HOSEA 6:1-6
HOSEA 6:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Kom ons keer terug na die HERE – want Hy is die Een wat ons verskeur het, maar Hy sal ons gesond maak; Hy het ons geslaan, maar Hy sal ons wonde verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan, sodat ons voor Hom kan lewe. Laat ons Hom ken, laat ons daarna streef om die HERE te ken. So seker soos dagbreek is sy verskyning; Hy sal soos reën na ons toe kom, soos lentereën wat die grond deurnat maak.” “ Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle trou is soos 'n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn. Daarom het Ek hulle neergevel deur die profete, hulle omgebring met die woorde van my mond. My oordele verskyn soos die lig; want Ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God, eerder as •brandoffers.”
HOSEA 6:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gesê: “Die mense van Israel en Juda sal sê: ‘Kom ons gaan terug na die Here toe. Dit is Hý wat ons stukkend geskeur het, maar Hy sal ons weer gesond maak. Dit is Hy wat ons geslaan het, maar Hy sal ons seerplekke toedraai. Hy sal ons gesond maak ná twee dae, Hy sal ons laat opstaan op die derde dag sodat ons kan lewe soos Hy wil hê. Ons wil naby die Here wees, ons is haastig om naby Hom te wees. Hy sal na ons toe kom, dit is seker, so seker soos dit lig word in die oggend. Hy sal kom, soos die reën wat in die lente val en die grond natmaak.’ ” Maar die Here sê ook: “Wat moet Ek met julle doen, mense van Israel en Juda? Julle liefde is soos 'n wolk of soos dou. Dit is vroeg in die oggend daar, maar dit verdwyn gou. Dit is hoekom Ek die profete gestuur het om hard te praat met julle en vir julle te sê dat julle sal sterf. Ek wou julle straf, so seker soos die son elke dag opkom. Ek wou julle straf, want offers en brand-offers is nie vir My belangrik nie. Ek wil hê julle moet lief wees vir My en julle moet naby My wees.
HOSEA 6:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KOM en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe. En laat ons ken — laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei. Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn. Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond, en die oordele oor jou kom te voorskyn soos 'n ligstraal. Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.
HOSEA 6:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind. Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.” Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou. Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.
HOSEA 6:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kom, laat ons ons tot die HERE bekeer, want Hy het verskeur, en Hy sal ons genees; Hy het geslaan, en Hy sal ons verbind. Na twee dae sal Hy ons lewend maak; op die derde dag sal Hy ons oprig, en ons sal voor sy oë lewe. Dan sal ons weet as ons agtervolg om die HERE te ken: sy uitgang is gereed soos die môre; en hy sal na ons toe kom soos die reën, soos die laat en vorige reën op die aarde. O Efraim, wat moet ek met jou doen? O Juda, wat moet ek met jou doen? want jou goedheid is soos 'n môrewolk, en soos die vroeë dou gaan dit weg. Daarom het Ek hulle deur die profete gekap; Ek het hulle gedood deur die woorde van my mond, en u oordele is soos die lig wat uitgaan. Want Ek het barmhartigheid begeer en nie offerande nie; en die kennis van God meer as brandoffers.
HOSEA 6:1-6 Die Boodskap (DB)
“Die volk sê: ‘Kom ons gaan terug na die Here toe. Hy het ons nou wel uitmekaargeskeur, maar Hy kan ons weer gesond maak. Hy het ons stukkend geslaan, maar Hy sal ons wonde verpleeg. Hy sal ons binne twee dae weer aan die lewe kry. Binne drie dae is ons weer op die been en perdfris om voor Hom te staan. Kom ons maak ons vas aan die Here. Ons span ons in om Hom beter te leer ken. So seker soos dit lig word in die oggend; so seker soos daar reën in die lente kom en die aarde natmaak, net so seker sal die Here na ons toe kom om ons te red.” “Die Here sê: ‘Wat op aarde moet Ek met jou aanvang, Efraim? Wat moet Ek met julle maak, Juda? Julle bly net so lank getrou aan My soos mis wat voor die son verdwyn. Dit hou net so lank soos dou wat vroeg in die oggend al verdwyn. Dis hoekom Ek julle stukkend getrap het met die woorde van my boodskappers. Dit is hoekom Ek julle met my woorde uitmekaargeskeur het. My besluit oor julle is so helder soos daglig: Ek wil baie eerder hê dat julle by My bly as dat julle van ver af offers vir My slag. Ek wil eerder hê dat julle getrou moet wees aan My as dat julle op altare offers vir My verbrand.
HOSEA 6:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Kom, laat ons teruggaan na die HERE toe! Hy het ons verskeur; Hy sal ons weer genees. Hy het ons geslaan; Hy sal ons wonde weer verbind. Hy sal ons na twee dae laat aansterk en op die derde dag weer laat opstaan sodat ons in sy teenwoordigheid kan lewe. Kom, laat ons die HERE ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy! Dan sal Hy ons antwoord. Dis so seker as die aanbreek van die nuwe dag of die koms van die reën, die lentereëns wat die grond deurweek. “O Israel en Juda, wat moet Ek met julle doen?” vra die HERE. “Want julle liefde is soos ’n môrewolkie wat gou verdwyn, soos dou wat wegraak voor die son. Ek het my profete gestuur om julle in stukke te kap. Ek het julle met my woorde getref, gedreig met die dood. My oordeel sal julle tref so seker as die dag breek. Ek soek troue liefde en nie offers nie; toewyding aan God en nie brandoffers nie.