HOSEA 12:3-14
HOSEA 12:3-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het 'n saak teen Juda, Hy gaan Jakob straf vir sy dade, hom laat boet vir wat hy gedoen het. Nog voor sy geboorte het hy al sy broer onderkruip en as volwasse man het hy met God gestoei. Jakob het met 'n Engel gestoei en gewen. Jakob het gehuil en van God hulp verwag: “By Bet-El sal Hy ons ontmoet, daar sal Hy met ons praat. Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou.” Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig. Efraim is 'n skelm handelaar: hy buit graag mense uit. En dan sê hy: “Ek is ryk, ek het myself ryk gemaak. Terwyl ek my besittings bymekaargemaak het, het ek niks gedoen wat verkeerd is nie.” Maar Ek is die Here jou God van Egipte se tyd af. Ek gaan jou weer in tente laat woon soos in die woestyntyd. Ek het nog altyd met die profete gepraat, Ek het hulle baie visioene laat sien, Ek het deur die profete in gelykenisse gepraat. Gilead was ook ryk, maar hy het heeltemal tot niet gegaan. Daar is bulle geoffer in Gilgal, maar dit sal nie verhoed dat ook hulle altare soos kliphope langs die lande word nie. Onthou Jakob moes na Aram toe vlug. Israel moes slawediens doen om vrouens te kry: omdat hy vrouens wou hê, moes hy skape oppas. Deur die diens van 'n profeet het Ek, die Here, vir Israel uit Egipte gelei, deur 'n profeet is hulle opgepas.
HOSEA 12:3-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het 'n regsaak teen Juda, en Hy gaan Jakob tot verantwoording roep oor sy optrede; Hy gaan hom vergeld volgens sy dade. In die moederskoot het hy al sy broer aan die hakskeen vasgehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Hy het met die Engel geworstel en het oorwin; want hy het gehuil en Hom om genade gesmeek: “By Bet-El sal Hy hom ontmoet, daar sal Hy met ons praat. Die HERE, die God van alle magte, HERE is sy gedenknaam.” Maar jy, na jou God moet jy terugkeer. Lê jou toe op troue liefde en wat reg is, en wag altyddeur op jou God. “ Kanaän – in sy hand is daar 'n vals weegskaal; hy hou daarvan om uit te buit. Efraim sê, ‘Ja, ek het ryk geword; ek het self welvarend geword. Alles wat ek met moeite verkry het – niks kan gevind word wat as sondeskuld teen my gehou word, wat as 'n oortreding geld nie.’ Maar Ek is die HERE jou God – al van Egipteland af. Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die feestyd. Ek het met die profete gepraat; Ek het dit deur baie visioene gedoen, en deur profete tref Ek vergelykings. Is Gilead boos? Hulle het heeltemal tot niet gegaan. In Gilgal het Efraim selfs bulle geoffer; ook hulle altare sal kliphope word in die slote in die veld. Jakob het gevlug na die veld van Aram; Israel moes dienswerk doen om 'n vrou te verkry; ja, om 'n vrou te verkry, moes hy kleinvee oppas. Deur 'n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek; ja, deur 'n profeet is hulle opgepas.”
HOSEA 12:3-14 Die Boodskap (DB)
“Die Here maak ’n hofsaak teen Juda. Hy gaan Jakob straf vir die manier waarop hy leef. Hy gaan die dinge wat hy doen, teen hom gebruik. Nog voor hy gebore is, het hy sy tweelingbroer probeer bedrieg. Toe hy ’n groot man was, het hy met God geveg. Hy het met die Man uit die hemel gestoei en Hom begin wen. Hy het gehuil en die Man het hom jammer gekry. Die Here het hom by Bet-El gekry en daar met hom gepraat. Dit was die Here, die God van groot krag. Sy Naam is ‘Die Here’. Kom terug na jou God toe. Bly getrou aan die Here. Doen wat Hy vir jou sê. Hou Hom altyd in gedagte.” “Israel is soos Kanaän. Hy is skelm as hy dinge verkoop. Hy probeer altyd mense verkul wat by hom koop. Dan spog Efraim nog en sê: ‘Ek het ryk geword. Ek het ’n miljoenêr geword. Niemand kan ’n vinger na my wys nie. Niemand kan my beskuldig dat ek oneerlik was nie.’” Die Here sê: “Ek is die Here. Ek is julle God. Ek het julle uit Egipte laat wegtrek. Ek sal julle weer in tente laat bly soos die tyd in die woestyn. Toe het Ek in my tent tussen julle gebly. Ek het met julle gepraat deur my boodskappers. Ek het hulle baiekeer dinge in drome laat sien om julle te waarsku. Ek het boodskappers met julle laat praat. Hulle het vir julle alles verduidelik met die woordbeelde en vergelykings wat hulle gebruik het. “In Gilead bid hulle tot afgode. Daardie beelde sal verdwyn. In Gilgal offer hulle bulle. Die offerplekke daar sal inmekaarval. Dit sal word soos klippe wat uit die landerye gehaal is om dit skoon te maak en op hope gegooi is. “Jakob moes Aram toe vlug. Hy moes daar skape oppas net om ’n vrou te kry. Maar dit was deur sy boodskapper dat die Here Israel se nageslag uit Egipte gelei het. God se boodskapper het hulle op die regte pad gehou.
HOSEA 12:3-14 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê die mense van Juda het ook verkeerd gedoen, maar Hy wil nou die nageslag van Jakob straf. Hy wil hulle straf omdat hulle verkeerd gedoen het. Jakob was skelm voordat hy gebore is, hy het aan sy broer se voet vasgehou. Toe hy groot was, het hy met God gestoei. Hy het met die Engel gestoei en gewen. Jakob het gehuil, en God was jammer vir hom. God het Jakob by Bet-El gekry en God het daar met Jakob gepraat. Die Here het dit gedoen. Hy is die God wat oor alles regeer, sy Naam is: Die Here. Nageslag van Jakob, nou moet julle terugkom na julle God toe. Julle moet lief wees vir mekaar en doen wat reg is, julle moet altyd glo dat Hy julle sal help. Maar die handelaars meet nie reg wanneer hulle iets verkoop nie, hulle laat die mense swaarkry. Die mense van Efraim sê: “Ons het ryk geword, ons het baie goed bymekaargemaak, maar ons het niks verkeerd gedoen nie, niks.” Die Here sê: “Ek, julle God die Here, het julle geken toe julle nog in Egipte was. Ek sal julle weer in tente laat woon soos daardie tyd toe julle in die woestyn was. Ek het met die profete gepraat, Ek het vir hulle gewys wat sal gebeur. Ek sal hulle nou stuur om so te praat dat die mense hulle nie kan verstaan nie. “Die mense van die land Gilead is sleg en hulle beteken niks. Hulle offer bulle in die stad Gilgal, maar Ek sal hulle altare afbreek, en die klippe van die altare sal op mekaar lê langs die koringlande. “Jakob het gevlug na die land van die Arameërs. Hy het daar gaan werk om 'n vrou te kry. Hy het skape opgepas om 'n vrou te kry. Die Here het 'n profeet gestuur om die Israeliete uit Egipte te bring, 'n profeet het hulle opgepas.
HOSEA 12:3-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die HERE het ook 'n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade. In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek. En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam. En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God. Kanaän — in sy hand is daar 'n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers. Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my 'n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie. Maar Ek is die HERE jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees. Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra. Was Gílead goddeloosheid — hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye. En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir 'n vrou as loon, en vir 'n vrou het hy vee opgepas. Maar deur 'n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur 'n profeet is hulle opgepas.
HOSEA 12:3-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy het sy broer in die moederskoot aan die hakskeen geneem, en deur sy krag het hy krag by God gehad. Ja, hy het mag gehad oor die engel en het oorwin; hy het geween en hom gesmeek; hy het hom in Bet-el gevind, en daar het hy met ons gespreek; Selfs die HERE, die God van die leërskare; die HERE is sy gedenkteken. Daarom bekeer jy jou tot jou God; bewaar barmhartigheid en oordeel, en wag gedurigdeur op jou God. Hy is 'n handelaar, die weegskaal van bedrog is in sy hand; hy hou daarvan om te verdruk. Toe sê Efraim: Tog het ek ryk geword, ek het vir my goed gevind; in al my moeitevolle arbeid sal hulle geen ongeregtigheid in my vind wat sonde was nie. En Ek, wat die HERE jou God is uit Egipteland, sal jou nog in hutte laat woon soos in die dae van die fees. Ek het ook gespreek deur die profete, en ek het gesigte vermenigvuldig en gelykenisse gebruik deur die bediening van die profete. Is daar ongeregtigheid in Gilead? waarlik, hulle is nietigheid; hulle offer bulle in Gilgal; ja, hulle altare is soos hope in die vore van die veld. En Jakob het na die land van Aram gevlug, en Israel het vir 'n vrou gedien, en vir 'n vrou het hy skape opgepas. En deur 'n profeet het die HERE Israel uit Egipte uitgelei, en deur 'n profeet is hy bewaar. Efraim het hom bitterlik geterg; daarom sal hy sy bloed op hom laat, en sy smaad sal sy HERE tot hom bekeer.
HOSEA 12:3-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE gaan nou ’n saak maak teen Juda. Hy staan op die punt om Israel te straf vir sy dade en hom te vergeld oor sy valse weë. Voor Jakob se geboorte het hy sy broer se hakskeen vasgehou; as volwassene het hy met God kragte gemeet. Hy het selfs met ’n Engel geworstel en gewen. Hy het gehuil en by Hom gepleit vir ’n seën. By Bet-El het hy God van aangesig tot aangesig ontmoet en daar het God met hom gepraat, die HERE, die almagtige God. Die HERE is sy Naam! Kom nou terug na jou God toe! Tree op met liefde en regverdigheid, en lewe voortdurend met ’n vaste vertroue op jou God. Maar nee, die volk is soos ’n geslepe handelaar met valse weegskale – hy hou daarvan om te bedrieg. Israel spog: “Ek is ryk, en ek het dit alles self verwerf! Niemand kan sê dat ek dit op ’n oneerlike manier gekry het nie! Ek is onskuldig aan enige oortreding!” “Maar Ek is die HERE jou God sedert jou slawerny in Egipte. Ek sal jou weer in tente laat woon soos destyds, soos tydens die woestyntyd. Ek het deur my profete gepraat, hulle baie visioene laat sien. Ek het deur die profete in gelykenisse gewaarsku.” Is Gilead vol boosheid? Hulle sal sekerlik tot niks kom nie. Offer hulle bulle in Gilgal? Hulle altare sal soos kliphope in rye langs die landerye wees. Jakob moes na Aram toe vlug, Israel moes slawediens doen om ’n vrou te kry. Om ’n vrou te kry, moes hy skape oppas. Die HERE het deur ’n profeet Jakob se afstammelinge, die Israeliete, uit Egipte gelei. Die profeet het hulle gelei en beskerm.