HEBREËRS 9:7-9
HEBREËRS 9:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Maar in die tweede tent het net die hoëpriester ingegaan, een maal elke jaar. Hy het altyd bloed saamgeneem wanneer hy daar ingegaan het, die bloed wat hy ge-offer het vir sy eie sondes en vir die sondes wat die volk gedoen het toe hulle nie geweet het dat dit sonde is nie. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie. Hierdie eerste kamer is 'n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.
HEBREËRS 9:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan — waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie. Dit was 'n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie
HEBREËRS 9:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is so lank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie.
HEBREËRS 9:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar by die tweede tent gaan net die hoëpriester in, en dit slegs een keer per jaar, en nie sonder bloed wat hy vir homself offer, en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het nie. Daarmee dui die Heilige Gees aan dat die weg na die heiligdom nog nie oopgestaan het solank die voorste tent nog bestaan het nie. Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie.
HEBREËRS 9:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar in die tweede het die hoëpriester een maal elke jaar alleen ingegaan, nie sonder bloed nie, wat hy vir homself en oor die dwalings van die volk geoffer het. Die Heilige Gees wat dit beteken dat die weg na die heiligste van alles nog nie geopenbaar was nie, terwyl die eerste tabernakel nog gestaan het: wat 'n figuur was vir die destydse teenwoordige tyd, waarin geskenke sowel as offers gebring is, wat hom wat die diens verrig, nie volmaak kon maak wat die gewete betref nie
HEBREËRS 9:7-9 Die Boodskap (DB)
Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie. Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was. Ons kan nogal baie hieruit leer: mense het wel allerhande geskenke en offers na die Heilige plek toe gebring, maar hulle kon nie heeltemal seker wees dat hulle saak met God dan honderd persent reg was nie.
HEBREËRS 9:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar in die agterste vertrek, die Allerheiligste, kon net die hoofpriester ingaan en dit net een keer per jaar – boonop altyd met bloed wat hy aan God moes offer vir sy eie sondes sowel as vir die sondes wat die volk in hulle onkunde begaan het. Deur hierdie bepalings wys die Heilige Gees daarop dat die Allerheiligste nog nie vir almal oop was solank die voorste gedeelte van die verbondstent nog sy plek gehad het nie. Die tekortkomings van die ou erediens bevat vir ons vandag ’n les deurdat gawes en offers gebring is wat nie vir die een wat dit bring ’n volkome skoon gewete kon gee nie