HEBREËRS 9:16-22
HEBREËRS 9:16-22 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer 'n persoon 'n testament gemaak het, dan moet die mense wat sy goed erf, eers wag tot daardie persoon dood is, want mense kan eers doen wat die testament sê wanneer die persoon wat dit gemaak het, dood is. 'n Testament beteken niks wanneer die persoon wat dit gemaak het, nog lewe nie. Daarom, toe God die eerste verbond met die volk gemaak het, was daar ook bloed. Want nadat Moses vir die volk vertel het van al die reëls van die wette, het hy die bloed van kalwers en bokke saam met water geneem. Hy het hisop-takkies vasgemaak met rooi wol en hy het bloed en water gespat op die boek van die wette en op die hele volk, en hy het gesê: “ Dit is die bloed wat wys dat God 'n verbond gemaak het met julle. God het gesê julle moet doen wat die verbond vir julle sê.” Moses het ook so bloed gespat op die tempel-tent en op al die dinge waarmee die priesters hulle werk gedoen het. Ja, die wette sê dat die priesters amper alles moet reinig met bloed. God vergewe nie sonde as daar nie bloed vloei nie.
HEBREËRS 9:16-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want waar 'n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word; want 'n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is so lank as die testamentmaker nog leef nie. Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie; want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het. En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
HEBREËRS 9:16-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.
HEBREËRS 9:16-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Waar 'n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig. 'n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie. Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie. Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.” En op dieselfde wyse het hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel. Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie.
HEBREËRS 9:16-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want waar 'n testament is, moet daar ook noodwendig die dood van die testateur wees. Want 'n testament is van krag nadat die mens gesterf het; anders is dit glad nie van krag solank die testateur leef nie. Daarop is ook nie die eerste testament sonder bloed ingewy nie. Want nadat Moses elke bevel volgens die wet aan die hele volk gespreek het, het hy die bloed van kalwers en bokke geneem, met water en bloedrooi wol en hisop, en hy het die boek sowel as die hele volk gesprinkel. En gesê: Dit is die bloed van die testament wat God aan julle opgelê het. Verder het hy die tabernakel sowel as al die gereedskap van die bediening met bloed besprinkel. En byna alles word deur die wet met bloed gereinig; en sonder bloedvergieting is geen vergifnis nie.
HEBREËRS 9:16-22 Die Boodskap (DB)
Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament. Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop. Julle onthou mos dat Moses eers elke reël wat in die wet gemaak is, vir die volk voorgelees het. Toe vat hy wol wat rooi gekleur is en takkies van ’n hisopplant en sprinkel daarmee die bloed van kalwers en bokke saam met water oor die boek waarin die reëls staan en oor al die mense. Hy sê toe: “God het met julle ’n ooreenkoms gemaak en julle moet daarby bly. Dié bloed is die bewys van die ooreenkoms.” Toe het Moses die bloed gaan sprinkel op die Heilige plek en alles wat daarin vir die diens van God gebruik is. Die wet bepaal tog dat omtrent alles so met bloed besprinkel moes word om aanvaarbaar te wees vir God. God vergewe nie sondes as daar nie bloed geloop het nie.
HEBREËRS 9:16-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As iemand sterf en hy laat ’n testament na, kry niemand enigiets voordat die testateur werklik as dood bewys is nie. ’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie. Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel. Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.” En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens. Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.