GENESIS 44:1-34

GENESIS 44:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Josef het vir die bestuurder van sy huis gesê: “Maak die manne se sakke vol koring. Maak dit so vol soos hulle kan dra en sit elkeen se geld terug in sy sak. My beker, die silwer beker, moet jy bo in die sak van die jongste broer sit saam met die geld vir sy koring.” Die bestuurder het gedoen wat Josef vir hom gesê het. Toe dit lig word die volgende oggend, het Josef se slawe die broers met hulle donkies laat gaan. Die broers was nog nie ver van die stad nie, toe sê Josef vir die bestuurder van sy huis: “Volg daardie manne. As jy by hulle kom, dan moet jy vir hulle vra: ‘Hoekom doen julle slegte dinge aan my? Ek was goed vir julle. Waar is die beker waaruit Meneer drink? Dit is die beker wat hy gebruik as hy vooruit wil sê wat later sal gebeur. Julle het 'n baie slegte ding gedoen.’ ” Die bestuurder het toe by die broers gekom en hy het dit vir hulle gesê. Hulle het vir hom gesê: “Hoekom praat Meneer so? Ons sal nooit so iets doen nie. Ons het die geld wat ons bo in ons sakke gekry het, vir jou teruggebring uit Kanaän. Ons sal nooit silwer of goud uit jou meneer se huis steel nie. As jy die beker by een van ons kry, dan mag jy hom doodmaak, en dan word ons almal jou slawe.” Die bestuurder sê toe: “Goed, ons sal maak soos julle sê. Maar net die een by wie ek die beker kry, sal my slaaf word, julle ander mag gaan.” Elkeen sit toe gou sy sak op die grond neer en maak dit oop. Die bestuurder het in die sakke gesoek. Hy het by die oudste broer begin en by die jongste opgehou. Hy kry toe die beker in Benjamin se sak. Die broers het hulle klere geskeur omdat hulle hartseer en ontsteld was. Hulle het weer hulle goed op die donkies gelaai en teruggegaan na die stad. Toe Juda en sy broers by Josef se huis aankom, was Josef nog daar. Hulle het voor hom gaan lê met hulle gesigte teen die grond. Josef vra toe vir hulle: “Wat het julle gedoen? Julle wéét dat 'n man soos ek vooruit moet kan sê wat later sal gebeur.” Juda het vir hom geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons praat en hoe kan ons bewys dat ons onskuldig is? God het gewys dat ons skuldig is. Hier is ons nou, ons is Meneer se slawe, ons en ook die een by wie die beker was.” Josef sê toe: “Ek sal dit nooit doen nie. Die man by wie die beker was, hý moet my slaaf word. Julle ander mag teruggaan na julle pa toe.” Juda het nader gekom na Josef toe en hy het vir hom gesê: “Asseblief, Meneer, mag ek alleen met Meneer praat? Moenie kwaad word vir my nie, want jy is soos die farao. Toe ons die eerste maal hier was, het Meneer vir ons gevra of ons 'n pa en nog 'n broer het. En ons het vir Meneer gesê ons het 'n pa wat al oud is en ons het nog 'n broer. Hy is die jongste. Hy is gebore toe ons pa al oud was en hy het 'n ander ma as ons. Haar ander seun is dood, en ons jongste broer het alleen oorgebly. Sy pa is baie lief vir hom. Meneer het toe vir ons gesê ons moet hom na Meneer toe bring, want Meneer wil hom sien. Ons het vir Meneer gesê die seun kan nie weggaan van sy pa nie. As hy weggaan, dan sal sy pa sterf. Maar Meneer het vir ons gesê as ons nie ons jongste broer saambring nie, dan mag ons nie weer vir Meneer sien nie. Ons het toe by ons pa gekom en ons het vir hom gesê wat Meneer gesê het. “Eendag het ons pa vir ons gesê ons moet weer gaan kos koop, en toe het ons gesê ons kan nie gaan as ons jongste broer nie saam met ons gaan nie. As ons gaan en ons jongste broer is nie by ons nie, dan mag ons jou nie sien nie. Ons pa het vir ons gesê: ‘Julle weet dat ek net twee kinders by hierdie vrou gehad het. Die een kind het weggegaan van my, en ek dink 'n wilde dier het hom opgevreet. Ek het hom nog nie weer gesien nie, tot vandag toe nie. Ek is 'n ou man. As julle ook hierdie seun wegvat van my, en daar gebeur iets met hom, dan sal ek, 'n ou man, sterf van hartseer.’ As ek nou by my pa kom en die seun vir wie hy so lief is, is nie by ons nie, wat sal gebeur? My pa sal sterf as hy sien die seun is nie daar nie. Dan sal dit ons skuld wees as ons pa wat al 'n ou man is, sterf van hartseer. Ek het vir my pa belowe dat ek die seun goed sal oppas. Ek het gesê as hy nie terugkom na my pa toe nie, dan sal dit vir altyd my skuld wees. Meneer moet my asseblief hier in die seun se plek laat bly. Ek sal Meneer se slaaf wees, maar Meneer moet die seun saam met sy ander broers laat teruggaan. Ek kan nie na my pa toe gaan as die seun nie by my is nie. Ek wil nie sien hoe ongelukkig my pa dan sal wees nie.”

GENESIS 44:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe beveel Josef sy hoofamptenaar: “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak. En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan.” Die hoofamptenaar het gedoen wat Josef gesê het. Ligdag die volgende môre is die manne toe met hulle donkies daar weg. Hulle was nog nie ver uit die stad uit nie, toe sê Josef vir sy hoofamptenaar: “Kom, sit die manne agterna. En as jy hulle ingehaal het, moet jy vir hulle vra: Waarom beantwoord julle die goeie met die slegte? Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis 'n lelike ding wat julle gedoen het.” Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê, maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie. Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel? Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.” Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.” Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak. Die hoofamptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s'n begin en by die jongste s'n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry. Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe. Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer. Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat 'n man soos ek voorspellings moet doen!” Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.” Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.” Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self. Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het, en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’ Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien. Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’ Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie. En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het. Toe ons pa ons later weer vra om vir ons 'n bietjie kos te gaan koop, het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’ Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring. Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie. As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’ Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie, ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.” Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie. Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan. Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so 'n smart hom tref nie.”

GENESIS 44:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josef het die hoof van sy huishouding beveel: “Vul die manne se sakke met kos, soveel as wat hulle kan dra. Sit elkeen se silwer terug bo in sy sak. My beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit, saam met die silwer vir sy graan.” Hy het presies gedoen wat Josef gesê het. Die oggend toe dit lig word, is die manne weggestuur, hulle en hulle donkies. Hulle het die stad verlaat, maar was nog nie ver weg nie, toe sê Josef vir die hoof van sy huishouding: “Maak klaar, sit die manne agterna en wanneer jy hulle inhaal, moet jy vir hulle vra, ‘Waarom het julle goed met kwaad vergeld? Is dit nie waaruit my heer drink en waarmee hy altyd die toekoms voorspel nie? Julle het verkeerd opgetree met wat julle gedoen het!’ ” Hy het hulle toe ingehaal en hierdie woorde vir hulle gesê. Hulle sê toe vir hom: “Waarom sê my heer sulke woorde? U dienaars sal nooit so iets doen nie! Kyk, die silwer wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän vir u teruggebring. Hoe sal ons dan nou silwer of goud uit die huis van u heer steel? Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterf, en ons sal ook my heer se slawe word.” Hy het geantwoord: “Nou goed, soos julle sê, so sal dit wees: Die een by wie dit gevind word, sal my slaaf word; maar julle sal onskuldig wees.” Hulle het gou elkeen sy sak op die grond neergesit, en elkeen van hulle het sy sak oopgemaak. Hy het dit deursoek; by die oudste het hy begin en by die jongste geëindig. Die beker is toe in Benjamin se sak gevind! Toe skeur hulle hulle klere, laai elkeen sy donkie en keer terug na die stad. Toe Juda en sy broers by Josef se huis aankom, was hy nog daar. Hulle het voor hom op die grond neergeval. Josef het vir hulle gesê: “Wat is dit wat julle nou gedoen het? Besef julle nie dat 'n man soos ek altyd die toekoms moet voorspel nie?” Juda sê toe: “Wat kan ons vir my heer sê? Wat kan ons aanvoer? Hoe kan ons onsself regverdig? Dit is God wat die sondeskuld van u dienaars aan die lig gebring het. Kyk, ons is nou my heer se slawe, ons en ook die een by wie die beker gevind is.” Maar hy antwoord: “Ek sal so iets nooit doen nie. Die man by wie die beker gevind is, net hy sal my slaaf word. En julle, trek in vrede op na julle vader!” Juda gaan toe nader aan hom en sê: “Asseblief, my heer, laat u dienaar tog persoonlik met my heer praat. Moet u nie vir u dienaar vererg nie; u is immers soos die farao. My heer het sy dienaars gevra, ‘Het julle nog 'n vader of 'n broer?’ En ons het my heer geantwoord, ‘Ons het 'n ou vader en 'n jong broer, 'n kind van sy ouderdom. Sy eie broer is oorlede, en hy is al wat van sy moeder oorgebly het. Sy vader is lief vir hom.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘Bring hom af na my, dat ek hom onder oë kan kry.’ Ons het my heer geantwoord, ‘Die jong man kan nie sy vader verlaat nie. As hy sy vader verlaat, sal sy vader sterf.’ U het toe vir u dienaars gesê, ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle nie weer my gesig sien nie.’ Ons het daarna opgetrek na u dienaar, my vader, en hom die woorde van my heer meegedeel. Ons vader het gesê, ‘Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos!’ Maar ons het gesê, ‘Ons kan nie daarheen afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, kan ons gaan, want ons sal nie die man se gesig kan sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ En u dienaar, my vader, het vir ons gesê, ‘Julle weet self dat my vrou vir my net twee seuns in die wêreld gebring het. Die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: “Hy is sonder enige twyfel verskeur!” En ek het hom tot nou toe nie weer gesien nie. As julle nou hierdie een ook van my wegneem, en 'n noodlottige ramp tref hom, sal julle my grys hare deur teenspoed in die •doderyk laat afgaan.’ Daarom, as ek by u dienaar, my vader, aankom, en die jong man aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie – die oomblik dat hy sien die jong man is nie daar nie, sal hy sterf. U dienaars sal die grys hare van ons vader, u dienaar, met verdriet in die doderyk laat afgaan. Aangesien u dienaar borg gestaan het vir die jong man by my vader deur te sê, ‘As ek hom nie na u terugbring nie, sal ek altyd teenoor my vader skuldig staan,’ laat u dienaar asseblief dan nou in die plek van die jong man as slaaf van my heer agterbly. Maar die jong man, laat hy saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek, en die jong man is nie by my nie? Anders moet ek die ramp aanskou wat my vader tref.”

GENESIS 44:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het die opsigter van sy huis bevel gegee en gesê: Maak die manne se sakke vol met voedsel, soveel as wat hulle kan dra, en gooi elkeen se geld in sy sak se mond. En sit my beker, die silwerbeker, in die sak se mond van die jongste, en sy koringgeld. En hy het gedoen volgens die woord wat Josef gespreek het. Sodra dit lig word, is die manne weggestuur, hulle en hulle esels. En toe hulle uit die stad gegaan het, en nog nie ver nie, sê Josef vir sy bestuurder: Staan op, volg die manne agterna; en as jy hulle inhaal, sê vir hulle: Waarom het julle kwaad vir goed vergeld? Is dit nie dit waarin my heer drink, en waardeur hy waarlik waarsê nie? julle het kwaad gedoen deur so te doen. En hy het hulle ingehaal en hierdie selfde woorde aan hulle gespreek. En hulle sê vir hom: Waarom sê my heer hierdie woorde? God verhoed dat U dienaars volgens hierdie ding sou handel: Kyk, die geld wat ons in ons sakke gevind het, het ons na jou teruggebring uit die land Kanaän; hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van jou heer steel? By wie van U dienaars dit gevind word, laat hom ook sterwe, en ons sal ook my heer se slawe wees. En hy sê: Laat dit ook nou wees volgens julle woorde: hy by wie dit gevind word, sal my dienaar wees; en julle sal onberispelik wees. Toe het hulle gou elkeen sy sak op die grond afgehaal en elkeen sy sak oopgemaak. En hy het gesoek en by die oudste begin en by die jongste vertrek; en die beker is in die sak van Benjamin gevind. Toe het hulle hul klere geskeur en elkeen sy esel gelaai en na die stad teruggekeer. En Juda en sy broers het in die huis van Josef gekom; want hy was nog daar, en hulle het voor hom op die grond geval. Toe sê Josef vir hulle: Watter daad is dit wat julle gedoen het? Weet julle nie dat so 'n man as ek sekerlik kan waarsê nie? Toe sê Juda: Wat moet ons vir my heer sê? wat sal ons praat? of hoe sal ons onsself skoonmaak? God het die ongeregtigheid van U dienaars uitgevind; kyk, ons is die dienaars van my heer, ons sowel as hy by wie die beker gevind word. Toe sê hy: Mag God my verhoed dat ek dit doen; maar die man in wie se hand die beker gevind word, hy moet my dienaar wees; en wat jou betref, staan in vrede op na jou vader. Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, laat U dienaar tog 'n woord voor die ore van my heer spreek, en laat U toorn teen U dienaar nie ontvlam nie, want U is soos Farao. My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of 'n broer? En ons het vir my heer gesê: Ons het 'n vader, 'n ou man en 'n kind van sy ouderdom, 'n kleintjie; en sy broer is dood, en hy alleen het oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom liefgehad. En jy het aan U dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oë op hom kan rig. En ons het vir my heer gesê: Die seun kan nie sy vader verlaat nie, want as hy sy vader verlaat, sal sy vader sterf. En jy het vir jou dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie meer sien nie. En dit het gebeur toe ons by U dienaar, my vader, opkom, het ons hom die woorde van my heer vertel. En ons vader sê: Gaan weer en koop vir ons 'n bietjie kos. En ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie; as ons jongste broer by ons is, dan sal ons aftrek; want ons mag die man se aangesig nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. En U dienaar, my vader, het vir ons gesê: Julle weet dat my vrou vir my twee seuns gebaar het. En die een het van my af uitgegaan, en ek het gesê: Waarlik, hy is verskeur; en ek het hom nie sedertdien gesien nie: En as julle dit ook van my wegneem en onheil hom tref, sal julle my grys hare met droefheid na die graf afbring. As ek dan nou by U dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie; siende dat sy lewe in die seun se lewe verbind is; As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal hy sterwe; en U dienaars sal die grys hare van U kneg, ons vader, met droefheid na die graf afbring. Want U dienaar het by my vader borg gestel vir die seun en gesê: As ek hom nie na jou toe bring nie, sal ek die skuld vir my vader vir ewig dra. Laat U dienaar dan nou tog bly in die plek van die seun, 'n slaaf van my heer; en laat die seun saam met sy broers optrek. Want hoe sal ek opgaan na my vader toe, en die seuntjie is nie by my nie? dat ek nie miskien die onheil sien wat oor my vader kom nie.

GENESIS 44:1-34 Die Boodskap (DB)

Toe het Josef vir die hoof van sy huis opdrag gegee: “Stop die mans se sakke tot bo toe vol met kos en sit ook elkeen se geld in die sak terug. Vat dan my beker, die silwer een waaruit ek altyd drink, en sit dit saam met die geld wat hy vir die koring betaal het, bo in die jongste se sak.” Die hoof van die huis het gedoen wat Josef gesê het. Teen dagbreek die volgende oggend is die mans met hulle swaargelaaide donkies daar weg. Hulle was net ’n klein entjie weg toe Josef die hoof van sy huis beveel: “Sit hulle agterna en as jy by hulle kom, moet jy sê: ‘Dit is darem nou vir jou stank vir dank! Waarom het julle die beker gevat? Dit is die beker waaruit meneer Josef elke dag drink en wat hy gebruik om die toekoms te voorspel. Julle het ’n verskriklike ding gedoen.’” Die huisheer is onmiddellik daar weg en het hulle sommer gou ingehaal. Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie. Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel? As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.” Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.” Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak. Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry. Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe. Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval. Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.” Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.” “Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.” Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie. Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer. Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste. U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’ Ons het vir u gesê dit is onmoontlik; die seun kan nie van sy pa af weggaan nie, het ons gesê, sy pa sal doodgaan as daar iets met hom moet gebeur. U het egter aangehou en gesê: ‘As julle nie julle jongste broer saambring nie, wil ek julle nie weer sien nie.’ Daarna is ons huis toe en ons het ons pa van alles vertel. Presies soos u gesê het. Na ’n ruk het ons pa gesê ons moet teruggaan om kos te koop. Ons het oor en oor vir hom gesê: ‘Pa weet mos ons kan nie teruggaan nie. Ons kan net gaan as ons jongste broer saamgaan. Sonder hom wil die man ons nooit weer sien nie.’ Ons pa het egter volgehou: ‘Julle weet tog Ragel het my net twee seuns gegee. Een seun het net verdwyn. Tot vandag toe het ek hom nooit weer gesien nie en moet ek maar die storie glo dat wilde diere hom verskeur het. As julle die ander seun ook nou van my gaan wegneem en iets gebeur met hom, sal ek van hartseer sterf.’ So, Meneer, as ek nou moet teruggaan na my pa toe en hierdie seun vir wie hy tog so lief is, is nie by nie, sal dit sy einde beteken. As ek sonder die jongste moet terugkeer, sal ons ons gryse pa van verdriet moet begrawe. “En, Meneer, ek het verantwoordelikheid vir hierdie seun geneem. Ek het vir my pa gesê: ‘As ek nie hierdie kind vir Pa terugbring nie, staan ek lewenslank skuldig voor Pa.’ Laat ek daarom eerder in die plek van die seun agterbly en ek sal lewenslank vir u werk. Laat die kind tog net saam met sy broers huis toe gaan. Hoe kan ek sonder die seun na my pa toe teruggaan? Ek wil tog nie sien hoe hy dag vir dag wegkwyn van verdriet nie.”

GENESIS 44:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak; en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het. Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels. Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde? Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het. En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel. Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen. Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring — hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel? Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees. Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees. Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak. En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind. Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug. En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond. Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat 'n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie? En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is. Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader. Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer? En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel. Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het — die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie. As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal. As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie — terwyl sy siel innig aan hom verkleef is — sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!

GENESIS 44:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe die broers gereed was om te gaan, gee Josef bevel aan die bestuurder van sy huis: “Maak al die sakke vol met soveel graan moontlik en sit elke man se geld weer terug in sy sak. My silwerbeker moet jy bo in die sak van die jongste een sit saam met die geld wat hy vir die graan betaal het.” Die bestuurder het net so gemaak soos Josef beveel het. Teen dagbreek was die broers op en begin hulle die terugtog met hulle donkies. Hulle was skaars buite die stad, toe sê Josef vir die bestuurder: “Jaag agter hulle aan en stop hulle. Vra hulle: ‘Hoekom het julle ’n goeie daad met kwaad vergeld? Waarom het julle my meester se persoonlike silwerbeker gesteel waarmee hy die toekoms voorspel? Dis ’n slegte ding wat julle gedoen het!’” Die bestuurder het hulle ingehaal en gemaak soos hy beveel is. “Waarvan praat u, Meneer?” sê die broers. “Nie een van ons sal so iets aanvang nie. Het ons dan nie die geld wat ons ’n vorige keer in ons sakke gekry het al die pad van Kanaän af weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel? As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.” “Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.” Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak. Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak! Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe. Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval. “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?” Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.” “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.” Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’ Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’ Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’ Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’ Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het. Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’ het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie. Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nog nie weer gesien nie. As julle nou sy broer ook van my wegneem en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan.’ “Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie. Ons pa is baie lief vir die seun. As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf. Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smart in die graf gaan. Meneer, ek het my pa gewaarborg dat ek na die seun sal kyk. Ek het vir hom gesê: ‘As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.’ Asseblief, Meneer, laat my hier agterbly as u slaaf in die plek van die seun en laat hy saam met sy broers teruggaan. Hoe sou ek sonder die seun na my pa toe kon teruggaan? Ek kan dit nie verduur om daaraan te dink dat ek hom soveel smart sal aandoen nie.”