GENESIS 4:1-12

GENESIS 4:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Die mens het seks gehad met sy vrou Eva. Sy het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Die seun se naam was Kain. Eva sê toe: “Die Here het my gehelp om 'n seun in die wêreld te bring.” Later het sy weer 'n seun gekry. Sy naam was Abel, en hy was Kain se broer. Abel het met skape en bokke geboer. Kain was ook 'n boer, hy het koring gesaai. Eendag het Kain van sy koring geneem en hy het 'n offer vir die Here gebring. Abel het ook 'n offer vir die Here gebring. Hy het die eerste lammers vir die Here gegee en die lammers se vet ge-offer. Die Here was tevrede met Abel en sy offer. Maar die Here was nie tevrede met Kain en sy offer nie. Kain het toe baie kwaad geword en sy mond was dik. Die Here vra toe vir Kain: “Hoekom is jy kwaad en hoekom is jou mond dik? As jy doen wat reg is, dan sal jy gelukkig wees. Maar as jy doen wat verkeerd is, dan doen jy sonde. Die sonde is altyd naby jou en wil jou vang, maar jy moet die sonde oorwin.” Kain het vir sy broer Abel gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel vermoor. Toe vra die Here: “Kain, waar is jou broer Abel?” En Kain antwoord: “Ek weet nie. Ek pas nie my broer op nie.” Die Here sê toe vir Kain: “Wat het jy gedoen? Jy het jou broer doodgemaak en sy bloed het op die grond geval. Daardie bloed roep My en vra My om jou te straf. Daarom vervloek Ek jou. Jy moet nou weggaan van hierdie plek waar jou broer se bloed op die grond geval het. Wanneer jy in die grond werk, dan sal die plante nie daar groei nie. Jy sal van een plek na 'n ander plek rondswerf en jy sal nie 'n huis hê nie.”

GENESIS 4:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die mens het met Eva, sy vrou, gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Kain geboorte gegee. Sy het gesê: “Ek het van die HERE 'n man verkry. ” Sy het weer geboorte gegee – aan sy broer, aan Abel. Abel was 'n herder van kleinvee, en Kain 'n landbouer. Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond 'n offer vir die HERE gebring. En Abel, ook hy het 'n offer gebring uit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vet. Die HERE het Abel en sy offer met guns beskou. Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. Die HERE vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak. Die HERE het vir Kain gevra: “Waar is Abel, jou broer?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” Die HERE het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.”

GENESIS 4:1-12 Die Boodskap (DB)

Adam het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het ’n kind verwag. Haar eerste kind was ’n seun en sy het hom Kain genoem. Sy het trots gesê: “Met die Here se hulp het ek ’n man in die lewe gebring.” Haar tweede kind was ook ’n seun en sy het hom Abel genoem. Abel was ’n herder wat skape aangehou het. Kain was ’n boer wat die aarde bewerk het. Op ’n dag het Kain ’n offer vir die Here gebring. Hy het van die produkte van die land geneem en dit vir die Here geoffer. Abel het dieselfde gedoen. Hy het van die lammers gevat en hulle vet vir die Here geoffer. Die Here het baie van Abel se offer gehou. Maar Hy het nie Kain en sy offer aanvaar nie. Kain was woedend hieroor. Hy het moedeloos geraak. Die Here het toe vir Kain gesê: “Hoekom is jy so kwaad en terneergedruk? As jy reg lewe, sal jou offer mos aanvaar word. Maar as jy nie reg lewe nie, vind jy uit dat sonde soos ’n wilde dier is wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet. Jy kan hom egter oorwin.” Kain het toe vir sy broer, Abel, gesê: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle buite kom, het Kain vir Abel gegryp en hom doodgeslaan. Die Here het vir Kain gevra: “Waar is jou broer Abel?” Kain het vererg geantwoord: “Hoe moet ek nou weet? Is ek dan my broer se oppasser? Moet ek hom dag en nag oppas?” En die Here het gesê: “Wat het jy in hemelsnaam aangevang? Luister net ’n bietjie hoe skreeu jou broer se bloed. Dit roep van die bloedbevlekte aarde af na My. Jy word nou summier van die grond verban. Jy sal nooit weer van die grond kan leef nie, want jy het die grond gedwing om jou broer se bloed te drink; die bloed van jou broer wat jy doodgemaak het. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie. Jy sal vir altyd ’n eensame swerwer op aarde wees.”

GENESIS 4:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die mens het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het swanger geword. Sy het geboorte gegee aan Kain. Sy sê toe: “Met die hulp van die HERE het ek ’n man voortgebring!” Daarna het sy geboorte gegee aan sy broer Abel. Toe hulle groot was, het Abel ’n veeboer geword en Kain ’n landbouer. Toe oestyd aanbreek, het Kain uit die opbrengs van sy landerye ’n offer vir die HERE gebring. Abel het die beste uit sy lammers, die eerstelinge van die seisoen, en van hulle vet as offer gebring. Die HERE het Abel en sy offer aanvaar, maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig. “Hoekom is jy so kwaad?” vra die HERE vir hom. “Hoekom hang jou gesig so? Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde hurk by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan. Daarna vra die HERE vir Kain: “Waar is Abel jou broer?” “Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!” Maar die HERE sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het! Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid