GENESIS 39:7-12
GENESIS 39:7-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: “Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap. Op 'n dag toe Josef in die huis ingaan om sy werk te doen, was daar niemand van die ander slawe in die huis nie. Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: “Kom lê by my.” Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou.
GENESIS 39:7-12 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Josef die bestuurder van die huis geword het, het Potifar se vrou na Josef begin kyk en sy het verlief geraak op hom. Sy het vir Josef gesê: “Kom slaap by my.” Maar Josef het geweier en hy het vir haar gesê: “Nee, Meneer weet dat ek alles in sy huis goed sal oppas. Ek mag van alles gebruik wat hy het, maar ek mag nie seks hê met jou nie, want jy is sy vrou. Ek mag nie hierdie baie verkeerde ding doen nie. Dit is sonde teen God.” Potifar se vrou het aangehou en sy het elke dag probeer om vir Josef te verlei, maar hy het nie na haar geluister nie, en hy het nie seks gehad met haar nie. Eendag het hy in Potifar se huis kom werk, soos hy altyd gedoen het. Daar was niemand anders in die huis nie. Potifar se vrou het vir Josef gegryp en sy het aan sy klere vasgehou en gesê: “Kom slaap by my.” Maar Josef het buitetoe gevlug en hy het sy klere daar gelos, die klere wat sy in haar hand vasgehou het.
GENESIS 39:7-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.
GENESIS 39:7-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná verloop van tyd het die vrou van sy eienaar Josef reguit aangekyk en gesê: “Kom lê by my!” Maar hy het geweier en vir die vrou van sy eienaar gesê: “Kyk, met my hier bemoei my heer hom met niks in die huis nie. Alles wat hy besit, het hy in my hande gelaat. Hy is in hierdie huis nie belangriker as ek nie. Hy het van my niks weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?” Alhoewel sy dag ná dag met Josef gepraat het, het hy nie aan haar gehoor gegee om langs haar te gaan lê en by haar te wees nie. Toe hy egter op 'n sekere dag in die huis ingaan om sy werk te doen en daar niemand van die huiswerkers in die huis was nie, pak sy hom aan sy kleed beet en sê: “Kom lê by my!” Hy het egter sy kleed in haar hand agtergelaat en gevlug; hy het na buite uitgegaan.
GENESIS 39:7-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë op Josef gerig; en sy sê: Lê by my. Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, my heer weet nie wat by my in die huis is nie, en hy het alles wat hy het, aan my oorgegee; Daar is niemand groter in hierdie huis as ek nie; en hy het niks van my teruggehou behalwe vir jou nie, omdat jy sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot boosheid doen en teen God sondig? En terwyl sy dag vir dag met Josef gespreek het, het hy nie na haar geluister om by haar te lê of by haar te wees nie. En omtrent hierdie tyd het Josef in die huis ingegaan om sy werk te doen; en daar was nie een van die manne van die huis daar binne nie. En sy het hom aan sy kleed gegryp en gesê: Lê by my, en hy het sy kleed in haar hand gelos en gevlug en hom uitgehaal.
GENESIS 39:7-12 Die Boodskap (DB)
Josef was goed gebou en aantreklik en Potifar se vrou het hom raakgesien. Sy het sommer reguit vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Josef het geweier en gesê: “U man het alles in hierdie huis aan my toevertrou. Hy doen niks as hy my nie eers vra nie. In hierdie huis het ek die meeste mag en u man sal my alles gee wat ek vra. Behalwe natuurlik u, sy vrou. Hoe kan ek nou sy vertroue skend en by u gaan slaap? So iets is baie verkeerd en ’n groot sonde teen God.” Potifar se vrou het net aangehou en hom elke dag geteister. Josef het nie toegegee nie en het bly weier om by haar te gaan slaap. Op ’n dag het Josef alleen in Potifar se huis gewerk. Al die ander huiswerkers was buite en Josef het alleen agtergebly. Mevrou Potifar het Josef toe aan sy baadjie gegryp en gesê: “Slaap tog nou by my.” Hy het hom losgeruk en buitentoe gehardloop. Potifar se vrou het met sy baadjie in haar hande gestaan.
GENESIS 39:7-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ná sy bevordering het Potifar se vrou met begeerte na hom begin kyk. Sy het hom genooi om by haar te kom slaap. Maar Josef het geweier. “Kyk,” sê hy vir haar, “my meester vertrou my met alles in sy hele huishouding. Niemand het meer gesag daaroor as ek nie. Hy het niks van my weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek ooit so ’n slegte ding doen? Ek sal mos teen God oortree.” Sy het dag na dag druk op hom uitgeoefen, maar hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie. Hy het selfs so ver moontlik uit haar pad probeer bly. Eendag was hy besig om sy werk te doen terwyl daar niemand anders in die huis was nie. Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: “Kom slaap by my!” Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom gegryp het, agtergelaat en uit die huis gehardloop.