GENESIS 41:1-8
GENESIS 41:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl-rivier. Daar het sewe mooi vet koeie uit die rivier gekom, en hulle het gaan wei in die riete langs die rivier. Daarna het daar ook sewe ander koeie uit die Nyl-rivier gekom. Hulle was lelik en maer en hulle het by die vet koeie op die rivier se wal gaan staan. Toe vreet die lelike, maer koeie die sewe mooi, vet koeie op. Daarna het die farao wakker geword. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gedroom daar is 'n koringplant en daar groei sewe mooi en vol koring-are uit die koringplant. Daarna het daar ook sewe maer koring-are uitgekom. Die koring-are was verlep, want die warm oostewind het hulle droog gewaai. Die sewe maer koring-are het die sewe vet, vol koring-are ingesluk. Toe word die farao wakker, en hy het besef dat hy gedroom het. Die volgende oggend was die farao bekommerd oor sy drome. Hy het al die waarsêers laat roep, en ook die slim mense wat altyd vir hom moes sê wat die regte ding is om te doen. Die farao het vir hulle vertel wat hy gedroom het, maar daar was niemand wat vir hom kon sê wat sy drome beteken nie.
GENESIS 41:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NÁ verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan; en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van die Nyl gaan staan. En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword. En hy het weer aan die slaap geraak en nog 'n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel; en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was; en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was 'n droom! Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie.
GENESIS 41:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan. Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op. Daarna het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom. Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.
GENESIS 41:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná verloop van twee jaar het die farao gedroom: Kyk, hy staan langs die Nyl, en meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. Maar kyk, sewe ander koeie wat lelik lyk en maer is, kom toe ná hulle op uit die Nyl, en hulle gaan staan langs die koeie op die wal van die Nyl. Die koeie wat lelik lyk en maer is, vreet toe die sewe koeie op wat mooi lyk en vet is. Toe word die farao wakker. Hy het aan die slaap geraak en 'n tweede keer gedroom: Kyk, daar was sewe koringare, vet en mooi, aan een halm, en meteens spruit daar ná hulle sewe koringare uit, maer en verskroei deur die oostewind. En toe sluk die maer are die sewe vet en vol are in. Die farao het wakker geword en kyk, dit was 'n droom! Die oggend was sy gees onrustig, en hy ontbied toe al die waarsêerpriesters en wyses van Egipte. Die farao vertel toe vir hulle sy drome; maar niemand kon dit vir die farao verklaar nie.
GENESIS 41:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En aan die einde van twee volle jare het Farao gedroom, en kyk, hy het by die rivier gestaan. En kyk, daar het uit die rivier sewe bevoorregte koeie en vet van vleis opgekom; en hulle het gevoed in 'n wei. En kyk, sewe ander koeie het agter hulle uit die rivier opgekom, sleg van guns en maer van vleis; en by die ander koeie op die rand van die rivier gaan staan. En die koeie wat sleg en maer is, het die sewe koeie wat goed is en vet is opgeëet. So het Farao wakker geword. En hy het vir die tweede keer geslaap en gedroom, en kyk, daar het sewe ranke op een steel opgekom, dik en goed. En kyk, sewe dun are en deur die oostewind geblaas het agter hulle opgekom. En die sewe maer are het die sewe ranke en vol are opgeëet. En Farao het wakker geword, en kyk, dit was 'n droom. En dit het gebeur in die môre dat sy gees ontsteld was; en hy het gestuur en al die towenaars van Egipte en al sy wyse manne laat roep; en Farao het hulle sy droom vertel; maar daar was niemand wat dit vir Farao kon uitlê nie.
GENESIS 41:1-8 Die Boodskap (DB)
Twee lang jare het verbygegaan, maar niks het gebeur nie. En toe, een aand, het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Skielik kom daar sewe koeie uit die water. Hulle was mooi en rond van die vet, en het van die groen gras aan die oewer begin vreet. Na ’n ruk het sewe ander koeie uit die water gekom. Hulle was maer en lelik, en het tussen die ander koeie op die Nyloewer gewei. En die lelike, maer koeie het die sewe vet koeie opgevreet. Toe het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n droom gehad. Sewe mooi, vol koringare het aan een stingel opgeskiet. ’n Entjie verder het sewe ander koringare opgeskiet. Hulle was dun en is deur die warm oostewind verskroei. En die sewe dun are het die sewe vol are opgeëet. Toe het die farao weer wakker geword en besef dit was net ’n droom. Die volgende oggend was die farao baie onrustig. Hy het al Egipte se geleerde en wyse manne bymekaargeroep en vir hulle van sy drome vertel. Niemand kon egter sy drome verklaar nie.
GENESIS 41:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Twee jaar later het die farao gedroom hy staan langs die Nylrivier. Hy sien hoe sewe mooi vet koeie uit die water kom en in die gras begin wei. Toe kom daar sewe ander koeie uit die water uit, maar hulle was lelik en baie maer. Hulle het by die vet koeie gaan staan. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe mooi vettes op! Toe het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom. Hierdie keer sien hy sewe mooi vol are aan een stingel. Daarna kom daar nog sewe are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die maer are sluk toe die sewe vet are in! Die farao het toe weer wakker geskrik en besef dit was ’n droom. Die volgende oggend het die farao hom bekommer oor wat die drome sou beteken. Hy roep toe al die waarsêers en wyse manne van Egipte en vertel hulle van sy drome. Maar niemand kon die drome uitlê nie.