HEBREËRS 7:20-28

HEBREËRS 7:20-28 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het. Die Levi-priesters het priesters geword, maar God het dit nie vir hulle belowe nie. Maar Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het, en God was self die getuie. Hy het gesê: Die Here het belowe, en dit sal so wees: Jy self sal altyd 'n priester wees. God het dit vir Jesus belowe, daarom het Jesus die Een geword wat borg staan vir 'n beter verbond. Die ou verbond en die nuwe verbond is nie dieselfde nie: Priesters het gesterf, en daar het altyd ander priesters in hulle plek gekom. Daarom was daar baie priesters in die ou verbond. Maar Jesus lewe vir altyd, daarom hou Hy aan om 'n priester te wees. Daarom kan Jesus ook die mense heeltemal red, die mense wat Hy na God toe gelei het. Jesus kan dit doen omdat Hy vir altyd lewe om vir God te vra om hulle te help. Ons Hoëpriester moes só wees: Hy moes aan God gewy wees, Hy moes onskuldig en rein wees, Hy moes nie saam met sondaars gelewe het nie, Hy moes 'n plek kry bokant die hemel by God. Die hoëpriesters wat Leviete was, moes elke dag eers vir hulle eie sondes offers bring en daarna moes hulle vir die volk offers bring. Maar ons Hoëpriester moet dit nie doen nie, want Hy het Homself ge-offer, Hy het dit een maal en vir altyd gedoen en Hy bring nie weer offers nie. Want die Wette van Moses kies swak mense om hoëpriesters te wees. Maar God se belofte het ná die wet gekom, sy belofte kies die Seun van God om Hoëpriester te wees, en die Seun het die werk vir altyd klaar gedoen, die werk wat 'n Hoëpriester moet doen.

HEBREËRS 7:20-28 Die Boodskap (DB)

En nog ’n ander ding: God het Jesus met ’n eed priester gemaak. Nie een van die ander priesters kan dit sê nie. Toe God Jesus as priester aangestel het, het Hy gesê: “Met ’n eed het die Here sy woord gegee en sal dit nooit terugtrek of breek nie: ‘Jy is die priester vir ewig en altyd.’” Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is. In die verlede was daar rye priesters, want soos hulle dood is, moes daar nuwe priesters aangestel word. Met Jesus is dit glad nie so nie. Hy leef vir ewig en daarom sal Hy vir altyd priester bly. Ons hoef dus nie ’n ander priester te soek nie. Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd. Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense. Maar dit is nie vir Jesus nodig nie. Hy het een offer gebring en toe het God gesê dit is genoeg. Daar is nie meer offers nodig nie. En daardie offer was toe Hy Homself geoffer het. Laat ek dit ’n bietjie saamvat: die hoëpriesters van ouds was maar swak mense. Nou, na die wet, het God met ’n eed sy Seun Hoëpriester gemaak. Hy is volmaak en sal sorg dat alles gedoen word wat nodig is. Dit sal vir altyd so wees.