JESAJA 25:6-9
JESAJA 25:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wat oor alles regeer, sal op hierdie berg 'n groot fees hou. Daar sal die lekkerste kos en die oudste wyn wees, vleis met murg in die bene, en skoon wyn. Die Here sal op hierdie berg die lap stukkend skeur, die lap wat al die volke toegemaak het. Hy sal die dood vir altyd wegvat, ja, die Here sal die trane afvee van al die mense se gesigte. Niemand op die hele aarde sal aanhou om sy volk te spot nie. Die Here het dit gesê. Daardie dag sal die mense sê: “Kyk, ons God is hier. Ons het geglo Hy sal ons red, en Hy het dit gedoen. Hy is die Here, ons glo in Hom. Ons wil juig en vrolik wees, want Hy het ons gered.
JESAJA 25:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.
JESAJA 25:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige 'n feesmaal gereed maak vir al die volke, 'n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was. Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê. Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.
JESAJA 25:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke 'n feesmaal van ryk geregte voorberei, 'n feesmaal met beleë wyn, met ryk geregte vol murg, met gesuiwerde, beleë wyn. Op hierdie berg sal Hy die sluier verswelg, die sluier oor al die volke, die geweefde bedekking oor al die nasies. Hy sal die dood vir ewig verswelg; my Heer, die HERE, sal die trane van alle gesigte afvee. Die bespotting van sy volk sal Hy van die hele aarde af verwyder. Ja, die HERE het gespreek. Hulle sal op daardie dag sê: “Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die HERE op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding. ”
JESAJA 25:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op hierdie berg sal die HERE van die leërskare vir al die volke 'n maaltyd maak van vet, 'n maaltyd van wyn op die afsaksel, van vet vol murg, van goed gelouterde wyn. En hy sal op hierdie berg die voorhangsel vernietig wat oor al die volke gegooi is, en die sluier wat oor al die nasies uitgesprei is. Hy sal die dood verslind in oorwinning; en die HERE HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en die dreiging van sy volk sal Hy van die hele aarde wegneem, want die HERE het dit gespreek. En daar sal in dié dag gesê word: Kyk, dit is onse God; ons het Hom gewag, en Hy sal ons verlos. Dit is die HERE; ons het op hom gewag, ons sal bly wees en juig oor sy verlossing.
JESAJA 25:6-9 Die Boodskap (DB)
Op die berg Sion gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal voorberei vir al die volke van die wêreld. Daar sal ’n oorvloed heerlike kos en die beste wyn wees. Hier op die berg sal die Here die wolk van onheil wat oor die volke gehang het, wegvat asook die doek wat hulle oor hulle gesigte gedra het as teken van hulle rou en hartseer. Hy sal die dood vir ewig vernietig en die trane afdroog. Die Here sal ’n einde maak aan die vernedering wat sy volk oor die wêreld moes verduur. Die Here het dit gesê. Wanneer dit gebeur, sal almal sê: Kyk, so tree ons God op! Ons het op Hom vertrou en Hy het ons verlos. Dit is die Here op wie ons vertrou het. Kom ons jubel en juig omdat Hy ons gered het.
JESAJA 25:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In Jerusalem gaan die HERE die Almagtige, ’n heerlike fees voorberei vir almal oor die hele wêreld. Dit gaan ’n fees wees met goeie kos, die beste wyn en die beste vleis. Daardie dag sal Hy die wolk verwyder, die skaduwee van die dood oor die nasies. Hy sal die dood vir altyd vernietig! Die oppermagtige HERE sal al die trane afvee. Hy sal alle beledigings verwyder van sy land en sy mense. Die HERE het dit gesê. Daardie dag sal die mense uitroep: “Dit is ons God. Ons het op Hom vertrou, en Hy het ons gered. Dit is die HERE op wie ons vertrou het. Laat ons bly wees omdat Hy ons gered het!”