HEBREËRS 9:11-14
HEBREËRS 9:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Maar Christus het gekom om Hoëpriester te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie. Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van 'n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien. Christus het 'n offer vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om 'n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe.
HEBREËRS 9:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en 'n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van 'n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.
HEBREËRS 9:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.
HEBREËRS 9:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
•Christus egter het gekom as Hoëpriester van die goeie dinge wat nou verwesenlik is, en Hy het deur 'n uitnemender en meer volmaakte •tabernakel beweeg wat nie deur mensehande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie van hierdie skepping is nie. Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig. Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?
HEBREËRS 9:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Christus wat gekom het as 'n Hoëpriester van die toekomstige goeie, deur 'n groter en volmaakter tabernakel, nie met hande gemaak nie, dit wil sê, nie uit hierdie gebou nie; Ook nie deur die bloed van bokke en kalwers nie, maar deur sy eie bloed het Hy een maal in die heiligdom ingegaan, nadat Hy vir ons die ewige verlossing verkry het. Want as die bloed van bulle en bokke en die as van 'n vers wat die onreines besprinkel, heilig maak tot die reiniging van die vlees; Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God vlekkeloos geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien?
HEBREËRS 9:11-14 Die Boodskap (DB)
Christus het gekom as Hoëpriester van die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense. Dit was baie goed. Hy het nie net in ’n plek ingegaan wat maar hier op aarde deur mense gemaak is nie. Hy het deur die Heiligste plek in die hemel ingegaan. Dit is ’n baie beter en volmaakter plek as die een op aarde. Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees. Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het. Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak. Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien.
HEBREËRS 9:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar nou het Christus as Hoofpriester gekom om al God se weldade te bedien. Hy het daardie groot, volmaakte heiligdom in die hemel binnegegaan wat nie die handewerk van mense is nie, en dus nie deel uitmaak van hierdie skepping nie. Eens en vir altyd het Hy met bloed in die Allerheiligste ingegaan, maar nie met die bloed van bokke en kalwers nie, nee, Hy het met sy eie bloed daar ingegaan en vir ons ’n ewige verlossing bewerk. Onder die ou stelsel kon die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers, wanneer dit oor mense gesprinkel word, hulle liggame van rituele besoedeling reinig. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien!