HEBREËRS 2:11-18
HEBREËRS 2:11-18 Die Boodskap (DB)
Dit is Jesus wat sorg dat mense na God toe mag gaan, en die mense wat deur Jesus vir God aanvaarbaar gemaak word, behoort aan dieselfde gesin. Daarom is Jesus nie skaam om hulle sy broers en susters te noem en hulle so te behandel nie. Hy sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.” Dit het Hy ook nog oor die familie gesê: “Ook Ek vertrou God altyd,” en: “Kyk, hier is Ek en al die kinders wat God My gegee het.” Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het. Op dié manier kon Hy ook doodgaan om so die duiwel op sy plek te sit. Dit is mos juis die duiwel wat mense doodmaak. So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het. Ons weet goed dat Hy nie al die moeite gedoen het om die hemelse wesens te kom help nie. Hy het dit gedoen om mense te kom help. Daarom was dit nodig dat Jesus in elke opsig ’n mens moes word, net soos ons, sy broers en susters. So kan Hy regtig namens mense die diens aan God bewys wat God verwag. Hy kan die hoëpriester wees wat simpatie met mense het en wat mense se belange op sy hart dra. So kan Hy daarvoor sorg dat mense se sondes vergewe word en nie teen hulle gehou sal word nie. Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help.
HEBREËRS 2:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Ja, Jesus wy mense om aan Hom te behoort, en die mense wat Hy wy, het almal dieselfde Vader. Daarom is Jesus nie skaam om hulle broer te wees nie. Want Jesus sê: Ek sal vir my vriende vertel wat U gedoen het, Ek sal U prys daar waar hulle bymekaar is. En Jesus sê ook: Ek sal aanhou om op Hom te vertrou, en Hier is Ek en die kinders wat God vir My gegee het. Hierdie kinders was regte mense, en daarom het Jesus ook 'n regte mens geword, soos hulle. Jesus was 'n mens sodat Hy kon sterf en so kon Hy die krag heeltemal wegvat van die een wat sterker is as die dood, dit is die duiwel. Jesus het 'n mens geword sodat Hy al die mense vry kon maak wat hulle hele lewe lank soos slawe was omdat hulle bang was om te sterf. Want dit is seker: Jesus is nie bekommerd oor die engele nie, Hy is bekommerd oor die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in alles word soos sy broers, sodat Hy goed kan wees vir hulle en 'n Hoëpriester kan wees wat sy werk goed doen. Sy werk is om te doen wat God wil hê en om die sondes van die volk te versoen. Jesus het self baie swaar gekry, en die duiwel het probeer om Hom te verlei, daarom kan Hy mense help wanneer die duiwel hulle ook wil verlei.
HEBREËRS 2:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
HEBREËRS 2:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.” Ook sê Hy: “Ek sal altyd op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.” Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
HEBREËRS 2:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, wanneer Hy sê: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig, in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” En ook: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” En ook: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.
HEBREËRS 2:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hy wat heilig sowel as die wat geheilig word, is almal uit een; daarom is hy nie skaam om hulle broers te noem nie, en gesê: Ek sal u naam aan my broers verkondig, te midde van die gemeente sal ek tot eer van u sing. En weer, ek sal my vertroue op hom stel. En verder: Kyk, ek en die kinders wat God my gegee het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het hy ook self daaraan deelgeneem; sodat Hy deur die dood hom kon vernietig wat mag oor die dood het, dit is die duiwel; En verlos hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy het nie die natuur van engele aangeneem nie; maar hy het die nageslag van Abraham op hom geneem. Daarom moes Hy in alles aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge van God, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, is Hy in staat om dié te help wat versoek word.
HEBREËRS 2:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat heilig maak – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie. Want Hy sê vir God: “Ek sal u Naam bekendmaak aan my broers en susters. Ek sal in u gemeente u lof besing.” Hy sê ook: “Ek sal vas op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek saam met die kinders wat God My gegee het.” Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel. Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het. Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie. Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te verrig en die sondes van God se volk te versoen. Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.