HEBREËRS 1:1-9

HEBREËRS 1:1-9 Bybel vir almal (ABA)

God het lank gelede baie maal en op baie maniere gepraat met ons voorouers. Hy het verskillende profete na hulle toe gestuur. Maar nou aan die einde van hierdie tyd het God sy Seun gestuur. Só het God met ons gepraat. God het besluit dat die Seun alles moet erf, want God en die Seun het die hemel en die aarde gemaak. Die Seun wys dat God die Koning is, en die Seun is presies soos God. Wanneer die Seun sê dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. Hy laat alles gebeur. Hy het die mense gereinig van hulle sondes, en Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die Koning in die hemel. Die Seun het belangriker geword as die engele. Daarom het God vir Hom 'n Naam gegee wat belangriker is as die naam van die engele. Die Seun van God is belangriker as die engele, want God het nooit vir een van die engele hierdie woorde gesê nie: Jy is my Seun, Ek is van vandag af jou Vader. En ook nie: Ek sal vir Hom soos 'n pa wees en Hy sal vir My soos 'n seun wees. God het ook gepraat toe Hy die Seun, wat belangriker is as almal, ingebring het in die hemel, die hemel wat nie verander nie en wat altyd daar sal wees. God het gesê: Al die engele van God moet Hom aanbid. God sê van die engele: God stuur sy engele soos Hy die winde stuur, die weerlig werk vir Hom. Maar God sê oor die Seun: U, o God, sal altyd Koning bly, U is regverdig wanneer U oor mense regeer. U was lief vir wat reg is en U het gehaat wat verkeerd is. Daarom, o God, het u God vir U gesalf en Hy het vir U meer vreugde gegee as vir ander konings.

HEBREËRS 1:1-9 Die Boodskap (DB)

Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun, aan wie God alles gegee het. Deur hierdie Seun het God alles gemaak wat bestaan. Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe. Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle. Daar is nie enige hemelse wese oor wie God ooit die dinge gesê het wat Hy oor sy Seun gesê het nie. Vir wie van hulle het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; Ek is jou Vader van vandag af,” of: “Ek is sy Vader en Hy is my Seun”? God het hierdie Seun van Hom die spesiale ereposisie as die oudste Seun gegee. Dit is ’n besondere voorreg. God sê dan: “Al die hemelse wesens moet Hom dien soos hulle My dien.” Wanneer God van die hemelse wesens praat, sê Hy wel: “God maak sy boodskappers soos die wind en sy dienaars soos weerligstrale.” Maar van sy Seun sê Hy: “U, o God, sal vir ewig en altyd heers. Soos ’n koning sal U vir altyd goed en reg regeer. U hou van dinge wat reg is en wil niks te doen hê met dinge wat verkeerd is nie. God het U gevra om oor alles te heers, terwyl almal baie bly was daaroor. Nie een van die ander wat saam met U daar was, het ’n kans gestaan nie.”

HEBREËRS 1:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat. Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak. Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon. Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele. God het tog nooit vir enige engel gesê wat Hy vir Jesus gesê het nie: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” Op ’n ander plek sê God weer: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees.” En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “En laat al die engele van God Hom aanbid.” God sê van die engele: “Hy verander sy engele in stormwinde, sy dienaars in vuurvlamme.” Maar vir die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir altyd onwankelbaar vas. U koninklike heerskappy word gekenmerk deur regverdigheid. U het lief wat reg is en U haat wat verkeerd is. Daarom het, o God, u God U met jubelende vreugde tot koning gesalf – ver verhewe bo almal saam met U.”