HOSEA 1:1-11
HOSEA 1:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gepraat met Hosea seun van Beëri. Dit was in die tyd toe vier konings ná mekaar koning van Juda was. Die konings was Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Jerobeam seun van Joas was toe koning van Israel. Die Here het begin om met Hosea te praat. Die Here het vir Hosea gesê: “Jy moet trou en jy moet kinders kry. Jou vrou en jou kinders sal ontrou wees, want al die mense in die land is altyd ontrou aan die Here.” Hosea het toe gegaan en hy het met Gomer getrou. Gomer was die dogter van Diblajim. Gomer het swanger geword en sy het 'n seun gekry vir Hosea. Die Here het toe vir Hosea gesê: “Jy moet die seun Jisreël noem, want die tyd is naby wanneer Ek die nageslag van koning Jehu sal straf. Ek sal hulle straf, want hulle het baie mense vermoor in die stad Jisreël. “Ek sal hulle koning wegvat, die land Israel sal nie meer 'n koning hê nie. “Daardie dag sal Ek vyande laat kom om oorlog te maak teen Israel, en hulle sal die mense van Israel oorwin in die Jisreël-vallei.” Gomer het weer swanger geword en sy het 'n dogter gekry. Die Here het gesê: “Jy moet haar noem ‘Nie-Weer-Goed-Wees-Nie,’ “want Ek sal nooit weer goed wees vir die mense van Israel nie. Nee, Ek sal hulle wegvat uit hulle land, Ek sal dit doen. “Maar vir die mense van Juda sal Ek goed wees. Ek is hulle God die Here, en Ek sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens en oorlog nie, nie met soldate op perde nie.” Gomer se dogter, Nie-Weer-Goed-Wees-Nie, het grootgeword en sy het nie meer aan haar ma gedrink nie. Gomer het toe weer swanger geword en sy het 'n seun gekry. Die Here het gesê: “Jy moet hierdie seun noem ‘Nie-My-Volk-Nie,’ want julle is nie meer my volk nie, en Ek is nie meer julle God nie.” “Maar eendag sal die Israeliete so baie wees soos die sand by die see, 'n mens kan dit nie meet of tel nie. Ek het vir hulle gesê: ‘Julle is nie my volk nie,’ maar daardie dag sal die mense vir hulle sê: ‘Julle is kinders van die God wat lewe.’ Dan sal die mense van Juda en die mense van Israel bymekaarkom en hulle sal een volk wees. Hulle sal vir hulle een leier kies en hulle sal die land terugvat. Ja, daardie dag sal daar belangrike dinge gebeur in Jisreël.
HOSEA 1:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel. Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word. Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom 'n seun gebaar. En die HERE het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog 'n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en 'n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël. Toe het sy weer swanger geword en 'n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie. Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie. Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en 'n seun gebaar. En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s'n wees nie. Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie — sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!
HOSEA 1:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas. 'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea. Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word. Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring. Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak. Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte. Gomer het weer swanger geraak en sy het 'n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê: Noem haar Sonder-ontferming, want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm en hulle sonde vergewe nie. Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie. Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en 'n seun gekry. Die Here het gesê: Noem hom Nie-my-volk-nie, want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie. Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.” Dan sal die Judeërs en die Israeliete weer een word en vir hulle een leier aanwys en die beheer van die land oorneem. Daardie dag sal Jisreël se val groot wees.
HOSEA 1:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die woord van die HERE aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel. Die begin van wat die HERE deur Hosea gesê het. Die HERE het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou 'n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die HERE af.” Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Die HERE sê toe vir hom: “Noem hom Jisreël, want nog 'n klein rukkie, dan roep Ek die huis van Jehu tot verantwoording oor die bloedbad by Jisreël. Ek gaan 'n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. Op daardie dag sal Ek die boog van Israel breek op die vlakte van Jisreël.” Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan 'n dogter. Die HERE sê toe vir hom: “Noem haar Lo-Rugama, want Ek gaan My nie langer ontferm oor die huis van Israel nie, ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie. Maar oor die huis van Juda sal Ek my ontferm. Ek sal hulle verlos deur die HERE hulle God; Ek sal hulle nie deur boog en swaard en oorlogstuig, deur perde en ruiters verlos nie.” Toe sy Lo-Rugama gespeen het, het sy swanger geword en geboorte gegee aan 'n seun. Die HERE sê toe: “Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek is nie ‘Ek Is’ vir julle nie.” “Maar die kinders van Israel sal so veel wees soos die sand van die see wat nie afgemeet en getel kan word nie. Op die plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is Lo-Ammi,’ sal vir hulle gesê word, ‘Kinders van die lewende God.’ Die kinders van Juda en die kinders van Israel sal saamkom, en vir hulle een hoof aanstel. Hulle sal uit die grond opskiet, want groot is die dag van Jisreël.
HOSEA 1:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE wat gekom het tot Hosea, die seun van Beëri, in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, die koning van Israel. Die begin van die woord van die HERE deur Hosea. En die HERE het vir Hosea gesê: Gaan neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders, want die land het groot gehoereer, deur van die HERE af weg te gaan. Hy het toe gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; wat swanger geword het en vir hom 'n seun gebaar het. Toe sê die HERE vir hom: Noem hom Jísreël; want nog 'n klein tydjie, en Ek sal die bloed van Jísreël wreek op die huis van Jehu en die koningskap van die huis van Israel laat ophou. En in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die dal van Jísreël. En sy het weer swanger geword en 'n dogter gebaar. En God sê vir hom: Noem haar Loruhama, want Ek sal my nie meer oor die huis van Israel ontferm nie; maar Ek sal hulle heeltemal wegneem. Maar Ek sal My oor die huis van Juda ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie verlos deur boog of swaard of deur oorlog, deur perde of deur ruiters nie. En toe sy Loruhama gespeen het, het sy swanger geword en 'n seun gebaar. Toe sê God: Noem hom Loammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle God wees nie. Maar die getal van die kinders van Israel sal wees soos die sand van die see wat nie gemeet of getel kan word nie; en op die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie, daar sal vir hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel versamel word en vir hulleself een hoof aanstel, en hulle sal uit die land optrek, want groot sal die dag van Jísreël wees.
