GENESIS 39:19-23
GENESIS 39:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Toe Potifar hoor wat sy vrou vir hom vertel wat Josef wou doen, het hy baie kwaad geword. Potifar het vir Josef in die tronk laat toesluit, die tronk waar die koning sy gevangenes gehou het. Josef het lank daar in die tronk gebly. Maar die Here was by Josef en Hy het hom gehelp. Daarom was die hoof van die tronk ook vriendelik met Josef. Hy het Josef die hoof gemaak oor al die gevangenes in die tronk. Josef moes kyk dat alles reg gaan in die tronk. Die hoof van die tronk het hom oor niks in die tronk bekommer nie, want Josef het gekyk dat alles reg gaan. Die Here was by Josef, en dit het goed gegaan met alles wat hy gedoen het.
GENESIS 39:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen — het hy baie kwaad geword; en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen. Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die HERE met hom was; en wat hy doen, het die HERE voorspoedig laat wees.
GENESIS 39:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad, en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is. Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het. Hy het vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Josef was vir alles verantwoordelik, en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.
GENESIS 39:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sy eienaar die woorde van sy vrou hoor, dit wat sy vir hom gesê het, “Dít is die dinge wat jou slaaf aan my gedoen het,” het hy kwaad geword. Josef se eienaar het hom gevat en hom in die gevangenis gegooi, die plek waar die koning se gevangenes aangehou is. Hy was daar in die gevangenis, maar die HERE was met Josef en het in sy troue liefde na hom uitgereik. Hy het aan hom guns geskenk in die oë van die hoof van die gevangenis. Die hoof van die gevangenis het al die gevangenes wat in die gevangenis was, onder Josef se beheer geplaas. Alles wat daar gedoen moes word, het hy gedoen. Die hoof van die gevangenis het nie omgesien na enigiets wat onder Josef se beheer was nie, want die HERE was met hom; en wat hy gedoen het, het die HERE laat slaag.
GENESIS 39:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur toe sy heer die woorde van sy vrou hoor wat sy met hom gespreek het en gesê het: So het U dienaar aan my gedoen; dat sy toorn ontvlam het. En die heer van Josef het hom geneem en hom in die gevangenis gesit, 'n plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. Maar die HERE was met Josef, en Hy het barmhartigheid aan hom bewys en hom guns gegee in die oë van die bewaarder van die gevangenis. En die bewaarder van die gevangenis het al die gevangenes wat in die gevangenis was, aan Josef se hand oorgegee; en wat hulle ook al daar gedoen het, hy was die dader daarvan. Die bewaarder van die gevangenis het na niks gekyk wat onder sy hand was nie; omdat die HERE met hom was, en wat hy gedoen het, het die HERE dit voorspoedig gemaak.
GENESIS 39:19-23 Die Boodskap (DB)
Toe Potifar dit hoor, was hy woedend. Hy het Josef gegryp en hom in die tronk gegooi. Dit was die tronk waarin al die mense gestop is wat teen die koning oortree het. Die Here was saam met Josef in die tronk. Hy het vir Josef gewys Hy is lief vir hom en die Here het gemaak dat die hoof van die tronk sommer baie van Josef gehou het. Die tronkhoof het Josef toe oor al die gevangenes aangestel. Wat ook al gedoen moes word, het Josef gedoen. Omdat die Here by Josef was, was die hoof van die tronk oor niks bekommerd nie. Hy het alles aan Josef oorgelaat en die Here het Josef gehelp, sodat alles goed gegaan het.
GENESIS 39:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Potifar sy vrou se storie gehoor het oor wat hy met haar probeer aanvang het, was hy briesend. Hy gryp Josef en gooi hom in die tronk waar die koning se gevangenes gehou word. Terwyl hy daar in die tronk was, was die HERE ook met Josef. Hy het sy getrouheid aan Josef bewys deurdat die tronkbewaarder hom goedgesind was. Spoedig het die tronkbewaarder Josef oor die ander gevangenes aangestel en oor alles wat in die tronk moes gebeur. Die tronkbewaarder het geen bekommernis gehad nie, want Josef het oor alles toesig gehou. Die HERE was met hom sodat hy suksesvol was in alles wat hy gedoen het.