HEBREËRS 10:32-39
HEBREËRS 10:32-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, 'n geweldige stryd van lyding deurstaan het. Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle 'n beter en blywende besitting het. Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou 'n groot beloning in. Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry. Want nog net “'n baie kort rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. My regverdige sal deur geloof leef. As hy hom egter sou onttrek, het Ek geen behae in hom nie.” Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe.
HEBREËRS 10:32-39 Die Boodskap (DB)
Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie. Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God: “Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.” Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.
HEBREËRS 10:32-39 Bybel vir almal (ABA)
Maar julle moet onthou dat julle baie swaar gekry het in daardie tyd toe julle gelowiges geword het, maar julle het aangehou om in Christus te glo. Party maal het mense slegte dinge gesê van julle en hulle het vir julle gespot en vir julle laat swaarkry, maar ander dae het julle swaargekry omdat julle vriende was met mense wat ook so swaar gekry het. Want julle was ook jammer vir die gevangenes. En toe mense julle goed gevat het, het julle dit aanvaar en julle het nie opgehou om bly te wees nie. Julle het dit gedoen omdat julle geweet het dat God vir julle iets gegee het wat beter is, en julle sal dit altyd hê. Daarom moet julle aanhou om in Christus te glo en julle moenie bang wees nie. As julle aanhou glo, dan gee God vir julle 'n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het. Want: Dit sal nog net 'n baie kort tydjie wees, dan sal die Man kom wat moet kom, Hy sal nie lank wegbly nie. Hy wat gehoorsaam is aan My en wat reg lewe, sal aanhou lewe omdat hy My vertrou. Maar as hy ophou om te glo, dan is Ek nie tevrede met hom nie. Maar ons is nie mense wat ophou glo nie, en daarom sal ons nie verlore gaan nie. Nee, ons is mense wat in Christus glo en daarom sal ons die ewige lewe kry.
HEBREËRS 10:32-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, 'n groot lydensworsteling deurstaan het, gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge 'n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so 'n toestand verkeer het. Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself 'n beter en blywende besitting in die hemele het. Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.
HEBREËRS 10:32-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Nog net “'n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.
HEBREËRS 10:32-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar herinner aan die vorige dae, waarin julle, nadat julle verlig is, 'n groot stryd van verdrukkinge verduur het; Gedeeltelik, terwyl julle deur smaad en beproewinge 'n aanskoue gemaak is; en deels, terwyl julle metgeselle geword het van die wat so gebruik is. Want julle het medelye met my gehad in my boeie en het die buit van julle goed met blydskap geneem, omdat julle in julleself geweet het dat julle in die hemel 'n beter en blywende goed het. Werp dan julle vrymoedigheid nie weg nie, wat 'n groot beloning het. Want julle het geduld nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte kan ontvang. Want nog 'n klein rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie uitbly nie. Nou sal die regverdige uit die geloof lewe, maar as iemand hom terugtrek, sal my siel geen behae in hom hê nie. Maar ons is nie van hulle wat terugtrek na die verderf nie; maar van die wat glo tot redding van die siel.
HEBREËRS 10:32-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het. Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is. Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het. Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het. Nog net, soos die Skrif sê, “’n baie kort tydjie, en Hy wat op pad is, sal kom. Hy sal nie talm nie. Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe. Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.” Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.