GENESIS 42:19-22
GENESIS 42:19-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die plek waar julle bewaak word. Maar julle, gaan bring graan weg vir die honger mense by julle huise. Julle moet julle jongste broer na my toe bring, sodat julle woorde as betroubaar bewys word en julle nie sterf nie.” Hulle het toe so gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: “Wel, ons is beslis skuldig oor ons broer wie se sielenood ons gesien het toe hy ons om genade gesmeek, maar ons nie geluister het nie. Daarom het hierdie nood ons nou oorval.” Ruben het gereageer en vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie 'n misstap teen die kind begaan nie’? Maar julle het nie geluister nie. Ook sy bloed, kyk, dit word nou geëis!”
GENESIS 42:19-22 Die Boodskap (DB)
As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.” Almal het saamgestem. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.” Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.”
GENESIS 42:19-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne. Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen, sal ek julle lewens spaar.” Hulle het dié reëling aanvaar. Die broers het toe onder mekaar gepraat: “Dit het alles gebeur oor wat ons lank gelede aan Josef gedoen het. Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou. Dis hoekom hierdie moeilikheid nou oor ons kom.” “Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie?” sê Ruben. “Maar julle wou mos nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het.”
GENESIS 42:19-22 Bybel vir almal (ABA)
As julle eerlike mense is, dan moet een van julle broers hier in die tronk bly. Julle ander kan dan gaan en vir julle honger mense by die huis koring bring. Julle moet daarna julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en dan sal julle nie sterf nie.” Die broers het dit toe gedoen. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons is skuldig, want ons het 'n baie verkeerde ding aan ons broer gedoen. Ons het gesien dat hy baie bang was, en hy het ons gesoebat om hom te help, maar ons het nie geluister nie. Daarom het ons nou hierdie probleme gekry.” Ruben het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê julle moet dit nie met die kind doen nie, maar julle het nie geluister nie. Dit is ons skuld dat hy dood is, daarom straf God ons nou.”
GENESIS 42:19-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg, en bring julle jongste broer na my toe — dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen. Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.
GENESIS 42:19-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
as julle eerlike mense is, moet een van julle in die tronk agterbly. Julle ander moet dan graan wegbring vir julle honger huismense. Dan moet julle julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en julle sal nie sterf nie.” Hulle het ingestem en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.” Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.”
GENESIS 42:19-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle ware manne is, laat een van julle broers gevange wees in die huis van julle gevangenis; gaan, dra koring vir die hongersnood van julle huise. Maar bring jou jongste broer na my toe; so sal julle woorde bekragtig word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen. En hulle het vir mekaar gesê: Ons is waarlik skuldig aan ons broer, deurdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het, en ons het nie geluister nie; daarom het hierdie benoudheid oor ons gekom. En Ruben het hulle geantwoord en gesê: Ek het nie met julle gespreek en gesê: Moenie teen die kind sondig nie; en julle wou nie hoor nie? daarom, kyk, ook sy bloed word geëis.