GENESIS 41:14-32

GENESIS 41:14-32 Die Boodskap (DB)

Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.” “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.” Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.” Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur.

GENESIS 41:14-32 Bybel vir almal (ABA)

Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gaan haal. Hy het gewas en geskeer en ander klere aangetrek en na die farao toe gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom, maar niemand kan vir my sê wat die drome beteken nie. Ek het gehoor dat jy kan sê wat 'n droom beteken as jy dit hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Dit is nie ék wat dit doen nie. Dit is Gód wat vir jou die regte antwoord sal gee.” Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom ek staan op die wal van die Nyl-rivier. Toe kom daar uit die rivier sewe vet, mooi koeie en hulle wei tussen die riete. Daarna het daar sewe ander koeie uitgekom na hulle toe. Hulle was baie lelik en maer. Ek het nog nooit leliker koeie in Egipte gesien nie. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe vet koeie op. Hulle het die vet koeie ingesluk, maar 'n mens kon nie sien dat hulle die vet koeie opgevreet het nie, want hulle was so maer soos voorheen. Toe het ek wakker geword. “Daarna het ek gedroom daar is 'n koringplant, en daar groei sewe koring-are uit die plant. Die koring-are was mooi en vol. Ná hulle het daar ook sewe droë, maer koring-are uitgekom. Die warm oostewind het hulle droog gewaai. Die sewe maer koring-are sluk toe die sewe mooi koring-are in. “Ek het dit vertel vir die waarsêers, maar niemand kon vir my sê wat my drome beteken nie.” Josef het vir die farao gesê: “Die twee drome wat jy gehad het, beteken dieselfde. God het vir jou gesê wat Hy wil doen. Die sewe mooi koeie beteken sewe mooi jare, en die sewe mooi koring-are beteken ook sewe mooi jare en genoeg kos. Die drome beteken dieselfde. Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle uitgekom het, beteken sewe jare, en die sewe maer koring-are beteken ook sewe jare. Die warm oostewind het die koring-are droog gewaai. Daar sal sewe jaar lank hongersnood wees. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen. Daar sal nou sewe jaar lank baie kos in die hele Egipte wees, meer as genoeg. Daarna sal daar sewe jaar lank hongersnood wees. Die mense sal vergeet hoe baie kos daar was. Die mense en die land sal arm word. Die mense sal nie meer kan onthou van die baie kos wat daar was nie, omdat dit dan so sleg sal gaan. Die droom het twee maal na jou toe gekom, want God het dit klaar besluit en Hy sal nie lank wag om dit te doen nie.”

GENESIS 41:14-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: dié het in hulle maag ingegaan, maar 'n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword. Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is — dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.

GENESIS 41:14-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe. Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.” Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.” Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan. Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie. Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. “Toe het ek wakker geskrik. “Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in. “Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.” Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

