HEBREËRS 6:13-19
HEBREËRS 6:13-19 Bybel vir almal (ABA)
Daar is niemand wat belangriker is as God nie. Toe Hy vir Abraham 'n belofte gemaak het, het God nie gesê dat iemand sy getuie is nie. God was sy eie getuie toe Hy vir Abraham belowe het en gesê het: “ So seker soos Ek lewe, Ek sal jou baie seën, Ek sal jou nageslag baie maak.” En so het Abraham geduldig gewag vir die dinge wat God belowe het, en daarna het die dinge met hom gebeur wat God belowe het. Want wanneer mense iets belowe, dan sê hulle gewoonlik iemand is die getuie, en die getuie is belangriker as hulleself. Hierdie belofte wys dan dat dit waar is wat hulle sê, en niemand kan dan nog daaroor stry nie. God wou baie graag wys dat die dinge wat Hy wil doen, nie kan verander nie. Hy wou dit wys vir die mense wat alles sal kry wat Hy belowe het. Daarom was God sy eie getuie om te wys dat die dinge wat Hy belowe het, seker is. God het dinge belowe en Hy is sy eie getuie, en hierdie twee dinge kan nie verander nie omdat God nie kan lieg nie. Ons het na God toe gevlug. Daarom kan ons baie seker wees dat die dinge nog sal gebeur, en ons kan hoop en wag daarvoor. Ons hoop en ons wag vir die dinge wat sal gebeur, daarom is ons lewe veilig en daarom kan ons vas glo. Dit is soos 'n anker wat keer sodat 'n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is, Jesus wat agter die gordyn in die tempel ingaan.
HEBREËRS 6:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het. Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak. Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met 'n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as 'n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel
HEBREËRS 6:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met 'n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met 'n eed by Homself bevestig en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou 'n baie groot nageslag gee.” En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.
HEBREËRS 6:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe God aan Abraham 'n belofte gemaak het, het Hy, aangesien Hy niemand belangriker gehad het om by te sweer nie, by Homself gesweer. Hy het gesê: “Ek sal jou ryklik seën, en jou veelvuldig laat vermeerder.” En so, terwyl hy geduldig gewag het, het hy die belofte verkry. Mense sweer immers by iemand belangriker as hulle, en die eed tot bevestiging beteken vir hulle die einde van alle teenspraak. Omdat God vir die erfgename van die belofte nog soveel sekerder wou aantoon hoe onveranderlik sy besluit was, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, 'n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. Ons het hierdie hoop as 'n veilige en stewige anker van die •siel, wat tot aan die binnekant van die voorhangsel ingaan.
HEBREËRS 6:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want toe God aan Abraham 'n belofte gemaak het, omdat hy by geen groter kon sweer nie, het hy by homself gesweer: en gesê: Waarlik, ek sal jou seën, en ek sal jou vermenigvuldig. En so, nadat hy geduldig verduur het, het hy die belofte verkry. Want mense sweer waarlik by die groter, en 'n eed tot bevestiging is vir hulle die einde van alle twis. Waarin God, wat meer gewillig was om aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad te toon, dit deur 'n eed bevestig het: Sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit vir God onmoontlik was om te lieg, 'n sterk vertroosting kan hê, wat gevlug het vir skuiling om vas te hou aan die hoop wat voor ons lê: wat ons hoop het as 'n anker van die siel, vas en vas, en wat ingaan in die binnekant van die voorhangsel
HEBREËRS 6:13-19 Die Boodskap (DB)
God het Abraham iets beloof. Om vir Abraham te wys hoe ernstig Hy is, het Hy ’n eed afgelê. Om ’n eed te neem moet iemand die gesag van iets groters as hyself inroep. Vir God is daar egter nie iets wat groter is as Hy nie. Daarom het God Homself ingeroep en vir Abraham gesê: “Ek sal baie goed vir jou wees en vir jou ’n groot nageslag gee.” Abraham het geduldig gewag tot God gedoen het wat Hy beloof het. Soos ek gesê het, as iemand ’n eed neem, roep hy die gesag in van iets of iemand wat groter is as hy. Dan twyfel niemand meer dat die persoon ernstig is oor wat hy sê nie. Daarom het God ook ’n eed geneem. Hy wou doodseker maak dat nie Abraham of sy nageslag sou twyfel dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie. Daar is nou twee dinge wat soos ’n paal bo water staan en nooit verander sal kan word nie: daar is die belofte van God en die eed wat Hy geneem het. En God kan nie lieg nie. Ons wat na God toe is om gered te word kan daarom vir seker weet dat God sy beloftes sal hou. Om God so te vertrou is soos ’n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God self in die heiligste van heilige plekke.
HEBREËRS 6:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê: “Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.” En so het Abraham volgehou en begin ontvang wat God beloof het. Mense lê gewoonlik ’n eed af by iemand wat belangriker as hulleself is. Vir hulle is die eed dan absoluut bindend. Daar kan geen dispuut daaroor wees nie. Omdat God bo alle twyfel vir hulle wat die belofte ontvang het, wou bewys hoe onwrikbaar vas sy besluit staan, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Hy het dus vir ons ’n belofte sowel as ’n eed gegee. Hierdie twee dinge waarborg dat God sy woord sal hou. En so het ons wat onsself aan God toevertrou het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die vooruitsig wat vir ons wink. Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn.