JESAJA 27:1-13
JESAJA 27:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie dag sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is. Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd; Ek, die Here, sorg daarvoor: Ek lei dit gereeld nat, dag en nag staan Ek wag daarby sodat niemand dit kan beskadig nie. Ek is nie kwaad vir my wingerd nie. Niemand sal dit waag om dorings en dissels daarin te plant nie. Maar soos in 'n oorlog sal Ek my wingerd plattrap en heeltemal verbrand as hy nie in my stad kom skuil nie. Hy, Israel, moet met My kom vrede maak, hy moet vrede met My kom maak! In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal groei en lote maak. Die aarde sal vol word van hulle vrugte. Die Here het sy volk nie geslaan soos Hy hulle teëstanders geslaan het nie. Hy het hulle ook nie doodgemaak, soos Hy hulle moordenaars doodgemaak het nie. Die Here het sy volk gestraf deur hulle te verjaag en weg te dryf. Met 'n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe. As Jakob al sy altaarklippe fyn stamp soos 'n mens 'n kalkklip fyn stamp, as hy nie gewyde pale en wierookaltare vir sy afgode oprig nie, sal daar versoening wees vir sy oortreding, sal sy sonde van hom af weggeneem word. Die versterkte stad lê verwoes: 'n plek sonder inwoners, verlate soos die woestyn. Dáár wei net kalwers, en hulle vreet wat daar groei, en dáár gaan hulle lê. Die droë takke word afgebreek, vrouens kom en maak vuur daarmee. Israel is 'n volk sonder begrip van wat Ek doen. Daarom sal sy Maker hom nie langer liefhê nie en sal sy Skepper hom nie genadig wees nie. Daardie dag sal die Here sy oes inbring van die Eufraat af tot by die grens van Egipte, en julle, Israeliete, sal die koringare wees wat één-één opgetel word. Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word. Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was, ook dié wat na Egipte toe verjaag is. Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.
JESAJA 27:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Daardie dag sal die Here die vinnige slang doodmaak. Hy sal die Leviatan doodmaak, die slang wat rondswem, die monster in die see. Die Here sal sy skerp, groot, sterk swaard vat en Hy sal die slang doodkap. Daardie dag moet julle sing oor die mooi wingerd van die Here, julle moet sing oor sy volk. Ek, die Here, pas my wingerd op, Ek gee die wingerd altyd water. Ek pas die wingerd elke dag en nag op, sodat niemand dit kan verwoes nie. Ek is nie meer kwaad nie, maar wanneer Ek dorings en bossies in my wingerd kry, dan trap Ek self die wingerd plat en Ek steek dit aan die brand, en ook die dorings en bossies. As my volk nie wil hê Ek moet dit doen nie, dan moet hulle vrede maak met My. Hulle moet vrede maak met My en hulle moet in my tempel kom vra dat Ek hulle moet beskerm. Die tyd sal later kom wanneer die mense van Israel soos bome sal wees wat wortels het en wat blomme en vrugte dra. Die vrugte sal baie wees, die aarde sal vol vrugte wees. Die Here het die mense van Israel gestraf, maar Hy het hulle vyande nog meer gestraf. Hy het party van die mense van Israel doodgemaak, maar Hy het nog meer van hulle moordenaars doodgemaak. Die Here straf die mense van Israel op 'n ander manier, Hy het hulle weggestuur uit hulle land. Toe die warm oostewind waai, het die Here hulle weggewaai met 'n sterk wind. Daarom, as die mense van Israel nou wil hê dat die Here hulle sonde moet vergewe, dan moet hulle al die altare stukkend slaan. Hulle moet dit fynslaan soos wanneer 'n mens kalk-klip fynstamp. Daar moenie meer gewyde pale en wierook-altare wees nie. Die mense van Israel moet die altare stukkend slaan, want die stad is nou alleen, die stad wat die sterk mure het. Daar woon nie meer mense nie, dit is so leeg soos die woestyn. Daar wei beeste wat die bossies vreet. Die bome se takke is droog, vroue breek dit af en hulle maak vuur. Dit het gebeur met die mense van Israel. Hulle wou nie lewe soos die Here wou hê nie, daarom was hulle Maker nie jammer vir hulle nie. Hy is nie meer goed vir hulle nie. Maar, mense van Israel, eendag sal die Here julle bymekaarmaak van die Eufraat-rivier tot by Egipte-spruit. Hy sal julle optel soos 'n mens koring-are optel, Hy sal een na die ander optel, nie almal saam nie. Daardie dag sal iemand die groot ramshoring blaas. Al die mense van Israel wat oral in Assirië en Egipte is, sal kom en hulle sal voor die Here buig op die gewyde berg in Jerusalem.
