GENESIS 39:1-2
GENESIS 39:1-2 Die Boodskap (DB)
Josef het toe uiteindelik in Egipte beland. Die Ismaeliete het hom soontoe gevat en hom daar aan ’n belangrike Egiptenaar, Potifar, verkoop. Potifar het in die farao se paleis gewerk en was die hoof van die koning se lyfwagte. Die Here was baie naby aan Josef en dit het goed met hom gegaan. Hy het in Potifar se huis gewoon en ook daar gewerk.
GENESIS 39:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Die Ismaelitiese handelaars het vir Josef na Egipte gebring. 'n Belangrike amptenaar, Potifar, het hom gekoop. Potifar was die hoof van die wagte wat die farao moes oppas. Die Here was by Josef, en dit het baie goed gegaan met alles wat hy gedoen het. Hy het in die huis van sy eienaar in Egipte gewoon.
GENESIS 39:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. En die HERE was met Josef, sodat hy 'n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.
GENESIS 39:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, 'n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, 'n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het. Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.
GENESIS 39:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josef is afgebring na Egipte. Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao en die hoof van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop by die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. Die HERE was met Josef, en hy was 'n suksesvolle man. Hy was werksaam in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar.
GENESIS 39:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josef is na Egipte afgebring; en Potifar, 'n offisier van Farao, owerste van die lyfwag, 'n Egiptenaar, het hom gekoop uit die hande van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. En die HERE was met Josef, en hy was 'n voorspoedige man; en hy was in die huis van sy heer, die Egiptenaar.
GENESIS 39:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Ismaelitiese handelaars het vir Josef Egipte toe gebring. Daar het Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, hom by hulle gekoop. Die HERE was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester.