GENESIS 36:1-19

GENESIS 36:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Hier is 'n lys van die nageslag van Esau. Esau se ander naam was Edom. Esau het getrou met vroue uit Kanaän. Die vroue was Ada, die dogter van die Hetiet Elon, en Oholibama, die dogter van Ana wat die dogter was van die Hewiet Sibon. Sy ander vrou was Basemat, sy was die dogter van Ismael en die suster van Nebajot. Ada het 'n seun gekry vir Esau, die seun se naam was Elifas, en Basemat het 'n seun Reüel gekry. Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat in Kanaän gebore is. Esau het alles geneem wat hy gehad het: sy vroue, sy seuns en dogters en al die mense in sy huis en alles wat hy gehad het, al sy vee en alles wat hy in Kanaän bymekaargemaak het. Hy het na 'n ander land gegaan, weg van sy broer Jakob. Esau het weggetrek omdat hulle goed te veel was, hulle kon nie saam woon nie. Daar was nie genoeg plek vir al hulle diere in die land nie, die land waar hulle vreemdelinge was. So het Esau en sy nageslag, die mense van Edom, in die Seïr-berge gaan woon. Hier is die name van Esau se nageslag in die Seïr-berge: Die name van Esau se seuns was Elifas, Ada se seun, en Reüel, Basemat se seun. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Timna was Elifas se byvrou, en sy het 'n seun gekry vir Elifas, die seun se naam was Amalek. Dit was die nageslag van Esau se vrou Ada. Reüel se seuns was Nagat, Serag, Samma en Missa. Hulle was die nageslag van Esau se vrou Basemat. Esau se ander vrou was Oholibama. Sy was die dogter van Ada en die kleindogter van Sibon. Sy het ook seuns vir Esau gekry. Hulle name was Jeüs, Jalam en Korag. Hier is die name van die leiers van Esau se nageslag: Elifas was Esau se oudste seun. Die leiers van sy nageslag was Teman, Omar, Sefo, Kenas, Korag, Gatam en Amalek. Hulle was leiers in Edom, en hulle was die nageslag van Elifas en Ada. Die leiers van die nageslag van Reüel, Esau se ander seun, was Nagat, Serag, Samma en Missa. Hulle was ook almal leiers van hulle families in Edom. Hulle was die nageslag van Esau en sy vrou Basemat. Die leiers van die nageslag van Esau se vrou Oholibama was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was ook almal leiers van hulle families en hulle was die nageslag van Esau en sy vrou Oholibama, die dogter van Ana. Dit is die name van die nageslag van Esau, en die leiers van die families van Edom.

GENESIS 36:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot. En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel. En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het, en hy trek na 'n land, wég van sy broer Jakob af; want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie. En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. En Timna was 'n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau — sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof Sefo, die stamhoof Kenas, die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Ámalek. Dit is die stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada. En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom.

GENESIS 36:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hier volg besonderhede uit die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het getrou met Kanaänitiese meisies: met Ada dogter van Elon, 'n Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, 'n Hewiet, en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot. Ada het vir Elifas in die wêreld gebring. Basemat het vir Reüel in die wêreld gebring en Oholibama vir Jeüs, Jalam en Korag. Dit is Esau se seuns wat vir hom in Kanaän gebore is. Maar Esau het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom en met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaargemaak het, weggetrek na 'n ander land toe, weg van sy broer Jakob af. Hulle twee se besittings was te veel, hulle kon nie saam boer nie, en die land waar hulle as vreemdelinge gebly het, kon nie hulle vee dra nie. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon. Hier volg die name van Esau se nageslag in die Seïrberge. Esau was die voorvader van die Edomiete. Die name van Esau se seuns was: Elifas seun van Esau se vrou Ada, en Reüel seun van Esau se vrou Basemat. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Esau se seun Elifas het vir Timna as byvrou gehad, en sy het vir Amalek in die wêreld gebring. Dit was die nageslag van Esau se vrou Ada. Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa. Dit was die nageslag van Esau se vrou Basemat. Die seuns van Esau se vrou Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was Esau se seuns. Die volgende uit Esau se nageslag was stamhoofde. Uit Esau se oudste seun Elifas se seuns was daar Teman, Omar, Sefo, Kenas, Korag, Gatam en Amalek, almal stamhoofde. Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Elifas se huis, die nageslag van Ada. Uit Esau se seun Reüel was daar Nagat, Serag, Samma en Missa, almal stamhoofde. Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Reüel se huis, die nageslag van Esau se vrou Basemat. Die seuns van Esau se vrou Oholibama was Jeüs, Jalam, Korag, almal stamhoofde. Hulle was stamhoofde uit die geslag van Oholibama dogter van Ana, Esau se vrou. Dit was Esau, dit is Edom, se nageslag, en dit was hulle stamhoofde.