GENESIS 41:14-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die farao het Josef toe laat roep, en hulle het hom gou uit die put gehaal. Nadat hy geskeer en ander klere aangetrek het, het hy na die farao gegaan. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie. Ek het van jou gehoor, naamlik dat jy net 'n droom hoef te hoor om dit te verklaar.” Josef het die farao geantwoord: “Dit berus nie by my nie! Net God kan 'n gunstige antwoord gee vir die farao.” Toe sê die farao vir Josef: “Kyk, in my droom staan ek op die wal van die Nyl. Meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat treurig en baie lelik lyk, kom toe ná hulle op uit die Nyl. Ek het in die hele Egipteland nog nooit koeie gesien wat so lelik soos hulle is nie. En toe vreet die maer en lelike koeie die eerste sewe vet koeie op! Toe hulle in hulle ingewande was, kon 'n mens nie eers sien dat hulle in hulle ingewande ingegaan het nie. Hulle het so sleg gelyk soos aan die begin. Toe het ek wakker geword. “Toe sien ek in my droom: Kyk, sewe koringare, vol en mooi, staan op uit een halm. Meteens spruit daar ná hulle sewe maer koringare uit, verskroei deur die oostewind, en toe sluk die maer are die sewe mooi are in! Ek het dit vir die waarsêerpriesters vertel, maar niemand kon dit vir my verduidelik nie.” Josef sê toe vir die farao: “Die drome van die farao – dit is maar een droom. Dit wat God gaan doen, het Hy aan die farao bekend gemaak. Die sewe mooi koeie is sewe jare, en die sewe mooi koringare is ook sewe jare. Dit is een droom. Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare, en ook die sewe maer are, verskroei deur die oostewind. Dit sal sewe jaar van hongersnood wees. Dit is soos ek vir die farao gesê het: Wat God gaan doen, het Hy die farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. Maar daarna breek sewe jaar van hongersnood aan, en al die oorvloed in Egipteland sal vergete wees. Die hongersnood sal die land uitmergel. Die oorvloed in die land sal vanweë die hongersnood wat daarop volg, nie meer onthou word nie. Ja, dit sal baie erg wees. En wat die herhaling van die droom aan die farao op twee maniere betref: Omdat die saak van God se kant af vasstaan, is God haastig om dit gou te doen.

GENESIS 41:14-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Farao gestuur en Josef laat roep, en hulle het hom haastig uit die put uitgebring; en hy het homself geskeer en sy klere aangetrek en by Farao ingegaan. Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gedroom, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; en ek het van jou hoor sê dat jy 'n droom kan verstaan om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Dit is nie in my nie: God sal Farao 'n antwoord van vrede gee. Toe sê Farao vir Josef: In my droom, kyk, ek staan op die oewer van die rivier. En kyk, daar het uit die rivier sewe koeie opgekom, vet van vleis en goed behaag; en hulle het gevoed in 'n wei. En kyk, daar het nog sewe koeie agter hulle aan opgekom, arm en baie sleg bevoorreg en maer van vleis, soos ek nog nooit in die hele Egipteland gesien het weens slegtheid nie. En die maer en die swak koeie het die eerste sewe vet koeie opgeëet. En toe hulle dit opgeëet het, was dit nie bekend dat hulle dit geëet het nie; maar hulle was nog steeds sleg bevoorreg, soos in die begin. So het ek wakker geword. En ek het in my droom gesien, en kyk, daar het sewe ore in een steel opgekom, vol en goed; En kyk, daar het agter hulle sewe are opgekom, verdor, maer en deur die oostewind aangeblaas. En die maer are het die sewe goeie are opgeëet, en ek het dit aan die towenaars vertel; maar daar was niemand wat dit aan my kon verklaar nie. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een: God het aan Farao bekend gemaak wat hy gaan doen. Die sewe goeie koeie is sewe jaar; en die sewe goeie are is sewe jaar: die droom is een. En die sewe maer en swak koeie wat ná hulle opgekom het, was sewe jaar lank; en die sewe leë are wat deur die oostewind aangeblaas is, sal sewe jare van hongersnood wees. Dit is die woord wat ek met Farao gespreek het: Wat God van plan is om te doen, laat Hy aan Farao sien. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; En ná hulle sal sewe jaar van hongersnood opkom; en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word; en die hongersnood sal die land verteer; En die oorvloed sal in die land nie bekend wees nie vanweë die hongersnood wat daarop volg; want dit sal baie swaar wees. En daarom is die droom vir Farao twee maal verdubbel; dit is omdat die saak deur God vasgestel is, en God sal dit binnekort laat gebeur.

GENESIS 41:14-32 Die Boodskap (DB)

Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat. Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.” “Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.” Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. ’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword. “In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.” Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen. “Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood. “Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel. “Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees. “U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur.

GENESIS 41:14-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn. “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.” “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.” Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan. Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei. Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien het nie! Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet! Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker. “Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol. Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind. Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.” “Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom. Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen. Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring. Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie. Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen.