GENESIS 40:5-19
GENESIS 40:5-19 Bybel vir almal (ABA)
Een nag het die skinker en die bakker gedroom. Elkeen se droom het iets beteken. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, het hy gesien dat hulle bekommerd is. Hy vra toe vir die amptenare: “Hoekom lyk julle vandag so bekommerd?” Hulle het vir hom gesê: “Ons altwee het gedroom, en daar is niemand wat vir ons kan sê wat ons drome beteken nie.” Josef het vir hulle gesê: “Net God kan sê wat drome beteken. Vertel vir my wat julle gedroom het.” Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef en hy sê: “Ek het gedroom ek sien 'n wingerdstok voor my. Daar was drie ranke aan die wingerdstok. Daar het knoppies op die ranke gekom, dit het bloeisels geword en baie gou was daar trosse ryp druiwekorrels. Ek het die farao se beker in my hand gehou, en ek het van die druiwe geneem en dit uitgedruk in die farao se beker. Toe het ek die beker vir die farao gegee.” Josef sê toe vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie ranke beteken drie dae. Oor drie dae sal die farao aan jou dink en hy sal jou werk vir jou teruggee. Jy sal weer die farao se wyn skink en sy beker vir hom gee soos voorheen toe jy sy skinker was. Maar jy moet aan my dink wanneer dit goed gaan met jou. Jy moet asseblief iets doen om my te help. Vertel vir die farao van my, sodat hy my uit hierdie tronk kan laat haal. Hulle het my weggevat uit die land van die Hebreërs. Ek het nie daar of hier iets gedoen wat verkeerd is nie, maar hulle het my in die tronk toegesluit.” Toe die hoof van die bakkers hoor Josef het gesê die skinker se droom beteken dat dit goed sal gaan met hom, sê hy vir Josef: “Ek het ook gedroom. Ek het gedroom daar was drie mandjies op my kop. In die boonste mandjie was daar lekker gebakte kos vir die farao. Maar die voëls het die kos uit die mandjie opgevreet toe die mandjie nog op my kop was.” Toe sê Josef vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie mandjies beteken drie dae. Oor drie dae sal die farao aan jou dink. Hy sal jou uit die tronk laat kom en hy sal jou aan 'n boom laat ophang. Die voëls sal kom en hulle sal jou vleis van jou liggaam afvreet.”
GENESIS 40:5-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het altwee 'n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen 'n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het. En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was. Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig? En hulle antwoord hom: Ons het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie 'n saak van God nie? Vertel my tog. Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en sê vir hom: In my droom was daar 'n wingerdstok voor my, en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel was uit, sy trosse het ryp druiwe geword. En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee. Toe sê Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie dae. Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef — jou in jou rang herstel; en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was. Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog 'n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie. Toe die voorman van die bakkers sien dat hy 'n gunstige uitlegging gegee het, sê hy aan Josef: Ook in mý droom — toe was daar drie mandjies met witbrood op my hoof, en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers klaargemaak, en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik. Toe antwoord Josef en sê: Dit is die uitlegging daarvan — die drie mandjies is drie dae. Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef — hy sal jou aan 'n paal ophang, en die voëls sal jou vlees van jou af wegpik.
GENESIS 40:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
het die twee een nag gedroom. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte het daar waar hulle in die tronk opgesluit was, elkeen sy eie droom gehad met sy eie uitleg. Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was. Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: “Waarom lyk julle vandag so bedruk?” Hulle het hom geantwoord: “Ons het elkeen 'n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie.” Toe sê Josef vir hulle: “God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my.” Die hoof van die skinkers het sy droom vir Josef vertel. Die skinker het gesê: “In my droom het ek 'n wingerdstok voor my gesien, en aan die wingerdstok was daar drie lote. Dit het kwalik gebot of daar was al blomme, en toe is die trosse druiwe ryp. Ek het die farao se beker in my hand gehad en ek het die druiwe gepluk en daarin uitgedruk. Toe gee ek die beker vir die farao.” Josef het vir die skinker gesê: “Dit is die uitleg: die drie lote is drie dae. Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee en jou in jou amp herstel. Jy sal weer vir die farao sy beker aangee soos vroeër toe jy sy skinker was. Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my 'n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom. Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.” Toe die hoof van die bakkers die gunstige uitleg hoor wat Josef gegee het, sê hy vir hom: “En nou ek! In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop. In die boonste mandjie was daar 'n geurige baksel vir die farao. Maar die voëls het dit so uit die mandjie uit op my kop kom opvreet.” Josef het vir die bakker gesê: “Dit is die uitleg: die drie mandjies is drie dae. Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee, maar vir jóú sal hy aan 'n paal laat ophang en die voëls sal jou vleis van jou afvreet.”
GENESIS 40:5-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die skinker en die bakker van die koning van Egipte wat gevange gehou is in die gevangenis het al twee, in dieselfde nag, 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie betekenis. Toe Josef die oggend by hulle kom en hulle sien, merk hy tot sy verbasing hulle is bedruk. Hy vra toe vir die farao se paleisamptenare wat saam met hom onder bewaking was in die huis van sy eienaar: “Waarom het julle vandag sulke somber gesigte?” Hulle sê toe vir hom: “Ons het gedroom, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie.” Toe sê Josef vir hulle: “Hoort verklarings nie by God nie? Vertel dit tog vir my!” Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef. Hy het vir hom gesê: “Kyk, in my droom was daar 'n wingerdstok voor my. Aan die wingerdstok was daar drie lote. Die wingerd het net gebot, toe ontwikkel die bloeisels al en word die klein trossies ryp druiwe. Die farao se beker was in my hand. Ek neem toe die druiwe en pers dit uit in die farao se beker. Toe sit ek die beker in die farao se hand.” Josef het vir hom gesê: “Dit is die verklaring daarvan: Die drie lote is drie dae. Nog drie dae, dan sal die farao jou weer jou kop laat oplig en jou in jou amp herstel. Jy sal die farao se beker in sy hand plaas soos dit vroeër die gewoonte was toe jy nog sy skinker was. Maar dink aan my wanneer dit met jou goed gaan. Bewys asseblief trou aan my en maak melding van my by die farao. Kry my so uit hierdie huis uit. Want ek is inderdaad ontvoer uit die land van die Hebreërs. Ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in die put moes sit nie.” Toe die hoof van die bakkers sien dat hy dit gunstig verklaar het, sê hy vir Josef: “Ook ek was in my droom. Kyk, daar was drie mandjies met witbrood op my kop. In die boonste mandjie was daar allerhande eetgoed wat 'n bakker voorberei het vir die farao. Maar die voëls het dit uit die mandjie op my kop geëet.” Josef het geantwoord en gesê: “Dit is die verklaring: Die drie mandjies is drie dae. Nog drie dae, dan lig die farao jou kop – van jou af. Hy sal jou aan 'n houtpaal hang, en die voëls sal jou vleis van jou afeet.”
GENESIS 40:5-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het al twee 'n droom gedroom, elkeen sy droom in een nag, elkeen volgens die uitlegging van sy droom, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange was. En Josef het die môre by hulle ingekom en hulle aangekyk, en kyk, hulle was bedroef. En hy het die dienaars van Farao wat by hom in die bewaring van sy heer se huis was, gevra en gesê: Waarom sien julle vandag so bedroef uit? En hulle sê vir hom: Ons het 'n droom gedroom, en daar is geen uitlegger daarvan nie. En Josef sê vir hulle: Behoort die uitleggings nie aan God nie? sê vir my hulle, ek bid jou. En die hoof van die skinkers het sy droom aan Josef vertel en vir hom gesê: In my droom, kyk, daar was 'n wingerdstok voor my; En aan die wingerdstok was drie ranke, en dit was asof dit bot, en sy bloeisels het uitgeskiet; en sy trosse het ryp druiwe voortgebring; En Farao se beker was in my hand, en ek het die druiwe geneem en dit in Farao se beker gedruk, en ek het die beker in Farao se hand gegee. En Josef sê vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: Die drie takke is drie dae; Maar binne drie dae sal Farao jou hoof ophef en jou in jou plek terugbring; en jy moet Farao se beker in sy hand gee, op die vorige manier toe jy sy skinker was. Maar dink aan my wanneer dit met jou goed sal gaan, en bewys tog guns aan my, en noem my aan Farao, en bring my uit hierdie huis uit. Want waarlik, ek is uit die land van die Hebreërs gesteel; en ook hier het ek niks gedoen dat hulle my in die put sou sit nie. Toe die hoofbakker sien dat die uitlegging goed was, sê hy vir Josef: Ek was ook in my droom, en kyk, ek het drie wit mandjies op my kop gehad. En in die boonste mandjie was allerhande bakvleis vir Farao; en die voëls het hulle uit die mandjie op my kop geëet. En Josef antwoord en sê: Dit is die uitlegging daarvan: Die drie mandjies is drie dae. Maar binne drie dae sal Farao jou hoof van jou af ophef en jou aan 'n boom ophang; en die voëls sal jou vleis van jou af eet.
