HAGGAI 2:15-19
HAGGAI 2:15-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die HERE se tempel begin lê het. Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer. Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die HERE. “Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember, die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur: Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.”
HAGGAI 2:15-19 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet kyk wat nou met julle sal gebeur. Voordat julle begin het om hierdie tempel weer te bou, het julle swaargekry. “Wanneer iemand by 'n hoop koring gekom het en gedink het daar is 20 kruike vol koring, dan was daar net tien. Wanneer hy by 'n parskuip gekom het en gedink het daar is 50 kruike vol wyn, dan was daar net 20. Hoekom? Ek het julle gestraf, Ek het julle koring siek laat word. Ek het hael gestuur om julle koring en alles wat julle geplant het, stukkend te slaan. Maar julle het nie gevra dat Ek julle moet help nie,” sê die Here. “Vandag is die 24ste dag van die negende maand, en julle het nou die fondament van die Here se tempel klaar gebou. Julle moet kyk wat van nou af sal gebeur. Is daar nog saad in julle stoorkamers? Nee. Daar was niks vrugte aan julle wingerdstokke, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie. Maar van vandag af sal Ek julle seën.”
HAGGAI 2:15-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die HERE, in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig. Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael — al die werk van julle hande — nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die HERE. Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die HERE gelê het; merk op: Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën.
HAGGAI 2:15-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Let daarom op wat in die verlede en tot nou toe gebeur het: voordat julle begin het om die tempel van die Here te herbou, het julle by 'n hoop koring gekom en net die helfte van wat julle geskat het, daaruit gedors. Julle het na 'n parskuip toe gegaan om vyftig vate vol te skep, maar julle het net twintig gekry. Ek het julle oes, die vrug van julle handewerk, swaar getref met brandkoring, heuningdou en hael, en nogtans het niemand hom tot My bekeer nie, sê die Here. Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal Ek voorspoed gee!
HAGGAI 2:15-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Daarom dan, neem voortaan ter harte hoe dit met julle gegaan het voordat klip op klip in die •tempel van die HERE gelê is: As iemand na 'n koringmied van twintig mate gegaan het, was daar maar net tien! As hy na die parskuip gegaan het om vyftig mate wyn uit die kuip te skep, was daar maar net twintig. Ek het julle getref met skimmel en witroes en hael, ja, al die werk van julle hande, maar julle wou nie na My terugkeer nie, is die uitspraak van die HERE. “ Neem ter harte hoe dit van vandag af gaan wees, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondament van die tempel van die HERE gelê is; ja, neem dit ter harte. Is daar nog saad in die stoorkamer? Die wingerd, die vyebome, granate en olyfbome het nie eers gedra nie! Van vandag af sal Ek julle seën.”
HAGGAI 2:15-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nou, let tog op van vandag af en verder, van voordat 'n klip op 'n klip gelê is in die tempel van die HERE. Van daardie dae af, toe 'n mens by 'n hoop van twintig mate gekom het, was daar maar tien; toe 'n mens by die persvet kom om vyftig houers uit die pers te haal, was daar maar twintig. Ek het jou geslaan met blaaskorrels en met heuningdou en met hael in al die arbeid van jou hande; tog het julle julle nie tot My gewend nie, spreek die HERE. Let nou op van vandag af en verder, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, ja, van die dag af dat die fondament van die tempel van die HERE gelê is, let daarop. Is die saad nog in die skuur? ja, die wingerdstok en die vyeboom en die granaat en die olyfboom het nog nie voortgebring nie; van vandag af sal Ek jou seën.
HAGGAI 2:15-19 Die Boodskap (DB)
“Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie. Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry. Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie. “‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken. Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.”
HAGGAI 2:15-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die HERE se tempel begin lê het. Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer. Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die HERE. “Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember, die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur: Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.”