GENESIS 36:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hier volg die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom: Esau het sy vroue geneem uit die vroue van Kanaän – Ada, die dogter van Elon, die Hetiet; Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibon, 'n Hewiet; Basemat, die dogter van Ismael, die suster van Nebajot. Ada het Elifas vir Esau in die wêreld gebring, en Basemat het Reüel in die wêreld gebring. Oholibama het Jeüs, Jalam en Korag in die wêreld gebring. Dit is die seuns van Esau wat in die land Kanaän gebore is. Esau het sy vroue, sy seuns en dogters en al die mense van sy huis geneem, ook sy vee, al sy ander diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, en gegaan na 'n gebied weg van sy broer Jakob af. Hulle besittings was immers te veel om saam te kon woon. Vanweë hulle diere, kon die land waar hulle as •vreemdelinge gewoon het, hulle nie dra nie. Esau het in die Seïrberge gaan woon. Esau is Edom. Hier volg dan die familiegeskiedenis van Esau, die stamvader van die Edomiete, in die Seïrberge. Dit was die name van Esau se seuns: Elifas, die seun van Ada, Esau se vrou; Reüel, die seun van Basemat, Esau se vrou. Elifas se seuns was: Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Timna was 'n byvrou van Elifas, die seun van Esau; sy het Amalek vir Elifas in die wêreld gebring. Hulle was nakomelinge van Ada, Esau se vrou. Dit was die seuns van Reüel: Nagat, Serag, Samma en Missa. Hulle was nakomelinge van Basemat, Esau se vrou. Dit was die seuns van Oholibama, Esau se vrou en dogter van Ana, die dogter van Sibon: Sy het Jeüs, Jalam en Korag vir Esau in die wêreld gebring. Hier volg die stamhoofde van Esau se nageslag. Die nageslag van Elifas, Esau se eersgeborene, was: stamhoof Teman, stamhoof Omar, stamhoof Sefo, stamhoof Kenas, stamhoof Korag, stamhoof Gatam, en stamhoof Amalek. Hulle was stamhoofde van Elifas in die land Edom. Dit was die nakomelinge van Ada. Dit was die nakomelinge van Reüel, Esau se seun: stamhoof Nagat, stamhoof Serag, stamhoof Samma, en stamhoof Missa. Hulle was stamhoofde van Reüel in die land Edom. Dit was die nakomelinge van Basemat, Esau se vrou. Dit was die nakomelinge van Oholibama, Esau se vrou: stamhoof Jeüs, stamhoof Jalam, en stamhoof Korag. Dit was stamhoofde van Oholibama, Esau se vrou. Dit was dan die nakomelinge van Esau – dit is Edom – en dit was hulle stamhoofde.

GENESIS 36:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit is die geslagte van Esau, dit is Edom: Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän; Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, suster van Nebajot. En Ada het vir Esau Elifas gebaar; en Basmat het Rehuel gebaar; En Oholibama het Jeus, Jaälam en Korag gebaar; dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Esau het sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis en sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän gekry het, geneem; en van die aangesig van sy broer Jakob af in die land gegaan. Want hulle rykdom was meer as dat hulle saam kon woon; en die land waarin hulle vreemdelinge was, kon dit vanweë hulle vee nie dra nie. So het Esau op die berg Seïr gewoon: Esau is Edom. En dit is die geslagte van Esau, die vader van die Edomiete, op die gebergte Seïr: Dit is die name van Esau se seuns; Elifas, die seun van Ada, die vrou van Esau, Rehuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. Die seuns van Elifas was Teman, Omar, Sefo en Gatam en Kenas. En Timna was byvrou vir Elifas, die seun van Esau; en sy het vir Elifas Amalek gebaar. Dit was die seuns van Ada, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Réhuel; Nahat en Serag, Samma en Misa; dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. Dit was die seuns van Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibeon, die vrou van Esau; en sy het vir Esau Jeus en Jaälam en Korag gebaar. Dit was die vorste van die seuns van Esau: die seuns van Elifas, die eersgeborene seun van Esau; hertog Teman, hertog Omar, hertog Zepho, hertog Kenaz, Die hertog Korag, die hertog Gatam en die hertog Amalek: dit is die vorste wat van Elifas in die land Edom gekom het; dit was die seuns van Ada. En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau; die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Misa: dit is die stamhoofde wat van Rehuel in die land Edom gekom het; dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Oholibama, die vrou van Esau; hertog Jeus, stamhoof Jaälam, stamhoof Korag: dit was die stamhoofde wat gekom het van Oholibama, die dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Esau, dit is Edom, en dit is hulle vorste.