HOSEA 1:1-11 Die Boodskap (DB)
Die Here het Hosea geroep om sy boodskapper te wees. Sy pa was Beëri. Hy het die Here se boodskap gebring in die tyd toe eers Ussia en daarna Jotam, toe Agas en daarna Hiskia die konings van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was die hele tyd die koning van Israel in die noorde. Toe die Here Hosea geroep het om sy boodskap vir sy volk te gaan gee, het die Here vir hom gesê: “Gaan vat vir jou ’n vrou wat rondloop. Sy sal kinders hê, al is sy nie met ’n man getroud nie. Sy is net soos Israel wat wil rondloop en nie by die Here wil bly nie.” Hosea het toe vir Gomer gevat. Sy was Diblajim se dogter. Na ’n tyd het sy ’n baba verwag en ’n seuntjie is toe gebore. Die Here het vir Hosea gesê: “Die seuntjie se naam moet Jisreël wees. Een van die dae gaan Ek vir koning Jehu straf omdat hy die mense by Jisreël vermoor het. Dit is nou klaarpraat met die ryk van Israel. Ek gaan Israel se weermag in die vlakte van Jisreël op sy knieë dwing.” Gomer het weer verwag en ’n dogtertjie gehad. Die Here het vir Hosea gesê: “Haar naam is Lo-Rugama. Dit beteken ‘Gee nie meer om nie’. Ek gee nie meer vir Israel om nie. Ek gaan nie weer hulle sonde vergewe nie. Maar Ek sal steeds lief bly vir die mense van Juda in die suide. Ek sal hulle red. Daar sal nie ’n oorlog nodig wees om hulle van hulle vyande te bevry nie.” Toe sy opgehou het om Lo-Rugama te borsvoed, het Gomer weer ’n baba verwag en toe ’n seuntjie gehad. Hierdie keer het die Here gesê: “Sy naam is Lo-Ammi. Dit beteken ‘Nie my volk nie’, want julle is nie meer my volk nie en Ek is nie meer julle God nie.” “Nogtans sal die Israeliete so baie word soos die sandkorrels van die see wat ’n mens nie kan meet of kan tel nie. Ek sê nou vir hulle: julle is nie meer my volk nie. In die toekoms sal Ek weer vir hulle sê: julle behoort aan God wat altyd lewe. Die suidelike ryk van Juda en die noordelike ryk van Israel sal dan weer bymekaar uitkom. Hulle sal saamkom en net een leier hê. By Jisreël sal hulle op daardie dag saam optrek na hierdie land toe. Hulle sal hier geplant word soos ’n boom in die grond.
HOSEA 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het die volgende boodskap aan Hosea seun van Beëri gegee. Dit was toe Ussia, Jotam, Agas en Hiskia na mekaar konings van Juda was en Jerobeam seun van Joas koning van Israel was. Toe die HERE begin het om met Israel deur Hosea te praat, het Hy vir hom gesê: “Gaan trou met ’n losbandige vrou, iemand wat mettertyd buite-egtelike kinders sal hê. Dit sal ’n sigbare beeld wees van hoe die land teenoor My, die HERE, egbreuk pleeg deur ander gode te dien.” Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim getrou. Sy het swanger geword en vir Hosea ’n seun in die wêreld gebring. Toe sê die HERE: “Noem die seun Jisreël, want Ek is op die punt om koning Jehu se koningshuis te straf as vergelding vir die moorde wat hy by Jisreël gepleeg het. Trouens, Ek gaan ’n einde maak aan die koningshuis van Israel. Dan sal Ek sy militêre mag in die Jisreëlvlakte vernietig.” Kort daarna het Gomer weer verwag en ’n dogter is gebore. Toe sê die HERE vir Hosea: “Noem haar Lo-Rugama (‘Geen-ontferming’), want Ek sal My nie langer ontferm oor die volk Israel en hulle vergewe nie. Maar Ek sal aan die mense van Juda ontferming betoon as die HERE hulle God. Ek self sal hulle bevry van hulle vyande sonder die hulp van wapens of militêre magte.” Nadat Gomer vir Lo-Rugama gespeen het, het sy weer swanger geword en ’n seun is gebore. Toe sê die HERE: “Noem hom Lo-Ammi (‘Nie-my-volk-nie’), want Israel is nie meer my volk nie en Ek is nie meer hulle Verbondsgod nie. “Tog sal daar ’n tyd aanbreek dat Israel voorspoedig sal wees en ’n groot nasie sal word. Dan sal hulle wees soos die sand aan die see – te veel om getel te word. In plaas daarvan dat aan hulle gesê is ‘Julle is Nie-my-volk-nie’, sal gesê word ‘Julle is kinders van die lewende God’. Dan sal die inwoners van Juda en Israel verenig onder een leier, en hulle sal saam na die land toe terugkeer. Dit sal ’n besondere dag wees, die groot dag van Jisreël, wanneer God weer sy mense in sy land sal plant.