GENESIS 40:5-19 Die Boodskap (DB)
Na ’n lang tyd in die tronk het die koning van Egipte se hoofskinker en hoofbakker een nag albei ’n droom gehad. Hulle het egter nie geweet wat dit beteken nie. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, sien hy hulle is mismoedig. Hy het toe vir hulle gevra: “Waarom lyk julle vandag so moedeloos?” Hulle het hom geantwoord: “Ons al twee het gedroom, maar hier is niemand wat ons drome kan uitlê nie.” Josef het vir hulle gesê: “Net God kan ’n mens help om drome uit te lê. Vertel my wat julle gedroom het.” Eers het die hoofskinker sy droom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “het daar ’n wingerdstok voor my gestaan. Aan die wingerdstok was daar drie ranke. Elke rank het skaars uitgeloop of dit staan in volle bloei en na ’n ruk het daar ryp trosse druiwe gehang. Terwyl ek dan met die een hand die farao se beker vashou, het ek met die ander hand die ryp druiwe in die beker uitgedruk en dit vir die farao gegee.” Josef het toe gesê: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie ranke dui op drie dae. Oor drie dae sal die koning jou alles vergewe en jy sal jou ou pos terugkry. Dan sal jy weer soos vroeër die beker vir die farao gee. Presies soos in die dae toe jy die hoofskinker was.” Josef het toe die hoofskinker ’n groot guns gevra: “As dit later weer met jou goed gaan en jy onthou my dalk nog, sal ek bly wees as jy vir my ’n goeie woordjie by die farao sal doen. Ek wil so graag uit hierdie plek kom, want ek hoort nie hier nie. Hulle het my met geweld uit my pa se land geneem en my hierheen gebring. Ek het niks verkeerds gedoen nie en ek verdien nie hierdie donker gat nie.” Toe die bakker Josef se verklaring hoor, het hy opgewonde sy eie droom vir hom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “was daar ook drie dinge. Daar was drie mandjies op my kop. In die boonste mandjie was daar die allerheerlikste eetgoed wat net ’n bakker kan bak. Toe het die voëls gekom en hulle het die eetgoed van die boonste mandjie begin opvreet.” Josef het geantwoord: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie mandjies dui op drie dae. Binne drie dae sal die farao jou kop optel en jou aan ’n paal ophang, en al die voëls sal die vleis van jou liggaam begin opvreet.”
GENESIS 40:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
het die skinker en die bakker elkeen in die nag ’n droom gehad met ’n eie betekenis. Die volgende oggend sien Josef dat die twee baie neerslagtig lyk. “Hoekom lyk julle vanmôre so bedruk?” vra hy. Hulle antwoord hom: “Albei van ons het laas nag gedroom, maar niemand kan dit vir ons verklaar nie.” “Om drome te verklaar, is die werk van God,” antwoord Josef. “Vertel my wat julle gedroom het.” Die hoof van die skinkers vertel sy droom eerste. “In my droom,” sê hy, “het ek ’n wingerdstok voor my gesien. Dit het drie lote gehad wat begin bot en blom het en gou was daar trosse ryp korrels. Ek het die farao se beker in my hand gehad. Ek pluk toe van die druiwe en druk die sap daarin uit. Toe gee ek dit vir Farao.” “Dit is wat dit beteken,” sê Josef. “Die drie lote dui op drie dae. Binne drie dae sal Farao jou uit die tronk laat haal en jou herstel in jou vorige posisie as hoofskinker. En, asseblief, dink aan my wanneer dit weer met jou goed gaan. Noem my naam by Farao en vra hom om my uit hierdie plek vry te laat. Want ek is ontvoer uit my geboorteland, die land van die Hebreërs. Nou is ek in die tronk gesmyt sonder dat ek iets verkeerds gedoen het.” Toe die hoof van die bakkers hoor dat die eerste droom gunstig was, vertel hy ook syne vir Josef. “In my droom,” sê hy, “was daar drie mandjies met brood op my kop. In die boonste een was daar ’n heerlike baksel vir Farao. Maar die voëls het gekom en daaraan gevreet.” “Dit is wat jou droom beteken,” sê Josef. “Die drie mandjies dui op drie dae. Drie dae van nou af sal Farao jou kop afkap en jou liggaam aan ’n paal ophang. Die voëls sal dan jou vleis kom afpik.”