HEBREËRS 9:1-5
HEBREËRS 9:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die eerste verbond het ook reëls gehad wat sê hoe die mense vir God moet dien, en dit het ook 'n gewyde tent hier op aarde gehad waar die mense vir God kon dien. Die Israeliete het die tempel-tent gebou. In die eerste kamer was die lampstaander en die tafel met die offer-brood. Hulle het die eerste kamer genoem die “ gewyde kamer.” Agter die tweede gordyn was die tweede kamer wat hulle die “ hoog-gewyde plek” genoem het. In hierdie kamer was die goue wierook-altaar en die verbondskis wat hulle heeltemal oorgetrek het met goud. In die kis was die goue kruik waarin daar manna was, en die kierie van Aäron waaraan daar takkies en blare gegroei het, en die twee plat klippe van die verbond waarop die tien gebooie was. Op die kis was die gerubs wat wys dat God daar is. Die skaduwee van die gerubs se vlerke was oor die deksel van die kis, die plek waar God die mense se sondes versoen het. Daar is nie nou tyd om te praat oor elkeen van al hierdie dinge in die tempel-tent nie.
HEBREËRS 9:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad. Want die tabernakel is so ingerig: die eerste, waarin die kandelaar was en die tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word; en agter die tweede voorhangsel die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste, waarin 'n goue wierookbak was en die ark van die verbond, rondom heeltemal met goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat gebloei het, en die tafels van die verbond; en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het, waaroor nie nou afsonderlik gespreek kan word nie.
HEBREËRS 9:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook 'n aardse heiligdom. Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word. Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.
HEBREËRS 9:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die eerste verbond het bepalings vir aanbidding gehad, asook 'n heiligdom wat aards was. Die voorste tent was toegerus met die kandelaar, en die tafel met die •vertoonbrode, en is die “Heilige” genoem. En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die •verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond; en bo-op was die gerubs van heerlikheid, wat die versoendeksel oorskadu het. Hieroor kan ons egter nie nou in besonderhede praat nie.
HEBREËRS 9:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dan het die eerste verbond voorwaar ook ordinansies van goddelike diens gehad, en 'n wêreldse heiligdom. Want daar is 'n tabernakel gemaak; die eerste, waarin die kandelaar en die tafel en die toonbrode was; wat die heiligdom genoem word. En ná die tweede voorhangsel, die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste van almal; wat die goue wierookbak gehad het en die verbondsark rondom met goud oorgetrek, waarin die goue pot met manna was, en die staf van Aäron wat uitloop, en die verbondstafels; En daaroor die gérubs van heerlikheid wat die versoendeksel afskadu; waarvan ons nou nie spesifiek kan praat nie.
HEBREËRS 9:1-5 Die Boodskap (DB)
Met die eerste ooreenkoms was daar ’n heilige plek op aarde en ook baie reëls oor hoe ’n mens God moes aanbid. ’n Spesiale plek met twee kamers is reggemaak. Die eerste kamer is die “Heilige deel” genoem. Daar het hulle ’n lamp en die tafel met die heilige brood gesit. Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem. In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was. Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie.
HEBREËRS 9:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens en ’n aardse heiligdom gehad. Wat die aardse heiligdom betref: die verbondstent het twee vertrekke bevat. In die eerste een, dié een wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. Aan die agterkant van die Heilige was daar ’n tweede gordyn, en daaragter was die tweede vertrek wat bekend gestaan het as die Allerheiligste. Daardie vertrek het die goue reukofferaltaar bevat en die ark van die verbond wat heeltemal met goud beklee was. Binne-in die ark was die goue kruik met manna, Aäron se kierie wat gebot het, en die kliptablette van die verbond waarop die Tien Gebooie gegraveer was. Bo-op die ark het die glansende gerubs die deksel van die ark – die plek van versoening – met hulle vlerke oorskadu. Ek kan egter nie nou op die besonderhede ingaan nie.