GENESIS 35:1-29
GENESIS 35:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het vir Jakob gesê: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.” Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.” Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe. Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie. Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El. Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het. Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem. Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.” God het hom toe Israel genoem. God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.” Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het, het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie. Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem. Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte. Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!” Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni . Sy pa het hom egter Benjamin genoem. Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is. Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali. Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser. Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is. Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham. Isak het honderd en tagtig jaar oud geword en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Bybel vir almal (ABA)
God het vir Jakob gesê: “Jy moet gereedmaak. Jy moet na Bet-El gaan en daar gaan woon. Jy moet daar 'n altaar bou vir My. Ek is die God wat aan jou verskyn het toe jy weggevlug het van jou broer Esau.” Jakob sê toe vir sy huisgesin en almal wat by hom was: “Gooi weg al die beelde van ander volke se gode wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. Ons moet gereedmaak en na Bet-El gaan, sodat ek daar 'n altaar kan bou vir God wat geluister het na my gebed en wat my gehelp het toe ek groot probleme gehad het. Hy was by my oral waar ek gegaan het.” Hulle gee toe vir Jakob al die beelde wat hulle gehad het van ander volke se gode, en ook al hulle oor-ringe. Jakob het dit alles begrawe onder die boom by Sigem. Toe Jakob en sy mense wegtrek, het God die mense van die stede om hulle so bang laat word dat hulle nie vir Jakob en sy seuns gevolg en gejaag het nie. Jakob en almal wat by hom was, het by die stad Lus in Kanaän aangekom. Lus se ander naam was Bet-El. Jakob het daar 'n altaar gebou en hy het die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy weggevlug het van Esau. Toe Rebekka nog klein was, het sy gedrink aan 'n vrou. Die vrou se naam was Debora. Debora het daar by Bet-El gesterf. Hulle het haar begrawe onder 'n boom naby Bet-El. Hulle het die boom “Huilboom” genoem. Toe Jakob teruggekom het van Paddan-Aram, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar hulle sal jou nou nie meer Jakob noem nie, jou naam sal Israel wees.” So het God hom die naam Israel gegee. God het ook vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Jy moet vrugbaar wees en 'n groot nageslag hê. 'n Volk, ja, baie volke, sal uit jou kom. Jy sal die voorvader van konings wees. Ek gee ook hierdie land vir jou. Dit is die land wat Ek vir Abraham en vir Isak belowe het. Ek gee dit vir jou en vir jou nageslag ná jou.” Toe het God weggegaan van Jakob. Jakob het 'n gedenksteen op die plek gesit waar God met hom gepraat het. Hy het 'n drank-offer op die klip uitgegooi en ook olyf-olie. Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem. Jakob en sy mense het van Bet-El getrek na Efrata. Hulle was nog nie naby Efrata nie, toe het Ragel 'n kind gekry. Sy het baie pyn gehad toe die kind gebore is. Toe sê die vrou wat haar gehelp het: “Moenie bang wees nie, want jy het nou nog 'n seun gekry.” Ragel was besig om te sterf, en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Maar sy pa Jakob het hom Benjamin genoem. Ragel het gesterf en hulle het haar begrawe langs die pad na Efrata. Efrata se ander naam is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf gesit. Dit is die gedenksteen wat vandag nog op Ragel se graf is. Jakob het toe verder getrek en hy het sy tente anderkant die stad Migdal-Eder opgeslaan. Terwyl Jakob in daardie land gewoon het, het Ruben seks gehad met sy pa se byvrou Bilha, en Jakob het daarvan gehoor. Jakob het twaalf seuns gehad. Lea se seuns was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Ragel se seuns was Josef en Benjamin. Ragel se slavin Bilha se seuns was Dan en Naftali. Lea se slavin Silpa se seuns was Gad en Aser. Dit was Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy pa Isak in Mamre by Kirjat-Arba gekom. Kirjat-Arba se ander naam was Hebron. Die mense van daardie land het vir Abraham en Isak toegelaat om daar te woon. Isak het 180 jaar oud geword, toe het hy gesterf. Hy was baie oud. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau. Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar 'n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het. Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. En toe hulle weggetrek het, kom daar 'n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie. So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is — dit is Bet-el — hy en al die mense wat by hom was, en hy het daar 'n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het. En Debóra, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween. Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom; en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, ja, 'n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom. En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee. Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het. En Jakob het 'n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, 'n gedenksteen van klip, en daarop 'n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi. En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem. Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog 'n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling. En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook 'n seun vir u. En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem. So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem. En Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van die graf van Ragel tot vandag toe. En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van Migdal-Eder. En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf. Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Íssaskar en Sébulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali. En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. En Jakob het by sy vader Isak gekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham as vreemdeling vertoef het, en ook Isak. En die dae van Isak was honderd-en-tagtig jaar. En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het vir Jakob gesê: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.” Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.” Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe. Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie. Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El. Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het. Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem. Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.” God het hom toe Israel genoem. God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.” Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het, het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie. Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem. Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte. Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!” Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni . Sy pa het hom egter Benjamin genoem. Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is. Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali. Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser. Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is. Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham. Isak het honderd en tagtig jaar oud geword en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het vir Jakob gesê: “Maak gereed, trek op na Bet-El en woon daar. Bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op vlug was voor jou broer Esau.” Jakob sê toe vir sy huis en almal wat by hom was: “Verwyder die vreemde gode wat in julle midde is en reinig julle; trek ander klere aan. Kom ons maak gereed en trek op na Bet-El, sodat ek daar 'n altaar kan bou vir die God wat my geantwoord het op die dag toe ek in die nood was, en by my was op die pad wat ek gegaan het.” Hulle het toe al die vreemde gode wat hulle by hulle gehad het, vir Jakob gegee, ook die ringe wat aan hulle ore was. Hy het dit onder die groot terebintboom wat by Sigem is, weggesteek. Hulle het toe weggetrek, en 'n verskrikking van God af het oor die dorpe rondom hulle geheers, sodat hulle nie die seuns van Jakob agtervolg het nie. Toe Jakob by Lus, dit is Bet-El, in die land Kanaän aankom, hy en al die mense wat by hom was, het hy daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, omdat God Hom daar aan hom geopenbaar het toe hy op vlug was voor sy broer. Debora, die oppasser van Rebekka, is daar oorlede. Sy is begrawe onderkant Bet-El, onder die eikeboom. Hulle het dit die Eikeboom van Gehuil genoem. God het weer aan Jakob verskyn by sy aankoms uit Paddan-Aram, en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob. Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, dit sal jou naam wees.” So het Hy hom die naam Israel gegee. Verder het God vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, 'n skare van nasies, sal van jou afstam; selfs konings sal uit jou liggaam voortkom. Die land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, aan jou gee Ek dit; aan jou nageslag ná jou gee Ek die land.” Hierna het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gepraat het. Jakob het toe op die plek waar Hy met hom gepraat het, 'n gedenksteen, 'n gedenksteen van klip, opgerig en 'n •drankoffer daaroor uitgegooi. Hy het ook olie daarop gegooi. Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem. Hulle het van Bet-El af weggetrek, maar daar was nog 'n hele ent pad oor om by Efrata uit te kom, toe Ragel geboorte gegee het. Sy het 'n moeilike bevalling gehad. Terwyl sy so swaar gekry het met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie, want ook hierdie een is 'n seun vir jou.” Terwyl haar lewe wegvloei, want sy was sterwend, het sy hom die naam Ben-Oni gegee. Sy vader het hom egter Benjamin genoem. So het Ragel gesterf; en sy is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig. Dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe. Israel het toe verder getrek en sy tent opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in dié streek gebly het, het Ruben by sy vader se byvrou Bilha gaan slaap. Israel het daarvan te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea: Ruben, Jakob se eersgeborene, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as •vreemdelinge gewoon het. Isak het honderd-en-tagtig jaar lank geleef. Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê God vir Jakob: Staan op, gaan op na Bet-el en woon daar, en maak daar 'n altaar vir God wat aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het. Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en word rein, en verander julle klere. Laat ons opstaan en optrek na Bet-el; en ek sal daar 'n altaar maak vir God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die pad wat ek gegaan het. En hulle het aan Jakob al die vreemde gode gegee wat in hulle hand was, en al hulle oorringe wat in hulle ore was; en Jakob het hulle weggesteek onder die terpentynboom wat by Sigem was. Hulle het weggetrek, en die skrik van God was oor die stede wat rondom hulle was, en hulle het die seuns van Jakob nie agtervolg nie. Jakob het toe na Lus gekom wat in die land Kanaän is, dit is Bet-el, hy en al die mense wat by hom was. En hy het daar 'n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom verskyn het toe hy vir sy broer gevlug het. Maar Debora Rebekka se verpleegster het gesterf, en sy is onder Bet-el begrawe onder 'n eikeboom, en die naam daarvan is Allonbachuth genoem. God het weer aan Jakob verskyn toe hy uit Paddan-Aram uitkom, en hom geseën. Toe sê God vir hom: Jou naam is Jakob; jou naam sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees; en hy het hom Israel genoem. God sê vir hom: Ek is God, die Almagtige; wees vrugbaar en vermeerder; 'n nasie en 'n m enigte van nasies sal uit jou wees, en konings sal uit jou lendene voortkom; En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, aan jou sal Ek dit gee, en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee. God het van hom af opgegaan op die plek waar hy met hom gespreek het. En Jakob het 'n gedenksteen opgerig op die plek waar hy met hom gespreek het, 'n gedenksteen van klip; en hy het 'n drankoffer daarop uitgegooi en olie daarop gegooi. Jakob het die plek genoem waar God met hom gespreek het, Bet-el. En hulle het van Bet-el af weggetrek; en daar was nog 'n entjie om na Efrat te kom, en Ragel het barensnood gekry en sy het swaar gebaar. En toe sy in die harde kraam was, sê die vroedvrou vir haar: Moenie vrees nie; jy sal ook hierdie seun hê. En terwyl haar siel besig was om te vertrek, want sy het gesterf, het sy hom Benoni genoem; maar sy vader het hom Benjamin genoem. En Ragel het gesterwe en is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe. En Israel het weggetrek en sy tent oopgespan anderkant die toring van Edar. En toe Israel in daardie land gewoon het, het Ruben gegaan en gemeenskap met Bilha, sy vader se byvrou, en Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf; Die seuns van Lea; Ruben, Jakob se eersgeborene, en Simeon en Levi en Juda en Issaskar en Sébulon; Die seuns van Ragel; Josef en Benjamin: En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel; Dan en Naftali: En die seuns van Silpa, die slavin van Lea; Gad en Aser: dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, in die stad Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as vreemdelinge vertoef het. En die dae van Isak was honderd en tagtig jaar. En Isak het toe gesterwe, en hy is by sy volk versamel, oud en volledig in jare, en sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
GENESIS 35:1-29 Die Boodskap (DB)
God het vir Jakob gesê: “Gaan Bet-El toe en bly ’n ruk daar. Bou daar ’n altaar vir die God wat goed was vir jou toe jy destyds vir Esau gevlug het.” Jakob het toe al sy huismense en werkers bymekaargeroep en gesê: “Los nou eens en vir altyd al julle vreemde gode. Was julle skoon en trek skoon klere aan. Ons gaan binnekort Bet-El toe. Daar gaan ek ’n altaar vir die Here bou, omdat Hy geluister het toe ek moedeloos was en Hy altyd saam met my op die pad was.” Almal het hulle afgode gebring asook hulle oorringe. En Jakob het al die goed gevat en dit onder die groot boom duskant Sigem begrawe. Daarna het Jakob en sy mense Bet-El toe getrek. God was by hulle, want Hy het ’n groot angs oor die omringende stede laat kom sodat hulle Jakob en sy mense in vrede Bet-El toe laat trek het. Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom. Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het. Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem. En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het. Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het. God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom. Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.” Skielik was God weg. Toe Hy klaar met Jakob op daardie plek gepraat het, was Hy net weg. Op dieselfde plek waar God met hom gepraat het, het Jakob toe ’n klipstapel gepak. Hy het ’n offer van water en wyn daaroor uitgegooi. Hy het ook olie oor al die klippe gegooi. Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het. Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het. Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.” Maar Ragel was besig om te sterf van die komplikasies met die geboorte. Met haar laaste kragte het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Dit beteken “seun van pyn en smart”. Jakob het later sy naam na Benjamin, “seun van geluk en voorspoed”, verander. Ragel is daar dood. Sy is langs die grootpad na Efrata begrawe. Hulle noem die plek vandag nog Betlehem. Jakob het ’n grafsteen op haar graf gesit, wat nou nog daar staan. Israel is toe verder en het uiteindelik by Migdal-Eder kamp opgeslaan. In hierdie tyd het daar iets verskrikliks gebeur. Ruben, Israel se oudste seun, het by sy pa se byvrou, Bilha, gaan slaap. En Israel het dit uitgevind. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die vrou wat vir Ragel gewerk het, was Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die vrou wat vir Lea gewerk het, was Gad en Aser. Hierdie is dan die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Na baie jare het Jakob weer sy pa, Isak, gesien. Isak het toe in Mamre gewoon. Die plek word ook Kirjat-Arba of deesdae Hebron genoem. Net soos sy pa, Abraham, het Isak ook lang tye hier gewoon. Isak het 180 jaar oud geword. Hy het ’n ou man geword en het in ’n goeie ouderdom gesterf. Esau en Jakob het hom toe by sy mense begrawe.