JESAJA 27:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is. In dié dag sal daar wees 'n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan! Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie. Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand. Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak. In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak. Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met 'n slagting soos die wat deur Hom gedood is? Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind. Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie. Want die versterkte stad is eensaam, 'n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af. As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is 'n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie. En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel! En in dié dag sal daar met 'n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem.
JESAJA 27:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op daardie dag sal die HERE met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak. Op daardie dag sal daar 'n pragtige wingerd wees. “Sing daaroor! Ek, die HERE, hou daaroor wag, gee dit telkens water. Sodat niks dit skade aandoen nie, hou Ek dag en nag daaroor wag. Ek is nie meer woedend nie. As Ek doringstruike en onkruid sou vind, sou Ek 'n stryd daarmee aanknoop; Ek sou dit alles saam aan die brand steek. Of anders sou hulle moes vasgryp aan die toevlug wat Ek bied, met My vrede maak, ja, vrede met My maak.” In die tye wat kom, sal Jakob wortel skiet; Israel sal in bloei staan en uitspruit. Die oppervlakte van die aarde sal bedek wees met die opbrengs. Het die HERE Israel geslaan soos Hy dié geslaan het wat vir Israel geslaan het? Of is Israel om die lewe gebring op dieselfde manier as dié wat deur die HERE om die lewe gebring is? Deur haar prys te gee, haar weg te stuur, het U telkens met haar geworstel. Op die dag van die oostewind, het die HERE haar met sy sterk wind weggedryf. Daarom, op hierdie manier word versoening gedoen vir die sondeskuld van Jakob; en dít sal die uitkoms wees van die wegneem van sy sonde: Wanneer hy al die altaarklippe laat word soos kalkklippe wat stukkend geslaan is, sal die asjeras en wierookaltare nie langer bly staan nie. Ja, 'n stad wat versterk was, lê eensaam, 'n weiveld wat versaak en agtergelaat is, soos 'n woestyn. Kalwers wei daar, en daar gaan hulle lê; hulle verwoes haar lote. Wanneer haar takke verdroog het, sal hulle afgebreek word; vroue sal kom en dit aan die brand steek. Ja, dit is nie 'n verstandige volk nie; daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie, sal die Een wat hulle gevorm het, geen genade aan hulle betoon nie. Op daardie dag sal die HERE are uitslaan, vanaf die stroom van die Rivier tot by die Spruit van Egipte. Julle, Israeliete, sal soos are opgetel word, een vir een. Op daardie dag sal daar op 'n groot •ramshoring geblaas word; en hulle wat verlore is in die land Assirië, en verdryf is na Egipteland, sal kom. Hulle sal voor die HERE in aanbidding buig op die heilige berg in Jerusalem.
JESAJA 27:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In dié dag sal die HERE besoeking doen met sy swaar en groot en sterk swaard oor die Leviatan, die deurdringende slang, die Leviatan die krom slang; en hy sal die draak wat in die see is, doodmaak. Sing in dié dag vir haar: 'n Wingerd van rooiwyn. Ek, die HERE, bewaar dit; Ek sal dit elke oomblik natmaak; dat niemand dit skade doen nie, Ek sal dit nag en dag bewaar. Toorn is nie in my nie: wie sou die distels en dorings teen my opstel in die geveg? Ek sou deur hulle gaan, ek sou hulle saam verbrand. Of laat hy my krag aangryp, dat hy vrede met my kan maak; en hy sal vrede met my maak. Hy sal die wat uit Jakob kom, laat wortel skiet: Israel sal bloei en uitspruit en die aangesig van die wêreld met vrugte vul. Het hy hom geslaan soos hy die wat hom geslaan het? of word hy gedood volgens die slagting van die wat deur hom gedood is? Met maat, as dit uitskiet, sal jy daarmee twis; hy keer sy harde wind op die dag van die oostewind. Daardeur sal die ongeregtigheid van Jakob gereinig word; en dit is al die vrug om sy sonde weg te neem; as hy al die klippe van die altaar maak soos kalkstene wat stukkend geslaan is, sal die boomstamme en beelde nie opstaan nie. Maar die beskutte stad sal 'n wildernis wees en die woonplek verlate en agtergelaat word soos 'n woestyn; daar sal die kalf wei, en daar sal hy gaan lê en sy takke verteer. As sy takke verdroog is, sal hulle afgebreek word; die vroue kom en steek hulle aan die brand; want dit is 'n volk sonder verstand; daarom sal Hy wat hulle gemaak het, hulle nie ontferm nie, en Hy wat hulle gevorm het, betoon hulle geen guns nie. En in dié dag sal die HERE van die kanaal van die Nyl af slaan tot by die spruit van Egipte, en julle sal een vir een versamel word, o kinders van Israel. En in dié dag sal die groot basuin geblaas word, en hulle sal kom wat gereed was om te vergaan in die land Assirië en die wat verdryf was in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid in die heilige berg by Jerusalem op.
JESAJA 27:1-13 Die Boodskap (DB)
Op daardie dag sal die Here sy gevaarlike, skerp swaard gebruik om die vyand te straf, die kronkelende waterslang wat in die diepsee woon, die seemonster. Dan sal Hy hierdie lied oor Israel sing: Sing van Israel, my pragtige wingerd! Ek, die Here, sorg self vir my wingerd. Ek lei dit gereeld nat sodat die lote nie verlep nie. Ek hou dag en nag daar wag sodat niemand dit kan beskadig nie. Ek is nie meer kwaad vir my wingerd nie. As my volk se vyande kom en soos dorings en onkruid probeer om my wingerd toe te groei, sal Ek hulle verbrand. Slegs as hulle met My vrede maak en by My beskerming soek, sal hulle gespaar word. In die toekoms sal Jakob se nageslag wortelskiet soos ’n boom. Israel sal bloeisels maak en vrugte dra wat vir die hele wêreld voordeel sal inhou. Het die Here Israel ooit so swaar gestraf soos Hy haar vyande gestraf het? Nee, want haar vyande het Hy uitgeroei, maar vir Israel het Hy die straf baie ligter gemaak. Hy het hulle vir ’n ruk in ballingskap laat gaan, byna asof hulle deur ’n wind na die ooste toe gewaai is. Deur hierdie lyding sal daar versoening kom vir Israel se sonde. Maar eers as Israel al hulle afgodsaltare afbreek en die klippe fynmaal tot stof en daar geen wierookaltare of vroulike afgodspale oorbly nie, sal al hulle sonde vergewe word. Die versterkte stede lê verlate en stil, die huise staan leeg en die strate is toegegroei met gras. Daar sal vee in strate wei en aan die takkies en grassies vreet en in die skaduwee van die struike lê en herkou. Die takke verdroog aan die bome en die vroue breek dit af vir vuurmaakhout. Israel verstaan niks; daarom het hulle nie teruggekeer na die Here toe nie. Dit is waarom God, wat hulle gemaak het, hulle nie meer jammer kry of Hom oor hulle ontferm nie. Maar daar kom ’n tyd waarop die Here die Israeliete weer bymekaar sal maak, van die Eufraat af tot by die stroom wat die grens met Egipte vorm. Hy sal hulle een vir een gaan haal soos wanneer ’n mens in die oestyd die koring en die kaf van mekaar skei en dan die koringkorrels sorgvuldig bymekaarmaak. Op daardie dag sal daar op ’n groot trompet geblaas word. Dan sal almal wat na Egipte toe verjaag is en almal wat in Assirië verlore geraak het, weer terugkom na hulle eie land toe. Dan sal hulle die Here die Almagtige weer op sy heilige berg in Jerusalem aanbid.
JESAJA 27:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daardie dag sal die HERE met sy groot, skerp swaard die Leviatan straf. Die Leviatan, kronkelende draak van die see, sal Hy doodmaak. “Daardie dag sal julle sing van die goeie wingerd. Ek, die HERE, sal dit versorg en dit gereeld natlei. Dag en nag hou Ek wag daaroor sodat dit nie beskadig word nie. My woede teen Israel sal bedaar. As Ek dorings en dissels daarin kry, sal Ek dit verbrand. Hulle sal net gered word as hulle aan My oorgee en vra vir vrede en beskerming.” Die tyd kom dat my volk sal wortelskiet. Israel sal bot en blom en die hele aarde met vrugte vul. Het die HERE Israel gestraf soos Hy haar vyande gestraf het? Nee, Hy het haar vyande verwoes. Maar vir Israel het Hy net uit hulle land verban met ’n storm wat hulle na die ooste weggewaai het. So sal Israel se sondes versoen word. Die gevolg sal wees dat al die heidense altare tot stof verpletter word, en daar nie meer ’n Asjerapaal of wierookaltaar sal bly staan nie. Israel se versterkte stede sal stil en leeg wees, die huise sal leeg staan, soos in ’n woestyn. Vee sal daar wei. Hulle sal die takke kaalvreet. Die mense is soos dooie takke van ’n boom wat afgebreek en gebruik word vir vuur onder die kookpotte. Israel is ’n onnosele klomp mense. Daarom sal die Een wat hulle gemaak het, geen genade betoon nie. Hulle Skepper sal hulle nie jammer kry nie. Tog sal die tyd kom wanneer die HERE die Israeliete een vir een bymekaar sal maak soos graan, met die hand uitgesoek. Hy sal julle na sy dorsvloer bring, van die Eufraat in die ooste tot by die stroom van Egipte in die weste. Daardie dag sal die groot trompet geblaas word. Baie wat besig was om dood te gaan in ballingskap in Assirië en Egipte, sal terugkom Jerusalem toe om die HERE te aanbid op die heilige berg.