JESAJA 33:7-9
JESAJA 33:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk, die mense van Jerusalem roep om hulp op straat, die boodskappers van vrede huil bitterlik. Gebaande weë was verlate, niemand het meer op die pad verbygegaan nie. Hy het verdrae verbreek, hy het stede geminag, hy het mense nie geag nie. Dit het droog geword, die land was uitgedor; die Libanon was verbluf, het swart geword. Saron het soos die Araba geword; Basan en Karmel het hulle blare verloor.
JESAJA 33:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jou ambassadeurs huil van teleurstelling, want Assirië het jou versoek vir vrede summier verwerp. Jou weë is verlate. Niemand reis op die paaie nie. Assirië het hulle ooreenkoms met jou verbreek en gee niks om vir die beloftes wat hulle voor getuies gemaak het nie. Hulle het respek vir niemand nie. Die hele land huil en vergaan. Die Libanonberge verwelk. Die Saronvlakte is soos ’n woestyn. Die bome in Basan en Karmel staan kaal.
JESAJA 33:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Luister hoe roep die mense van Jerusalem. Hulle vra dat die Here hulle moet kom help. Luister hoe huil die boodskappers wat moet sê daar is vrede. Niemand loop op die paaie nie, niemand kom verby nie. Die vyand het sy ooreenkoms met ons gebreek. Hulle het ons stede maklik oorwin, ons mense kon hulle nie keer nie. Die land treur, alles word droog, die Libanon-berg lyk soos 'n mens wat bleek is, die plante op die berg word droog. Die Saron-vlakte is soos die woestyn. Die bome in die land Basan en op die Karmel-berg se blare val af.
JESAJA 33:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik. Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie. Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.
JESAJA 33:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die inwoners van Jerusalem roep om hulp daarbuite, dié wat die boodskap bring dat daar vrede is, huil onbedaarlik. Die paaie lê verlate, niemand kom met die pad verby nie. Die verdrag is verbreek, stede is met minagting behandel, geen mens is ontsien nie. Die land treur, hy is verdor; die Libanon het verwelk, hy is vol insekte; die Saron lyk soos 'n woestynvlakte; op Basan en Karmel staan die bome kaal.
JESAJA 33:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, hulle dapperes roep daarbuite; die gesante van vrede sal bitterlik ween. Die grootpaaie lê puin, die wandelende man hou op; hy het die verbond verbreek, die stede verag, hy sien niemand aan nie. Die aarde treur en kwyn, die Líbanon staan in die skande en word uitgekap; Saron is soos 'n woestyn; en Basan en Karmel skud hulle vrugte af.
JESAJA 33:7-9 Die Boodskap (DB)
Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie. Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie. Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan.