GENESIS 40:1-8
GENESIS 40:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Ná 'n tyd het 'n skinker en 'n bakker van die farao van Egipte iets teen die farao gedoen wat verkeerd was. Die farao was baie kwaad vir hierdie twee amptenare. Hulle was die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Die farao het hulle laat toesluit in die huis van die hoof van die wagte wat hom opgepas het. Dit was dieselfde plek waar Josef 'n gevangene was. Die hoof van die farao se wagte het Josef gekies en aangestel om ook vir die skinker en die bakker kos te bedien. Hulle was lank in die tronk. Een nag het die skinker en die bakker gedroom. Elkeen se droom het iets beteken. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, het hy gesien dat hulle bekommerd is. Hy vra toe vir die amptenare: “Hoekom lyk julle vandag so bekommerd?” Hulle het vir hom gesê: “Ons altwee het gedroom, en daar is niemand wat vir ons kan sê wat ons drome beteken nie.” Josef het vir hulle gesê: “Net God kan sê wat drome beteken. Vertel vir my wat julle gedroom het.”
GENESIS 40:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NÁ hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte, sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers. En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was. En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was 'n tyd lank in bewaring. En hulle het altwee 'n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen 'n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het. En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was. Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig? En hulle antwoord hom: Ons het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie 'n saak van God nie? Vertel my tog.
GENESIS 40:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het 'n skinker en 'n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree teenoor hulle koning. Die farao het kwaad geword vir sy twee amptenare, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Hy het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was, in die gebou van die koninklike lyfwag. Die hoof van die lyfwag het Josef vir hulle beskikbaar gestel: hy moes hulle bedien. Toe hulle al lank in die tronk was, het die twee een nag gedroom. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte het daar waar hulle in die tronk opgesluit was, elkeen sy eie droom gehad met sy eie uitleg. Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was. Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: “Waarom lyk julle vandag so bedruk?” Hulle het hom geantwoord: “Ons het elkeen 'n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie.” Toe sê Josef vir hulle: “God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my.”
GENESIS 40:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná verloop van tyd het die skinker van die koning van Egipte en die bakker 'n misstap begaan teenoor hulle heer, die koning van Egipte. Die farao was woedend vir sy twee paleisamptenare, vir die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Hy het hulle onder bewaking gestel in die huis van die hoof van die lyfwag, by die gevangenis, die plek waar Josef gevange gehou is. Die hoof van die lyfwag het Josef by hulle aangestel, en hy het hulle persoonlike bediende geword. Hulle was lank onder bewaking. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte wat gevange gehou is in die gevangenis het al twee, in dieselfde nag, 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie betekenis. Toe Josef die oggend by hulle kom en hulle sien, merk hy tot sy verbasing hulle is bedruk. Hy vra toe vir die farao se paleisamptenare wat saam met hom onder bewaking was in die huis van sy eienaar: “Waarom het julle vandag sulke somber gesigte?” Hulle sê toe vir hom: “Ons het gedroom, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie.” Toe sê Josef vir hulle: “Hoort verklarings nie by God nie? Vertel dit tog vir my!”
GENESIS 40:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en sy bakker hulle heer, die koning van Egipte, laat struikel. En Farao was toornig op twee van sy dienaars, teen die owerste van die skinkers en teen die owerste van die bakkers. En hy het hulle in bewaring geplaas in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was. En die owerste van die lyfwag het Josef met hulle bevel gegee, en hy het hulle gedien; en hulle het 'n tyd lank in bewaring gebly. En hulle het al twee 'n droom gedroom, elkeen sy droom in een nag, elkeen volgens die uitlegging van sy droom, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange was. En Josef het die môre by hulle ingekom en hulle aangekyk, en kyk, hulle was bedroef. En hy het die dienaars van Farao wat by hom in die bewaring van sy heer se huis was, gevra en gesê: Waarom sien julle vandag so bedroef uit? En hulle sê vir hom: Ons het 'n droom gedroom, en daar is geen uitlegger daarvan nie. En Josef sê vir hulle: Behoort die uitleggings nie aan God nie? sê vir my hulle, ek bid jou.
GENESIS 40:1-8 Die Boodskap (DB)
Na ’n ruk het die farao se skinker en bakker hulle koning kwaad gemaak. Hy was so kwaad vir sy hoofskinker en hoofbakker dat hy hulle summier in die tronk gestop het. Albei is ook onder die direkte toesig van die hoof van die tronkwag geplaas. Hulle het in dieselfde tronk as Josef beland. Die hoof van die tronkwag het Josef aangesê om die twee te versorg. Na ’n lang tyd in die tronk het die koning van Egipte se hoofskinker en hoofbakker een nag albei ’n droom gehad. Hulle het egter nie geweet wat dit beteken nie. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, sien hy hulle is mismoedig. Hy het toe vir hulle gevra: “Waarom lyk julle vandag so moedeloos?” Hulle het hom geantwoord: “Ons al twee het gedroom, maar hier is niemand wat ons drome kan uitlê nie.” Josef het vir hulle gesê: “Net God kan ’n mens help om drome uit te lê. Vertel my wat julle gedroom het.”
GENESIS 40:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Na ’n tyd het die hoof van die koning se skinkers en die hoof van sy bakkers teen hom oortree. Die farao was baie ontevrede met die twee amptenare en het hulle in dieselfde tronk gegooi waar Josef was. Dit was die tronk van die hoof van Farao se lyfwag. Die hoof van die lyfwag het Josef aangestel om hulle te bedien. Toe hulle al vir geruime tyd in aanhouding was, het die skinker en die bakker elkeen in die nag ’n droom gehad met ’n eie betekenis. Die volgende oggend sien Josef dat die twee baie neerslagtig lyk. “Hoekom lyk julle vanmôre so bedruk?” vra hy. Hulle antwoord hom: “Albei van ons het laas nag gedroom, maar niemand kan dit vir ons verklaar nie.” “Om drome te verklaar, is die werk van God,” antwoord Josef. “Vertel my wat julle gedroom het.”