HEBREËRS 13:17-21
HEBREËRS 13:17-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom. God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
HEBREËRS 13:17-21 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet luister na julle leiers en julle moet doen wat hulle vir julle sê, want hulle hou aan om julle op te pas, hulle sal eendag vir God moet sê hoe dit met julle gaan. As julle luister na hulle, dan sal hulle bly kan wees terwyl hulle vir julle help, hulle sal dan nie kla en sug nie, want dit sal nie goed wees vir julle nie. Julle moet aanhou om vir ons te bid, want ons is seker dat ons goed weet wat is reg en wat is verkeerd, omdat ons heeltemal reg wil lewe. Daarom vra ek vir julle nog baie ernstiger om vir my te bid, sodat God vir my gouer kan terugstuur na julle toe. Die God wat vrede gee, het ons Here Jesus, die groot Herder van die skape, weer laat lewe. God het dit gedoen omdat Hy sy ewige verbond met ons gemaak het toe die bloed van ons Here Jesus gevloei het. Ons bid dat God vir julle alles sal gee wat goed is, sodat julle kan doen wat Hy wil hê, en ons bid dat Jesus Christus vir julle sal help om die dinge te doen waarvan God baie hou. Daarom moet ons God altyd prys. Amen.
HEBREËRS 13:17-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie. Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles goed wil wandel. Des te meer vermaan ek julle om dit te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word. MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.
HEBREËRS 13:17-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee – sodat hulle dit met vreugde kan doen, en nie al sugtend nie, want dit sal vir julle nie goed wees nie. Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles daarna streef om eerbaar te leef. Veral pleit ek dat julle dit sal doen, sodat ek binnekort na julle teruggebring sal word. En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! •Amen!
HEBREËRS 13:17-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Gehoorsaam die wat oor julle heers, en onderdanig julle, want hulle waak oor julle siele, soos die wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit kan doen met blydskap en nie met droefheid nie, want dit is vir julle nutteloos. Bid vir ons, want ons vertrou dat ons 'n goeie gewete het, in alles gewillig om eerlik te lewe. Maar ek smeek julle om dit liewer te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word. En die God van vrede, wat ons Here Jesus, die groot herder van die skape, uit die dood teruggebring het deur die bloed van die ewige verbond, Maak julle volmaak in elke goeie werk om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor sy oë, deur Jesus Christus; aan wie kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen.
HEBREËRS 13:17-21 Die Boodskap (DB)
Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees. Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie. God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan. Hierdie Jesus is ook die groot Herder wat na sy skape kyk. Mag hierdie God van vrede julle alles gee wat julle nodig het sodat julle kan doen wat Hy van julle verwag. Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees. Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen.
HEBREËRS 13:17-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe, want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie. Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree. Ek vra veral dringend dat julle sal bid dat God my binnekort aan julle sal terugbesorg. Mag die God wat vrede gee, wat Jesus ons Here uit die dood teruggebring het – Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het – julle toerus met alles wat goed is sodat julle sy wil kan uitvoer. Mag Hy, deur Jesus Christus se bemagtiging, in ons tot stand bring wat God se hart sal bly maak. Aan Hom kom die heerlikheid toe vir altyd en altyd! Amen.