HOSEA 13:1-3
HOSEA 13:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gesê: “Lank gelede was almal bang vir die mense van Efraim. Al die Israeliete het gedink die mense van Efraim is die belangrikste. Maar die mense van Efraim het sonde gedoen, hulle het vir Baäl gedien, en daarom het hulle gesterf. Maar nou doen hulle nog meer sonde: Hulle maak beelde. Hulle vat silwer en maak daarvan beelde van afgode soos hulle dink die beelde moet lyk. Ambagsmanne maak die beelde wat soos 'n bul-kalf lyk, en hulle sê die mense wat wil offer, moet die beelde soen. Daarom sal die mense van Efraim verdwyn soos 'n wolk in die oggend, soos dou wat vroeg weggaan. Hulle sal verdwyn soos kaf wat wegwaai van die dorsvloer, soos rook wat kom deur 'n gat in 'n huis se muur.
HOSEA 13:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AS Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe. En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle 'n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse! Daarom sal hulle wees soos 'n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.
HOSEA 13:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n tyd toe Efraim met gesag gepraat het, hy was die onbetwisbare leier in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak met Baäl en dit het vir hom die dood gebring. En nou hou hulle maar aan met sondig: hulle het vir hulle beelde gemaak, afgodsbeelde van silwer na eie smaak. Maar dit bly die handewerk van ambagsmanne! Van hierdie beelde sê hulle: “As 'n mens wil offer, moet jy hierdie kalwers soen.” Daarom sal hulle so vinnig verdwyn soos 'n môrewolkie, soos dou. Hulle sal weggewaai word soos kaf van 'n dorsvloer af, soos rook uit 'n skoorsteen.
HOSEA 13:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer Efraim gepraat het, het almal gebewe; hy was hoog geag in Israel. Maar hy het skuld op hom gelaai deur Baäl en gesterf; en nou gaan hulle voort om te sondig. Hulle het vir hulle gegote beelde gemaak – afgode van hulle silwer, met vaardigheid, alles die handewerk van ambagsmanne. Van die beelde sê hulle: “Mense wat offer, moet die kalwers soen!” Daarom sal hulle word soos 'n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn, soos kaf wat van die dorsvloer, soos rook wat uit 'n venster, weggewaai word.
HOSEA 13:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Efraim bewend spreek, het hy hom in Israel verhef; maar toe hy in Baäl aanstoot gegee het, het hy gesterf. En nou sondig hulle meer en meer en maak vir hulle gegote beelde van hulle silwer en afgode volgens hulle eie insig, dit alles die werk van die ambagsmanne; hulle sê van hulle: Laat die manne wat offer, die kalwers soen. Daarom sal hulle wees soos die môrewolk en soos die vroeë dou wat verbygaan, soos die kaf wat met die warrelwind uit die vloer gedryf word, en soos die rook uit die skoorsteen.
HOSEA 13:1-3 Die Boodskap (DB)
“As Efraim se familie gepraat het, was die ander families bang en het na hom geluister. Efraim was die leier van Israel. Hulle het ’n fout gemaak toe hulle Baäl begin aanbid het. Hulle sal met hulle lewe vir hulle sonde moet betaal. Maar hulle doen selfs nog meer as dit. Hulle maak vir hulleself beelde van die afgode om daarvoor te buig. Hulle dink die afgode uit. Hulle maak uit silwer vir hulle beelde volgens hulle idees oor hoe die gode lyk. Maar dit bly tog maar net goed wat iemand uit silwer vir hulle gemaak het. Nogtans sê hulle: ‘Mens, offer vir die god. Buig voor die kalf en soen hom.’ Omdat hulle goed aanbid wat mense gemaak het, sal hulle nie vir altyd bly staan nie. Hulle sal verdwyn soos die vroeë oggendmis voor die son verdwyn. Hulle sal wees soos dou wat vroeg in die oggend al verdamp. Hulle sal wees soos kaf wat die wind van die dorsvloer af wegwaai, soos rook wat by ’n skoorsteen uitgaan en in die wind wegwaai.
HOSEA 13:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Voorheen het die mense van vrees gebewe wanneer die stam Efraim gepraat het, want die ander stamme het na hom opgesien. Maar die mense van Efraim het gesondig deur Baäl te dien. Dit het sy lot verseël. Nou gaan hulle aan om silwerafgodsbeeldjies te maak – beeldjies met bedrewe mensehande gemaak. Hulle roep uit: “Offer aan hulle! Soen die kalwerbeelde!” Daarom sal hulle verdwyn soos ’n môrewolkie, soos dou wat vroegoggend verdwyn, soos kaf wat die wind wegwaai van die dorsvloer af, soos rook uit ’n skoorsteen.