HEBREËRS 10:26-31
HEBREËRS 10:26-31 Bybel vir almal (ABA)
Want as ons sonde doen en ons weet dat ons sonde doen, maar ons doen dit nadat ons geleer het en weet wat die waarheid is, dan sal 'n sonde-offer nie meer help om ons sondes te vergewe nie. Nee, dan moet ons bang wees omdat ons weet dat God ons sal oordeel, sy straf sal wees soos 'n baie warm vuur wat almal verbrand wat teen God is. Wanneer twee of drie getuies sê dat iemand ongehoorsaam was aan die Wette van Moses, dan moet daardie persoon sterf. As dit so is, wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die Seun van God nie belangrik is nie? Of wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die bloed onrein is, die bloed wat wys dat God 'n verbond met julle gemaak het? Dit is hierdie bloed, die bloed van die Seun, waarmee God die persoon gewy het wat so dink. En wat dink julle sal gebeur met iemand wat slegte dinge gesê het van die Heilige Gees wat goeie dinge vir ons gee? God sal so iemand baie swaarder straf as iemand wat nie geluister het na die Wette van Moses nie. Want ons weet wie hierdie woorde gesê het: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Hy het ook gesê: Die Here sal sy volk oordeel. Almal moet bang wees wanneer God oordeel, die God wat lewe.
HEBREËRS 10:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.
HEBREËRS 10:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.
HEBREËRS 10:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer 'n offer vir ons sondes oor nie, maar wel 'n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. Wanneer iemand die •Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? Want ons ken Hom wat gesê het: “Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld.” en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.” Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!
HEBREËRS 10:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want as ons opsetlik sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, Maar 'n sekere vreesaanjaende verlange na oordeel en vurige grimmigheid, wat die teëstanders sal verteer. Hy wat Moses se wet verag het, het sonder genade gesterf onder twee of drie getuies. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy waardig geag word, wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die verbond waarmee Hy geheilig is, as onheilig geag en aan die Gees gehandel het en van genade? Want ons ken Hom wat gesê het: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here. En weer, die Here sal sy volk oordeel. Dit is vreeslik om in die hande van die lewende God te val.
HEBREËRS 10:26-31 Die Boodskap (DB)
As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.” Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê.
HEBREËRS 10:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak. Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het. Ons ken tog die Een wat gesê het: “Ék sal die straf voltrek, Ek sal die kwaad vergeld.” En verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.