HEBREËRS 12:24-29
HEBREËRS 12:24-29 Bybel vir almal (ABA)
Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons 'n beter boodskap bring as die bloed van Abel. Julle moet oppas, julle moenie ongehoorsaam wees aan Hom wat met julle praat nie. Want toe God daardie mense voorheen op die aarde gewaarsku het, wou hulle nie luister na Hom nie, en hulle kon nie wegvlug van Hom nie. Ja, dit is waar, God waarsku nou vir ons uit die hemel, en julle weet dat as ons nie wil luister na God nie, dan sal ons ook nie kan vlug nie, dit sal nog slegter gaan met ons as met daardie mense wat ook nie kon vlug nie. In daardie tyd het God hard gepraat en sy stem het die aarde geskud, maar nou het Hy belowe: “ Ek sal nog een maal die aarde skud en Ek sal ook die hemel skud.” En hierdie woorde, “nog een maal”, sê duidelik dat God die dinge sal wegneem, die dinge wat Hy gemaak en geskud het, sodat net die dinge wat niemand kan skud nie, sal oorbly. Dit is seker dat God ons wil laat kom daar waar Hy Koning is, en daarom moet ons dankie sê vir God. Ons is dankbaar, en daarom moet ons vir God dien soos Hy wil hê, en ons moet Hom eer en respekteer, want ons God is ook soos 'n vuur wat alles verbrand.
HEBREËRS 12:24-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel. Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde 'n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:24-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel. Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly. Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:24-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel. Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:24-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En aan Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en vir die bloed van besprenkeling, wat beter dinge spreek as dié van Abel. Pas op dat julle hom wat spreek nie weier nie. Want as hulle nie ontvlug het wat Hom verwerp het wat op aarde gespreek het nie, veel meer sal ons nie ontvlug nie, as ons afwyk van Hom wat uit die hemel spreek. Wie se stem toe die aarde geskud het, maar nou het Hy dit beloof en gesê: Nog een maal bewe Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel. En hierdie woord, nog eens, dui op die verwydering van die dinge wat geskud word, as van die dinge wat gemaak is, sodat die dinge wat nie geskud kan word nie, kan bly. Daarom ontvang ons 'n onwankelbare koninkryk, laat ons genade hê, waardeur ons God welbehaaglik kan dien met eerbied en godvrugtige vrees. Want ons God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:24-29 Die Boodskap (DB)
Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel. Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan. Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.” Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees. God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is. Daar staan nie verniet geskryf nie: “God is soos ’n vuur wat alles tot as kan verbrand.”
HEBREËRS 12:24-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het. Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. As die Israeliete nie ongestraf kon wegkom toe hulle Hom wat sy stem op aarde laat hoor het, afgewys het nie, hoeveel minder sal ons kan wegkom as ons die stem uit die hemel afwys! Destyds het God se stem van Sinaiberg af die aarde geskud. Maar nou kondig Hy aan: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Die “nog een keer” wys daarop dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, plek sal maak vir die onwankelbare, ewige dinge. Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien. Want daar staan ook: “Ons God is ’n verterende vuur.”