HEBREËRS 4:9-12
HEBREËRS 4:9-12 Bybel vir almal (ABA)
Daarom sal die volk van God nog kom in die land waar hulle veilig kan woon en kan rus, soos hulle op die Sabbatdag rus. Want wanneer God iemand laat rus, dan werk die persoon nie meer nie, soos God gerus het toe Hy klaar gewerk het. Daarom moet ons hard probeer om daardie rus by God te kry, sodat niemand van ons so ongehoorsaam sal wees soos Israel was nie. Want die boodskap van God is nie woorde wat dood is en niks beteken nie, dit kan werk en dinge doen. Dit is skerper as die skerpste swaard, dit kan diep oopsny, tot by 'n mens se lewe en gees, tot by sy murg en die bene in sy liggaam. Dit kan sien wat is reg en wat is verkeerd wanneer 'n mens dink en graag dinge wil doen.
HEBREËRS 4:9-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
HEBREËRS 4:9-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.
HEBREËRS 4:9-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar bly dus steeds 'n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.
HEBREËRS 4:9-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar bly dus rus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, hy het ook opgehou van sy eie werke, soos God van syne gedoen het. Laat ons ons dan arbei om in daardie rus in te gaan, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongeloof val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die gedagtes en bedoelings van die hart.
HEBREËRS 4:9-12 Die Boodskap (DB)
Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het. Iemand wat vir ewig saam met God sal rus, sal net soos God rus nadat Hy alles gemaak het. Ons moet nie die voorbeeld van die ou Israeliete volg en by God in die moeilikheid beland soos hulle nie. Hulle wou mos nie na God luister nie. Ons moet egter ons uiterste bes probeer om seker te maak dat ons vir ewig saam met God sal gaan rus. Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie.
HEBREËRS 4:9-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar wag dus nog ’n heel spesiale rus vir God se volk. Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy eie skeppingswerk gerus het. Kom ons span dan alles in om daardie rus binne te gaan sodat niemand van ons dalk hulle slegte voorbeeld van ongehoorsaamheid volg en ook omkom nie. Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.