HEBREËRS 11:20-31
HEBREËRS 11:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen. Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die Israeliete se uittog uit Egipte en opdrag gegee dat hulle sy beendere moes saamneem. Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie. Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde. Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee. Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou. Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie. Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.
HEBREËRS 11:20-31 Bybel vir almal (ABA)
Isak het in God geglo, en daarom het Isak vir Jakob en Esau geseën, Isak het hulle geseën ook oor dinge wat nog later sal gebeur. Jakob het in God geglo, en daarom het Jakob altwee die seuns van Josef geseën en het hy God aanbid terwyl hy oor die knop van sy kierie gebuig het. Jakob het dit gedoen terwyl hy besig was om te sterf. Josef het in God geglo, en daarom het Josef daaroor gepraat dat die nageslag van Israel sal terugkom uit Egipte na hulle land. Hy het dit gesê kort voordat hy gesterf het, en hy het ook gesê wat hulle ná sy dood met sy liggaam moet doen. Moses se ouers het in God geglo, en daarom het hulle vir Moses drie maande lank weggesteek nadat hy gebore is. Hulle het dit gedoen omdat hulle gesien het die kind is baie mooi, en hulle was nie bang vir wat die koning gesê het nie. Moses het groot geword en hy het in God geglo. Daarom wou hy nie hê dat mense hom die seun van die farao se dogter moet noem nie. Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir 'n kort tydjie die sonde te geniet nie. Want Moses het gedink dat wanneer mense hom beledig soos hulle later die Christus beledig het, dan is hy ryker as wanneer hy al die mooi en duur goed van Egipte sal hê, want Moses wou graag die beloning kry. Moses het in God geglo, dáárom het hy weggegaan uit Egipte, en nié omdat hy bang was vir die koning wat baie kwaad geword het nie. Moses het dit gedoen omdat hy was soos iemand wat vir God kon sien, ander mense kon nie vir God sien nie. Moses het in God geglo, en daarom het hy gesê die Israeliete moet die Paasfees vier en mense moet bloed spat teen die deure se rame sodat die engel wat mense moet doodmaak, nie die oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van die Israeliete begin doodmaak nie. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het hulle deur die Rooi See gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenaars dit probeer doen het, het hulle in die see verdrink. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het. Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie.
HEBREËRS 11:20-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf. Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente. Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie. Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien. Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het. Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.
HEBREËRS 11:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam. Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie. Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.
HEBREËRS 11:20-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met betrekking tot toekomstige dinge. Deur geloof het Jakob, terwyl hy sterwend was, elkeen van die seuns van Josef geseën, en “het hy in aanbidding gebuig oor die bopunt van sy staf”. Deur geloof het Josef, toe hy op sy einde was, van die uittog van die kinders van Israel melding gemaak, en het hy opdrag gegee in verband met sy beendere. Deur geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande lank deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die kindjie mooi was, en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie. Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die •Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien. Deur geloof het hy die Pasga ingestel en die bloed laat aansmeer, sodat die doodsengel nie aan hulle •eersgeborenes sou raak nie. Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë land, terwyl die Egiptenare, toe hulle dit probeer doen het, verdrink het. Deur geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar vir sewe dae rondom die stad getrek is. Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.
HEBREËRS 11:20-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën oor die toekomstige dinge. Deur geloof het Jakob, toe hy op sterwe was, albei die seuns van Josef geseën; en aanbid en op die top van sy staf geleun. Deur die geloof het Josef, toe hy gesterf het, melding gemaak van die vertrek van die kinders van Israel; en bevel gegee aangaande sy gebeente. Deur die geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande van sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat hy 'n behoorlike kind was; en hulle was nie bevrees vir die bevel van die koning nie. Deur geloof het Moses geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word. Deur verkies om liewer saam met die volk van God verdrukking te ly as om vir 'n tyd lank die plesier van die sonde te geniet; Hy het die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte in Egipte, want hy het gerespekteer op die vergelding van die beloning. Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volhard soos hy die Onsienlike sien. Deur geloof het Hy die pasga en die besprenkeling van bloed gehou, sodat hy wat die eersgeborenes omgebring het, hulle nie sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle deur die Rooi See getrek soos deur droë grond; wat die Egiptenaars probeer doen het, is verdrink. Deur geloof het die mure van Jerigo geval nadat hulle omtrent sewe dae lank omsingel was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie omgekom saam met die ongelowiges nie, toe sy die spioene met vrede ontvang het.
HEBREËRS 11:20-31 Die Boodskap (DB)
Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof. Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat. Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak. Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie. Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem. Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar. Dit was vir hom baie beter dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê. Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys. Hy het vir die Israeliete gesê om die paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie. Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink. Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie.