HEBREËRS 1:3-4
HEBREËRS 1:3-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.
HEBREËRS 1:3-4 Bybel vir almal (ABA)
Die Seun wys dat God die Koning is, en die Seun is presies soos God. Wanneer die Seun sê dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. Hy laat alles gebeur. Hy het die mense gereinig van hulle sondes, en Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die Koning in die hemel. Die Seun het belangriker geword as die engele. Daarom het God vir Hom 'n Naam gegee wat belangriker is as die naam van die engele.
HEBREËRS 1:3-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy 'n voortrefliker naam geërf het as hulle.
HEBREËRS 1:3-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese. Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; en nadat Hy die reiniging van sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes. Hy is hoog bo die engele verhef, net soos wat Hy 'n Naam geërf het wat uitnemender as hulle s'n is.
HEBREËRS 1:3-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy, wat die glans van sy heerlikheid en die uitdruklike beeld van sy wese was, en alles onderhou deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself ons sondes gereinig het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte; Hy is soveel beter gemaak as die engele, omdat Hy 'n voortrefliker naam as hulle verkry het.
HEBREËRS 1:3-4 Die Boodskap (DB)
Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe. Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle.
HEBREËRS 1:3-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon. Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele.