GENESIS 37:27-36

GENESIS 37:27-36 Bybel vir almal (ABA)

Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie hom doodmaak nie. Onthou, hy is ons eie broer.” Juda se broers het toe na hom geluister. Toe die handelaars van Midian verbykom, het Josef se broers hom uit die put opgetrek en hulle het hom aan die Ismaeliete verkoop vir 20 stukke silwer. Die handelaars het vir Josef saamgeneem na Egipte. Toe Ruben terugkom by die put en sien dat Josef nie meer in die put is nie, was hy baie hartseer. Hy het sy klere geskeur. Hy het teruggegaan na sy broers toe en hy het vir hulle gesê: “Die kind is nie meer daar nie. Wat moet ek nou doen?” Die broers slag toe 'n bok en hulle vat Josef se lang rok en smeer dit vol bloed. Toe stuur hulle sy rok na hulle pa toe en hulle laat weet vir hom: “Ons het hierdie rok opgetel. Kyk of dit miskien jou seun Josef se rok is.” Jakob het daarna gekyk en gesê: “Dit is my seun se rok. 'n Wilde dier het hom doodgemaak en opgevreet. Die dier het my seun Josef verskeur!” Jakob was baie hartseer. Hy het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het 'n lang tyd oor sy seun gehuil en getreur. Al sy seuns en dogters het gekom om hom te troos, maar hy wou nie hê dat hulle hom moet troos nie. Hy het gesê: “Ek sal aanhou treur oor hom totdat ek sterf.” Jakob het baie oor Josef gehuil. Die Midianiete het vir Josef in Egipte aan Potifar verkoop. Potifar was 'n belangrike amptenaar van die farao. Hy was hoof van die wagte wat die farao moes oppas.

GENESIS 37:27-36 Die Boodskap (DB)

Ek het ’n baie beter plan. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete, dan hoef ons hom nie dood te maak nie. Hy is darem nog ons broer, ons eie bloed.” Die ander het saamgestem. Intussen was die Ismaeliete met hulle kamele al baie naby en die broers het Josef vinnig uit die put opgetrek. Hulle het Josef toe vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop. Josef is saam met hulle Egipte toe. Ruben het van niks geweet nie, want hy was weg. Toe hy terugkom, is hy reguit na die put toe om Josef uit te haal, maar Josef was reeds weg. Ruben het hartseer geword en sy klere begin skeur. Hy het na sy broers toe gehardloop en uitgeroep: “Die seun is weg! Wat moet ek nou vir sy pa sê?” Hulle het toe ’n boklam geslag en Josef se klere gevat en dit daarin gedoop. Toe het die broers die kleed met die baie kleure en lang moue na hulle pa toe geneem en vir hom gesê: “Pa, ons het dit gekry. Kyk mooi of dit nie dalk Josef se klere is nie.” Hy het dit onmiddellik herken en gesê: “Dit is werklik Josef se klere dié. ’n Wilde dier moes hom aangeval en verskeur het. Josef is uitmekaargeskeur!” Jakob het toe opgestaan, sy klere begin skeur en ’n sak om hom gedraai. Hy was baie hartseer oor Josef se dood en het lank oor hom gerou. Al sy seuns en dogters het hom probeer troos, maar Jakob kon maar net nie oor Josef se dood kom nie. Hy het vir hulle gesê: “Ek sal huilend sterf en ontroosbaar begrawe word om daar saam met my seun te wees.” Dag vir dag het Jakob oor Josef bly rou. Intussen het Josef in Egipte aangekom, waar die Midianiete hom aan Potifar verkoop het. Potifar was die hoof van die Egiptiese koning se lyfwagte.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid