HEBREËRS 11:7-10
HEBREËRS 11:7-10 Die Boodskap (DB)
Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou.
HEBREËRS 11:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het. Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou.
HEBREËRS 11:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
HEBREËRS 11:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.
HEBREËRS 11:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, 'n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en 'n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.
HEBREËRS 11:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Deur die geloof het Noag, toe hy deur God gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien is nie, en hy het met vrees beweeg en 'n ark gereed gemaak om sy huis te red; waardeur Hy die wêreld veroordeel het en erfgenaam geword het van die geregtigheid wat uit die geloof is. Deur die geloof het Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te gaan na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het uitgegaan sonder om te weet waarheen hy gegaan het. Deur geloof het hy as vreemdeling vertoef in die land van die belofte, soos in 'n vreemde land, en in hutte gewoon saam met Isak en Jakob, die erfgename saam met hom van dieselfde belofte. Want hy het gewag na 'n stad wat fondamente het, waarvan God die bouer en oprigter is.
HEBREËRS 11:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het.