GENESIS 36:1-19 Die Boodskap (DB)

Hier is die familiegeskiedenis van Esau of die Edomiete. Esau het met Kanaänitiese meisies getrou: met Ada dogter van Elon, die Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, die Hewiet, en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot. Uit Ada is Elifas gebore en uit Basemat Reüel. Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in Kanaän gebore. Op ’n dag het Esau besluit om na ’n ander land toe te trek. Hy wou van sy broer, Jakob, af wegkom. Hy het toe sy vroue, sy seuns, sy dogters en al sy werkers gevat en hulle is daar weg. Hy het al die besittings wat hy oor die jare in Kanaän versamel het, asook al sy kleinvee en grootvee, saamgeneem. Esau en Jakob se besittings het net te veel geword en hulle kon nie meer saam boer nie. Die land, wat nog nie aan hulle behoort nie en waar hulle nog as vreemdelinge gebly het, was te klein vir al hulle vee. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon. Hier is die name van Esau se seuns wat in die Seïrberge gebore is. Esau was die voorvader van al die Edomiete. Die name van Esau se seuns was Elifas, seun van Esau se vrou Ada, en Reüel, seun van Esau se vrou Basemat. Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Esau se seun Elifas het ook ’n byvrou, Timna, gehad, en haar seun se naam was Amalek. Bogenoemde is die nageslag van Esau se vrou Ada. Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa. En hulle was die kinders van Esau se vrou Basemat. Die seuns van Esau se vrou Oholibama, dogter van Ana, dogter van Sibon, was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was almal Esau se seuns. Die volgende seuns uit Esau se nageslag was almal hoofde van stamme. Elifas, Esau se oudste seun, het die volgende seuns gehad: Teman, Omar, Sefo, Kenas, Korag, Gatam en Amalek. Hulle was die hoofde van verskillende stamme in Edom. Almal het uit die familie van Elifas gekom en hulle was deel van Ada, die vrou van Esau, se nageslag. Esau se seun Reüel het weer die volgende seuns gehad: Nagat, Serag, Samma en Missa. En hulle was almal stamhoofde. Hulle was die hoofde van verskillende stamme in Edom. Almal het uit die familie van Reüel gekom en hulle was deel van Basemat, die vrou van Esau, se nageslag. Esau se vrou Oholibama het die volgende seuns gehad: Jeüs, Jalam en Korag. Almal was stamhoofde uit die geslag van Oholibama, dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit was Esau, dit is Edom, se nageslag, en dit was hulle stamhoofde.

GENESIS 36:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier volg die familieregister van die afstammelinge van Esau (ook Edom genoem). Esau het met twee Kanaänitiese meisies getrou. Dit was Ada, dogter van Elon die Hetiet, en Oholibama, die dogter van Ana en kleindogter van Sibon die Hewiet. Hy het ook getrou met sy niggie Basemat, dogter van Ismael en die suster van Nebajot. Esau en Ada se seun was Elifas. Die naam van Esau en Basemat se seun was Reüel. Esau en Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in die land Kanaän gebore. Esau het met sy vroue, kinders, slawe, beeste en kleinvee en al die besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, weggetrek van sy broer Jakob. Daar was nie genoeg weiding vir die groot troppe beeste en kleinvee wat albei van hulle gehad het nie. Esau, ook genoem Edom, het in die Seïrberge gaan woon. Hier volg die lys van Esau se afstammelinge, die Edomiete, wat in die bergwêreld van Seïr gewoon het. Die name van Esau se seuns was: Elifas, seun van Esau se vrou Ada, en Reüel, seun van Esau se vrou Basemat. Die seuns van Elifas was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. Elifas het nog ’n seun gehad met die naam Amalek. Sy ma was Timna, Elifas se byvrou. Dit is al die kleinkinders van Ada, Esau se vrou. Die seuns van Reüel was: Nagat, Serag, Samma en Missa. Dit is al die kleinkinders van Esau en Basemat. Esau het ook seuns gehad by Oholibama, die dogter van Ana en kleinkind van Sibon. Hulle name was: Jeüs, Jalam en Korag. Esau se kinders en kleinkinders het stamhoofde geword. Die seuns van Esau se oudste seun Elifas wat stamhoofde geword het, was: Teman, Omar, Sefo, Kenas, Korag, Gatam en Amalek. Hierdie stamhoofde in die land Edom was afstammelinge van Elifas, die seun van Esau en Ada. Die seuns van Esau se seun Reüel wat stamhoofde geword het, was: Nagat, Serag, Samma en Missa. Hierdie stamhoofde in die land Edom was afstammelinge van Reüel, die seun van Esau en Basemat. Die seuns van Esau en sy vrou Oholibama wat stamhoofde geword het, was: Jeüs, Jalam en Korag. Hierdie stamhoofde was afstammelinge van Esau se vrou Oholibama, die dogter van Ana. Dit is al die stamhoofde wat van Esau, ook bekend as Edom, afgestam het.