JESAJA 11:1-11

JESAJA 11:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Min mense het oorgebly van die nageslag van Isai. Hulle is soos 'n boom se stam wat oorgebly het in die grond wanneer iemand die boom afgekap het. Maar uit daardie boomstam sal 'n takkie groei en dit sal vrugte dra. 'n Kind sal gebore word en hy sal koning word. Die Gees van die Here sal by hom wees. Daarom sal hy wysheid en verstand hê, hy sal weet wat om te doen en hy sal dit kan doen, hy sal naby die Here wees en hy sal Hom dien. Hy sal bly wees omdat hy die Here kan dien. Hy sal 'n regter wees wat dieselfde doen aan almal, hy sal nie luister na skinderstories nie. Wanneer die arm mense in die poort kom, dan sal die koning reg doen aan hulle. Hy sal reg doen aan die mense wat nie belangrik is nie. Hy sal regeer oor almal in die land, en wanneer mense verkeerd doen, dan sal hy sê hulle moet sterf. Hy sal 'n koning wees wat regverdig sal regeer en hy sal eerlik wees. Die lam en die wolf sal saam woon. Die luiperd sal by die bokkie lê. Die leeu en die kalf en die bees sal saam wees, en 'n seuntjie sal vir hulle sorg. Die koei en die beer sal saam gras vreet, hulle kleintjies sal bymekaar lê, en die leeu sal gras vreet soos 'n koei. Klein kindertjies sal by slange se gate speel en hulle sal aan die slange vat. Die Here sê: “Op my gewyde berg sal niemand verkeerd doen nie, niemand sal iets breek nie.” Die see is vol water, en so sal die land ook vol mense wees wat naby My wil wees. Daardie dag sal die koning van die nageslag van Isai 'n teken wees vir die volke dat hulle moet kom. Hulle sal vir die koning vra wat hulle moet doen, en sy woonplek sal baie mooi wees. Daardie dag sal die Here weer sy hand uitsteek om sy mense vry te maak, sy mense wat oorgebly het. Hulle sal kom uit die land Assirië, uit die land Egipte, uit die land Kus, uit die land Elam, uit die land Sinar, uit die land Hamat en uit die lande wat langs die see is.

JESAJA 11:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het 'n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van 'n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as 'n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees. En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see

JESAJA 11:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. Hy sal regverdig en betroubaar regeer. Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is. In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai 'n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet. In dié tyd sal die Here 'n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die kuslande rondom die Middellandse See.

JESAJA 11:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar 'n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die gees van die HERE sal op hom rus – die gees van wysheid en insig, die gees van raad en sterkte, die gees van kennis en ontsag vir die HERE. Hy sal genot put uit ontsag vir die HERE. Hy sal nie 'n beslissing vel volgens wat sy oë sien nie, en nie teregwys volgens wat sy ore hoor nie. Hy sal regverdig beslis oor die armes, en die magteloses van die land billik teregwys. Hy sal die land slaan met die stok van sy mond, en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. Geregtigheid sal 'n gordel om sy middel wees, en betroubaarheid 'n gordel om sy heupe. 'n Wolf sal by 'n lam vertoef, en 'n luiperd sal by 'n boklam gaan lê, 'n kalf, 'n jong leeu en vetgemaakte vee bymekaar – 'n klein seuntjie sal hulle lei. 'n Koei en 'n beerwyfie sal saam wei, en hulle kleintjies sal saam gaan lê. 'n Leeu sal soos 'n bees gras eet. 'n Suigeling sal speel by die gat van 'n horingslang, en 'n kleuter sal sy hand uitsteek na die nes van 'n kobra. Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie; want die land sal vol wees van die kennis van die HERE, soos water die see bedek. Op daardie dag sal die wortel van Isai as banier vir die volke bly staan – die nasies sal daarna vra, en sy rusplek sal luisterryk wees. Op daardie dag sal my Heer weer, vir 'n tweede keer, sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk te koop – hulle wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die eilande van die see.

