HEBREËRS 7:11-19
HEBREËRS 7:11-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie? As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. Van Hom word getuig: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.
HEBREËRS 7:11-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie. Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek – een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. Daar word trouens getuig: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Aan die een kant is dit die opheffing van die voormalige gebod, omdat dit swak en nutteloos was – die wet het mos niks vervolmaak nie – maar aan die ander kant is dit die aanbreek van 'n beter hoop, waardeur ons tot God nader.
HEBREËRS 7:11-19 Die Boodskap (DB)
Daar is nog ’n ander vraag: Waarom moes daar nog ’n ander soort priester kom? Aäron, as Leviet, en sy nakomelinge was mos daar: Waarom is priesters soos Melgisedek ook nog nodig? Immers, die wet en alles is gegee met die Leviete wat dit organiseer. Wel, die Levitiese priesters met die wet en al kon nie doen wat hulle moes doen nie. Daarom was ’n priester wat soos Melgisedek is, ook nodig. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander. Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie. Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie. Want die Skrif sê self: “U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.” Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God.
HEBREËRS 7:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie? Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon, Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was; die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!
HEBREËRS 7:11-19 Bybel vir almal (ABA)
Die volk het die Wette van Moses ontvang om vir hulle te vertel van die werk van die priesters van die nageslag van Levi. As dit waar is dat hierdie priesters van die nageslag van Levi hulle werk heeltemal klaar gedoen het, hoekom moes daar 'n ander priester kom? Hoekom moes hy 'n priester wees wat soos Melgisedek is en nie soos Aäron nie? Want wanneer ander mense priesters word, dan moet die wet ook verander. Want die Ou Testament het hierdie belofte oor hierdie ander priester gemaak, en hy was van 'n ander stam. Niemand van hierdie stam was 'n priester by die altaar nie. Want almal weet dat ons Here van die Juda-stam kom. Moses het niks gesê oor priesters in die Juda-stam nie. En wanneer daar 'n ander priester kom wat soos Melgisedek is, dan is dit nog meer duidelik dat hy nie 'n priester geword het soos die wette en reëls oor mense se afstammelinge sê nie. Nee, Hy het 'n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Jy self sal altyd 'n priester wees, soos Melgisedek 'n priester was. Daar is nie meer priesters nie, want die wette wat voorheen daar was oor priesters, was swak en dit het nie vir die mense gehelp nie. Ja, die wet het niks heeltemal reg gemaak soos dit moes wees nie. Maar nou gee God vir ons iets, en ons is baie seker daarvan. Daarom kan ons nou nader kom na God toe.
HEBREËRS 7:11-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk die wet ontvang — waarom was dit nog nodig dat 'n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet; omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan 'n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie. Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie. En nog baie duideliker is dit as daar 'n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek, een wat dit geword het nie kragtens die wet van 'n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe. Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Want aan die een kant is daar die opheffing van die voorafgaande gebod weens die swakheid en nutteloosheid daarvan, omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van 'n beter hoop waardeur ons tot God nader.
HEBREËRS 7:11-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As die volmaaktheid dan deur die Levitiese priesterdom was, (want daaronder het die volk die wet ontvang), wat was daar verder nodig dat 'n ander priester sou opstaan volgens die orde van Melgisédek, en nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Omdat die priesterskap verander word, word daar ook noodwendig 'n verandering van die wet gemaak. Want hy van wie hierdie dinge gespreek word, behoort aan 'n ander stam, waarvan niemand by die altaar opgetree het nie. Want dit is duidelik dat ons Here uit Juda ontstaan het; van watter stam Moses niks oor priesterskap gespreek het nie. En dit is nog baie duideliker: want ná die gelykenis van Melgisédek het daar 'n ander priester opgestaan, Wie is gemaak, nie volgens die wet van 'n vleeslike gebod nie, maar volgens die krag van 'n eindelose lewe. Want hy getuig: U is 'n priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Want daar is waarlik 'n vernietiging van die gebod wat voorlê weens die swakheid en nutteloosheid daarvan. Want die wet het niks volmaak gemaak nie, maar die inbring van 'n beter hoop. Waardeur ons tot God nader.