal, kan nie op u waarheid hoop nie. Die lewendes, die lewendes, hy sal U loof, soos ek vandag doen: die vader aan die kinders sal u waarheid bekend maak. Die HERE was gereed om my te red; daarom sal ons my liedere vir die snaarinstrumente sing al die dae van ons lewe in die huis van die HERE. Want Jesaja het gesê: Laat hulle 'n klomp vye neem en dit as 'n pleister op die sweer lê, en hy sal gesond word. Hiskia het ook gesê: Wat is die teken dat ek sal opgaan na die huis van die HERE?

JESAJA 38:9-22 Die Boodskap (DB)

Nadat Hiskia gesond geword het, het hy hierdie gedig geskryf om te vertel wat met hom gebeur het: Ek het gedink dat ek in my beste jare sou doodgaan en begrawe sou word, dat ek nie kans sou kry om ’n vol lewe te leef nie. Ek het gedink dat ek nooit in my lewe hier op aarde weer die Here sou sien nie, dat ek maar my vriende sou moes groet. Dit het vir my gevoel of my lewe in ’n oogwink van my af weggeruk word, soos wanneer ’n rukwind skielik ’n tent uit die grond uitruk en dit wegwaai, asof my lewe kortgeknip is soos die oortollige wol van ’n weefraam wat afgeknip word nadat die mat klaar geweef is. My lewe was verby! Ek het probeer om nie te kla nie, maar die pyn het my oorweldig; dit het aangehou vreet aan my soos ’n leeu wat aanhou kou aan die bene van sy prooi. My lewe was verby! My stem het so dun geword dat ek soos ’n swaeltjie geklink het wat piep. Ek het so baie gebid om hulp dat my oë naderhand van moegheid toegeval het. Here, ek is bang, help my, asseblief. Maar wat kan ek sê? Die Here self het hierdie siekte gestuur, ek verstaan dit nie, maar ek weet dat ek vir die res van my lewe die letsels sal dra van wat ek beleef het. Ek het gedink ek moet my mense groet en afskeid neem. Maar, Here, U het my gesond gemaak en ek lewe weer! Dit was goed om hierdie krisis te beleef, want nou besef ek dat U my nie laat doodgaan het nie en al my sonde vergewe het. Iemand wat dood is, kan U tog nie loof en prys nie. Die dooies in hulle grafte hoop nie langer op u getrouheid nie. Dit is net mense wat nog leef wat U kan prys en dankie sê soos ek dit vandag doen. Elke geslag sal vir die volgende geslag van u getrouheid vertel. Here, U het my gesond gemaak. Ons sal vir die res van my lewe hierdie danklied in u tempel gaan sing terwyl ons op ons liere speel. Tydens Hiskia se siekte het Jesaja gesê hulle moet ’n pleister van gedroogde vye maak en dit op die koning se sweer sit. Hiskia wou weet watter bewys die Here hom sou gee dat hy weer gesond sou word en die Here in die tempel sou kon aanbid.

JESAJA 38:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ná koning Hiskia herstel en gesond geword het, het hy hierdie gedig oor sy ervaring geskryf: Ek het gesê: “Moet ek doodgaan in die fleur van my lewe? Moet my beste jare gesteel word?” Ek het gesê: “Ek sal nooit weer die HERE God sien in die land van die lewendes nie. Ek sal nooit weer my vriende sien wat in hierdie wêreld leef nie. My lewe is weggeblaas soos ’n herder se tent in ’n storm. Dis kortgeknip soos wanneer ’n wewer ’n stuk materiaal afsny. Skielik het U my lewe laat verbygaan. Heelnag lank het ek geduldig op U gewag. Maar ek is uitmekaargeskeur soos deur leeus. Skielik het U my lewe laat verbygaan. Ek was deurmekaar en het soos ’n voël geklink, soos ’n duif wat kla. My oë het moeg geword soos ek opgekyk het na die hemel toe vir hulp. Ek is in die moeilikheid, Here. Help my!” Maar wat kon ek sê? Die Here het met my gepraat. Hy het dit alles gedoen. Nou sal ek my hele lewe lank nederig wees oor wat ek moes verduur het. Here, u dissipline is goed, want dit lei tot lewe en gesondheid. U het my gesondheid teruggegee en my toegelaat om te lewe! Ja, dit was vir my goed om al hierdie angs te ervaar, want U het my gered van die dood. U het al my sondes vergewe. Want in die graf kan niemand U prys nie. Dooies kan nie u lof verkondig nie. Dié wat gesterf het, kan nie hoop op u trou nie. Net die lewendes kan U loof, soos ek vandag doen. Vaders moet hulle kinders van u getrouheid vertel. Die HERE is my redder! Met musiekinstrumente sal ons elke dag van ons lewe u lof besing in die tempel van die HERE. Jesaja het toe gesê: “Bring ’n vyekoek, sit dit op die sweer, en hy sal gesond word.” Hiskia het gevra: “Watter teken sal bewys dat ek weer na die tempel van die HERE toe sal gaan?”