JESAJA 11:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar sal 'n staf uitkom uit die stam van Isai, en 'n loot sal uit sy wortels uitspruit; En die Gees van die HERE sal op hom rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE; en hy sal hom 'n vinnige verstand maak in die vrees van die HERE; en hy sal nie oordeel na die aanskoue van sy oë nie, en nie teregwys na die aanhoor van sy ore nie. Maar met geregtigheid sal Hy die armes oordeel en die sagmoediges van die aarde met billikheid bestraf; en Hy sal die aarde slaan met die staf van sy mond, en met die asem van sy lippe sal Hy die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene wees, en getrouheid die gordel van sy niere. Ook sal die wolf by die lam woon, en die luiperd sal by die bokkie gaan lê; en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte diere saam; en 'n kindjie sal hulle lei. En die koei en die beer sal wei; hulle kleintjies sal saam gaan lê, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees. En die suigling sal in die gat van die adder speel, en die gespeende kind moet sy hand op die kuil lê. Hulle sal geen kwaad aanrig of verderf op my hele heilige berg nie, want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die see oordek. En in dié dag sal daar 'n wortel van Isai wees, wat as 'n vaandel van die volk sal staan; daarna sal die heidene soek, en sy rus sal heerlik wees. En dit sal gebeur in dié dag dat die HERE sy hand vir die tweede keer weer sal uitsteek om die oorblyfsel van sy volk wat oorbly, uit Assirië en Egipte en uit Patros en uit Kus en van Elam en van Sinear en van Hamat en van die eilande van die see af.

JESAJA 11:1-11 Die Boodskap (DB)

Ten spyte daarvan dat die nageslag van Dawid getref word soos ’n boom wat afgekap word, sal daar tog weer uit die stomp van Isai wat oorbly, ’n takkie begin groei. Uit die ou wortel wat nog in die grond was, sal ’n nuwe tak uitkom wat sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal in hom wees en sal hom help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem. Die Gees sal hom toerus om ’n vaardige koning te wees wat weet wat hy wil doen. Hy sal onder leiding van die Gees in ’n intieme verhouding met die Here leef en Hom met eerbied dien. Dit sal vir hom ’n vreugde wees om die Here te dien. Hy sal nie mense op hulle baadjie takseer of toelaat dat skinderpraatjies hom mislei as hy ’n besluit moet neem nie. Hy sal die armes se hofsake regverdig behartig en die behoeftiges se regte beskerm. Maar teen die goddeloses sal hy genadeloos optree en hulle uitroei. Hy sal sy mense regverdig behandel en met integriteit optree. In daardie tyd sal ’n wolf en ’n lammetjie saam bly; die luiperd sal tussen die boklammers lê en slaap. Kalwers en vetgevoerde beeste sal loop en wei terwyl die leeus tussen hulle rondloop, en klein kindertjies sal hulle oppas. Koeie en bere sal saam wei terwyl hulle kleintjies by mekaar lê. In dié tyd sal leeus net soos beeste van gras leef. Babas sal by die gate van giftige slange kan speel en al sou ’n klein kindjie uit nuuskierigheid sy hand in die gat steek waarin daar ’n giftige slang is, sal hy niks oorkom nie. In God se nuwe wêreld sal daar nie meer misdaad en korrupsie wees nie, want net so vol as wat die see met water is, so vol sal die aarde wees met kennis van die Here se wil. In daardie tyd sal die nuwe koning uit die geslag van Dawid ’n teken wees vir al die nasies. Hy sal aansien onder die nasies hê en hulle sal met respek van hom praat. In dié tyd sal die Here weer sy mag gebruik om die mense wat van sy volk oorgebly het, terug te bring uit die lande waar hulle was: Assirië, Egipte, Patmos, Soedan, Elam, Babilonië, Hamat en van die kusstreke af en die eilande in die Middellandse See.

JESAJA 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Uit die stomp van Dawid se familie sal ’n takkie groei, ’n tak wat vrugte sal dra. Die Gees van die HERE sal op hom rus, die Gees wat wysheid en insig bring, die Gees wat raad en krag bring, die Gees wat kennis en eerbied vir die HERE bring. Hy sal sy vreugde daarin vind om die HERE te gehoorsaam. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn of op vals getuienis of hoorsê nie. Hy sal die armes en verdruktes beskerm. Teen die bose mense sal hy optree en met die asem van sy mond hulle om die lewe bring. Hy sal regverdigheid aantrek, en ook waarheid. Daardie dag sal die wolf die gas van die lam wees. Die luiperd en die bokkie sal langs mekaar lê. Kalwers en vetgemaakte beeste sal veilig by leeus wees, en ’n kindjie sal vir almal sorg. Vee sal tussen bere wei, hulle kleintjies sal by mekaar lê en leeus sal gras vreet soos beeste. Babas sal veilig tussen giftige slange speel. ’n Kindjie sal sy hand uitsteek na giftige slange en niks oorkom. Niks of niemand sal op my heilige berg verwoesting of kwaad aanrig nie. Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die HERE ken. Daardie dag sal die erfgenaam van Dawid se troon ’n vlag opsteek wat vir die hele wêreld redding sal bring. Die nasies sal na hom toe kom, want die land waar hy bly, sal ’n heerlike plek wees. Op daardie dag sal die Here vir die tweede keer ’n oorblyfsel van sy volk terugbring, almal wat oorgebly het uit Assirië, Egipte, Patros, Etiopië, Elam, Babilonië, Hamat en die kuslande.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid