HOSEA 7:13-16
HOSEA 7:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hoe tragies is dit vir hulle wat van My af wegvlug! Hulle sal omkom, want hulle het teen My in opstand gekom. Ek wou hulle bevry, maar hulle het vir My leuens vertel. Hulle roep nie na My met ’n opregte hart nie. In plaas daarvan lê hulle op hulle beddens en kerm. Hulle sny hulleself stukkend voor hulle afgode as hulle bid vir gesaaides en wingerde. Hulle het teen My gerebelleer. “Ek het hulle opgelei en hulle arms sterk gemaak. Tog beplan hulle bose dinge teen My. Hulle soek hulp, maar nie by die Allerhoogste nie. Hulle is soos ’n slap boog. Hulle leiers sal deur die swaard doodgemaak word weens hulle astrante woorde teenoor My. Dan sal Egipte vir hulle lag.”
HOSEA 7:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Dit sal sleg gaan met hulle, want hulle het weggevlug van My. Hulle sal baie swaar kry, want hulle wou nie luister na My nie. Ek wou hulle red, maar hulle het gelieg vir My. “Hulle het gebid en gevra dat Ek hulle moet help, maar hulle was vals. Hulle lê op die bed en huil en hulle sny hulleself met messe, want hulle dink Baäl sal vir hulle koring en wyn gee. Hulle dien My nie meer nie. Dit is Ék wat hulle grootgemaak het en wat vir hulle geleer het. Ek het hulle sterk laat word, maar hulle maak slegte planne teen My. Hulle gaan na gode toe wat nie kan help nie. Hulle is soos 'n boog wat breek wanneer jy 'n pyl wil skiet. Hulle amptenare sal sterf in oorlog, want hulle het hulleself vervloek. Die Egiptenaars sal vir hulle lag.”
HOSEA 7:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek. Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde; ter wille van koring en mos kerwe hulle hulself stukkend; hulle is opstandig teen My. Alhoewel Ek hulle arms geoefen, versterk het, het hulle kwaad teen My beraam. Hulle keer terug, maar nie na bo nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal val deur die swaard weens die skeldwoorde van hulle tong. Dit is hulle bespotting in Egipteland.
HOSEA 7:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ellende wag vir hulle omdat hulle van My af wegvlug! Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is! Ek was bereid om hulle te red, maar hulle lieg vir My. Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie, want hulle lê op hulle beddens en kerm en sny hulleself stukkend ter wille van koring en wyn. Hulle verset hulle teen My alhoewel Ek hulle gewaarsku het. Toe Ek hulle gehelp het, het hulle opstand beplan teen My en hulp gesoek by wat nie kon help nie. Hulle het so nutteloos geword soos 'n slap boog. Hulle leiers sal met die swaard afgemaai word, hulle sal die slagoffers word van die vervloeking wat hulle oor hulleself uitgespreek het as hulle aan my verbond ongehoorsaam sou wees. En Egipte sal daaroor lag.
HOSEA 7:13-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wee hulle, want hulle vlug weg van My af. Verwoesting wag op hulle, want hulle het teen My oortree. Ek wou hulle verlos, maar hulle het leuens oor My vertel. Hulle roep nie uit die hart na My om hulp nie; want hulle kerm op hulle lêplekke; oor koring en •nuwe wyn sny hulle hulleself stukkend – so draai hulle teen My. Ek is die Een wat hulle geleer het. Ek het hulle arms sterk gemaak, maar teen My beplan hulle kwaad. Hulle keer terug na wat nutteloos is; hulle het soos 'n slap boog geword. Hulle leiers sal deur die swaard val oor die vervloeking wat hulle uitgespreek het. Dit sal hulle bespotting wees in Egipteland.
HOSEA 7:13-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wee hulle! want hulle het van My weggevlug, vernietiging oor hulle! omdat hulle teen My oortree het; al het Ek hulle verlos, tog het hulle leuens teen My gespreek. En hulle het My nie met hul hart aangeroep as hulle op hul beddens gehuil het nie; Al het ek hulle arms gebind en versterk, tog dink hulle onheil teen my. Hulle keer terug, maar nie na die Allerhoogste nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal deur die swaard val vanweë die woede van hulle tong; dit sal hulle bespotting wees in Egipteland.
HOSEA 7:13-16 Die Boodskap (DB)
Daar wag moeilikheid vir hulle, want hulle het van My af probeer wegvlieg. Hulle gaan vernietig word, want hulle het teen my gerebelleer. “Ek wou hulle graag vrygemaak het, maar hulle het My om die bos probeer lei. Wanneer hulle tot My bid, bedoel hulle dit nie regtig nie. Eintlik beledig hulle My wanneer hulle so vir My bid. Hulle lê en kerm op die bed net soos wanneer die heidene vir hulle gode bid. Hulle kerf hulle stukkend met messe asof hulle vir ’n afgod bid om vir hulle koring en wyn te gee. “Ek het hulle laat oefen om oorlog te maak. Hulle het hulle arms sterk gemaak. Hulle het ongelukkig agter my rug ander planne gaan maak. Hulle het na mense gesoek wat hulle kan help. Hulle kon nie sulke mense in die hande kry nie. Hulle het geword soos ’n slap boog wat nie meer kan skiet nie. Hulle leiers gaan in die oorlog dood van die vervloekings wat hulle oor hulleself uitgespreek het. In Egipte spot die mense met hulle.”