GENESIS 35:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God sê toe vir Jakob: “Trek verder en gaan woon by Bet-El. Bou daar vir My ’n altaar. Ek is die God wat aan jou verskyn het toe jy destyds weggevlug het van jou broer Esau af.” Jakob beveel toe almal in sy huishouding: “Raak ontslae van julle afgodsbeelde, was julle en trek skoon klere aan. Ons gaan nou na Bet-El toe waar ek ’n altaar wil bou tot eer van die God wat my gebede verhoor het toe ek in die verknorsing was. Hy was oral by my waar ek gegaan het.” Hulle gee toe al hulle afgodsbeelde en oorringe vir Jakob. Hy het dit onder die boom naby Sigem begrawe. Terwyl hulle wegtrek, het daar so ’n verskrikking van God oor die mense van die omgewing gekom dat niemand eers gewaag het om Jakob en sy seuns te agtervolg nie. Jakob-hulle het by Lus, nou Bet-El genoem, in Kanaän aangekom. Daar bou hy ’n altaar en noem dit El-Bet-El, want God het hier by Bet-El aan hom verskyn toe hy vir Esau gevlug het. Kort daarna het Debora, die slavin wat vir Rebekka grootgemaak het, gesterf. Hulle het haar onder die groot boom naby Bet-El begrawe. Hulle het dit Huilboom genoem. Na Jakob se terugkeer uit Paddan-Aram het God weer ’n keer aan hom verskyn. God het hom geseën en gesê: “Jou naam is nie langer Jakob nie. Jy sal van nou af Israel genoem word.” God het verder gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ’n groot nasie. Baie nasies sal uit jou voortkom. Daar sal selfs konings onder hulle wees. Hierdie land wat Ek vir Abraham en Isak gegee het, gee Ek ook vir jou en jou nageslag.” Daarna het God van Jakob af weggegaan. Jakob het toe ’n klip regop gesit op daardie plek waar God met hom gepraat het. Daarna het hy wyn daaroor uitgegiet en ook olie as ’n offer aan God. Jakob het die plek Bet-El, huis van God, genoem, want God het daar met hom gepraat. Hulle het Bet-El verlaat op pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Toe hulle nog ’n ent van hulle bestemming was, was dit Ragel se tyd om geboorte te gee. Dit was ’n baie moeilike bevalling. Toe sy so swaarkry met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie. Jy het weer ’n seun!” Maar Ragel was besig om te sterf. Met haar laaste asem noem sy hom Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem. Ragel het gesterf en hulle het haar op pad na Efrata, dit is Betlehem, begrawe. Jakob het ’n klip as gedenkteken op die graf gesit. Dit staan vandag nog daar. Daarna het Jakob sy reis voortgesit en kamp opgeslaan by Migdal-Eder. Terwyl hulle in daardie landstreek was, het Ruben by Bilha, sy pa se slavinvrou, geslaap. Jakob het hiervan te hore gekom. Hier volg die name van Jakob se twaalf seuns: Die seuns van Lea was: Ruben, Jakob se oudste seun, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, Ragel se slavin, was Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, Lea se slavin, was Gad en Aser. Dit is die seuns wat vir Jakob in Paddan-Aram gebore is. Jakob is toe na sy pa, Isak, in Mamre. Dit is naby Kirjat-Arba, nou genoem Hebron, waar Abraham destyds gewoon het. Isak het 180 jaar oud geword. Hy is ná ’n vol lewe op ’n rype ouderdom oorlede. Sy twee seuns, Esau en Jakob, het hom begrawe.