GENESIS 34:1-31
GENESIS 34:1-31 Bybel vir almal (ABA)
Dina was Jakob en Lea se dogter. Sy het gaan kuier by die ander meisies wat daar naby gewoon het. Sigem was die seun van die Hewiet Gamor wat oor daardie deel van die land regeer het. Sigem het vir Dina gesien en hy het haar gegryp en verkrag. Sigem het toe verlief geraak op Dina, Jakob se dogter, en hy het dit vir haar gesê. Sigem het vir sy pa Gamor gesê: “Sê vir hierdie meisie se ouers dat ek met haar wil trou, ek wil haar hê.” Jakob het gehoor dat Sigem sy dogter Dina verkrag het. Sy seuns was in die veld by die diere, en Jakob het stilgebly totdat hulle teruggekom het. Sigem se pa Gamor het na Jakob toe gekom om met hom te praat. Toe Jakob se seuns uit die veld kom, het hulle gehoor wat gebeur het. Hulle was geskok en baie kwaad omdat Sigem so 'n baie verkeerde ding gedoen het toe hy seks gehad het met Jakob se dogter. In Israel was dit baie verkeerd om so iets te doen. Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem is verlief op julle dogter. Gee haar asseblief vir my seun sodat hy met haar kan trou. As julle nou julle dogters vir ons gee, dan sal ons ook ons dogters vir julle gee sodat julle met hulle kan trou. Julle moet altyd hier by ons woon. Die land is oop voor julle. Julle mag rondtrek in die land en julle mag woon waar julle wil.” Sigem het vir Dina se pa en haar broers gesê: “Ek wil een van julle familie word. Ek sal vir julle alles gee wat julle vir my vra. Julle mag sê hoeveel ek moet betaal om haar te kry, dit maak nie saak as dit baie is nie. Sê ook vir my watter ander presente ek vir julle moet gee. Maar gee Dina asseblief vir my sodat ek met haar kan trou.” Jakob se seuns het vir Sigem en sy pa Gamor geantwoord, maar hulle was vals, want hulle wou iets doen omdat Sigem hulle suster Dina verkrag het. Hulle sê toe: “Ons mag nie ons suster gee vir 'n man wat nie besny is nie. Dit sal 'n skande wees. Ons sal net inwillig en ja sê as julle soos ons word, julle moet al julle mans en seuns laat besny. Dan sal ons ook ons dogters vir julle seuns gee en ons sal julle dogters vir ons seuns neem sodat hulle kan trou. Ons sal dan by julle woon en ons sal een volk word. Maar as julle nie na ons luister en julle laat besny nie, dan sal ons ons suster vat en weggaan.” Gamor en sy seun Sigem was tevrede met Jakob en sy seuns se antwoord. Sigem was haastig om te doen wat hulle gevra het, want hy was baie lief vir Jakob se dogter. Hy was die belangrikste man in sy pa se familie. Gamor en sy seun Sigem het na die stad se poort gegaan. Hulle het met die stad se manne gepraat en gesê: “Hierdie mense is vriendelik met ons. Laat hulle in die land woon en hier rondtrek. Die land is baie groot, dit lê oop voor hulle. Ons seuns kan dan met hulle dogters trou, en ons kan ons dogters vir hulle seuns gee. Maar ons moet eers al ons mans besny soos hulle dit doen, dan sal hierdie manne inwillig en ja sê om by ons te woon en om saam met ons een volk te word. Hulle diere, al hulle goed en al hulle vee sal dan aan ons behoort, maar dan moet ons inwillig en doen wat hulle vra. Dan sal hulle by ons woon.” Almal wat deur die poort van die stad gekom het, het geluister na Gamor en sy seun Sigem. Al die mans het hulle laat besny, almal wat deur die poort van die stad gekom het. Drie dae later, toe dit nog baie seer was nadat die mans hulle laat besny het, het Jakob se seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, hulle swaarde gevat en hulle het na Sigem se stad gegaan. Hulle het maklik in die stad ingekom, niemand het hulle gekeer nie. Hulle het al die mans doodgemaak. Hulle het ook vir Gamor en sy seun Sigem doodgesteek. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis gevat en weggegaan. Jakob se seuns het by die dooie mans verbygegaan en hulle het al die goed van die mense in die stad gevat omdat Sigem hulle suster verkrag het. Hulle het die skape en die bokke, die beeste en die donkies gevat, alles wat in die stad en in die veld was. Simeon en Levi het al die goed gevat wat in die huise was, ook al die kinders en vroue. Hulle het alles saam met hulle weggevat. Jakob het vir Simeon en vir Levi gesê: “Julle het nou vir my groot probleme gemaak. Ek moet nou skaam wees voor die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ons is min, en as die mense van die land almal saamwerk, dan sal hulle ons oorwin en doodmaak, vir my en my huisgesin.” Maar Simeon en Levi het geantwoord: “Hy moes nie dinge aan ons suster gedoen het wat iemand aan 'n slegte vrou doen nie.”
GENESIS 34:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die dogters van die land te leer ken. Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer. En sy siel het verkleef geraak aan Dina, die dogter van Jakob; en hy het die dogter liefgehad en na die hart van die dogter gespreek. Sigem het ook met sy vader Hemor gespreek en gesê: Neem daardie dogter vir my as vrou. Toe Jakob dan hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy vee in die veld; en Jakob het geswyg totdat hulle gekom het. En Hemor, die vader van Sigem, het na Jakob uitgegaan om met hom te spreek. En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne was gegrief en baie kwaad, omdat hy 'n skanddaad in Israel begaan het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie. Toe spreek Hemor met hulle en sê: Die siel van my seun Sigem is verlief op julle dogter: gee haar tog aan hom as vrou en verswaer julle met ons: gee aan ons julle dogters, en neem vir julle ons dogters. Bly maar by ons woon, en die land sal voor julle oop lê; woon en trek rond daarin en verwerf vaste besittings daarin. En Sigem sê vir haar vader en haar broers: Laat my guns vind in julle oë, en wat julle van my eis, sal ek gee. Vra my 'n baie groot koopprys en geskenk, en ek sal dit gee soos julle aan my sê; gee my net die dogter as vrou. Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor, sy vader, met bedrog — hulle het so gespreek, omdat hy hulle suster Dina onteer het — en sê vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan 'n man te gee wat die voorhuid het nie, want dit sou 'n skande vir ons wees. Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat almal wat manlik is onder julle, besny word. Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem; en ons sal by julle woon en een volk word. Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons dogter en ons trek weg. En hulle woorde was goed in die oë van Hemor en in die oë van Sigem, die seun van Hemor. En die jongman het nie versuim om dit te doen nie, want hy het sin gehad in die dogter van Jakob, en hy was die mees geëerde in die hele huis van sy vader. Toe gaan Hemor en sy seun Sigem na die poort van hulle stad, en hulle spreek met die manne van hul stad en sê: Hierdie manne lewe in vrede met ons; daarom, laat hulle in die land woon en daarin rondtrek: die land lê mos alkante toe wyd voor hulle. Ons kan hulle dogters vir ons as vroue neem, en ons sal ons dogters aan hulle gee. Maar net op hierdie voorwaarde sal die manne inwillig om by ons te woon, om een volk te word: as almal wat manlik is onder ons, besny word soos hulle besny is. Hulle vee en hulle besittings en al hulle diere — sal dit nie ons s'n wees nie? Laat ons net inwillig, sodat hulle by ons kan bly woon. En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem — almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het. Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was. Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard; daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek. Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het. Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels — wat in die stad en in die veld was — het hulle weggeneem. En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was. Toe sê Jakob vir Símeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek 'n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek sal verdelg word, ek en my huis. Toe antwoord hulle: Hoe durf hy dan ons suster as 'n hoer behandel!
GENESIS 34:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing. Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag. Daarna het hy al hoe meer begin hou van Dina dogter van Jakob. Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer wen. Hy het vir sy pa, vir Gamor gesê: “Kry vir my daardie meisie as vrou.” Jakob het verneem dat sy dogter Dina deur Sigem onteer is, maar omdat Jakob se seuns met die vee in die veld was, het hy niks gedoen voor hulle terug was nie. Toe Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gaan om met hom te praat oor Dina, kom Jakob se seuns juis van die veld af by die huis aan en toe hulle hoor wat gebeur het, was die manne ontsteld. Hulle was baie kwaad, want Sigem het 'n gruwelike ding aangevang toe hy met die dogter van Jakob, 'n Israelitiese meisie, gemeenskap gehad het. So iets doen 'n mens nie. Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem hou baie van die dogter uit julle huis. Laat haar tog met hom trou. Kom ons word familie van mekaar. Dan kan julle dogters met ons trou en ons dogters met julle. Dan bly julle hier by ons. Ons land is tot julle beskikking. Bly net hier of trek rond en kry julle eie grond hier by ons.” Toe sê Sigem vir Dina se pa en haar broers: “As julle instem, sal ek betaal wat julle ook al van my vra. Julle kan maar die vergoeding wat ek moet gee, net so groot maak soos julle wil. Ek sal ook nog enige ander geskenk gee wat julle vra. Gee net asseblief die meisie vir my dat ek met haar kan trou.” Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer. Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding. Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.” Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem. Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het, het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê: “Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n. Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is. Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.” Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny. Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak, ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan. Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is: kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat. Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat. Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.” Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”
GENESIS 34:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dina, die dogter wat Lea vir Jakob in die wêreld gebring het, het uitgegaan om na die dogters van die omgewing te gaan kyk. Toe Sigem, die seun van Gamor, die Hewiet, en die leier van die gebied, haar sien, het hy haar geneem, by haar geslaap en haar verneder. Hy was geheg aan Dina, die dogter van Jakob. Hy het verlief geraak op die jong meisie, en hy het mooi met die jong meisie gepraat. Sigem sê toe vir Gamor, sy vader: “Kry vir my hierdie meisie as vrou.” Jakob het gehoor dat hy sy dogter Dina onteer het. Maar sy seuns was nog by die vee in die veld, en hy het stilgebly totdat hulle gekom het. Gamor, Sigem se vader, het uitgegaan na Jakob om met hom te onderhandel. Die seuns van Jakob het uit die veld gekom die oomblik toe hulle die berig kry. Die manne was diep gegrief en baie kwaad, want Sigem het 'n gruweldaad gepleeg teen Israel deur by die dogter van Jakob te slaap. So iets mag nie gedoen word nie. Gamor het met hulle onderhandel en gesê: “My seun Sigem het sy hart verloor op julle dogter. Gee haar asseblief aan hom as vrou. Ondertrou met ons! Julle kan julle dogters vir ons gee en ons dogters vir julle neem. Julle kan by ons woon. Die land lê oop voor julle: Woon daar, trek daar rond en verkry eiendom daar.” Sigem sê toe vir haar vader en broers: “Mag ek guns vind in julle oë! Wat julle ook al van my vra, sal ek gee. Maak die bruidsprys vir my maar baie hoog, en ook die geskenk, en ek sal gee wat julle vir my sê. Gee net vir my die jong meisie as vrou.” Die seuns van Jakob het Sigem en Gamor, sy vader, met sluheid geantwoord, en het onderhandel, omdat hy hulle suster Dina onteer het. Hulle het vir hulle gesê: “Ons kan so iets nie doen nie – om ons suster te gee aan 'n man wat nie besny is nie; trouens, dit sal vir ons 'n skande wees. Net op hierdie voorwaarde sal ons instem: as julle word soos ons, deur al die manlikes by julle te laat besny. Ons sal dan ons dogters aan julle gee en julle dogters vir ons neem. Ons sal by julle woon en een volk word. Maar as julle nie aan ons gehoor gee deur besny te word nie, vat ons ons dogter en vertrek.” Hulle woorde was goed in die oë van Gamor en Sigem, seun van Gamor. Die jong man het nie getalm om die saak tot uitvoer te bring nie, want hy het Jakob se dogter begeer, en hy was die mees geëerde lid van sy vader se hele familie. Gamor en sy seun Sigem het na die poort van hulle dorp gegaan en met die manne van hulle dorp onderhandel: “Hierdie manne is vredeliewend. Laat hulle by ons woon in die land en daarin rondtrek. Kyk, die land lê alkante toe wyd oop voor hulle. Hulle dogters kan ons vir ons as vroue neem, en ons dogters kan ons aan hulle gee. Net op hierdie voorwaarde sal die manne instem om by ons te bly, om een volk te word: as al die manlikes by ons besny word, soos hulle besny is. Hulle vee en besittings, ja, al hulle diere – sal dit nie aan ons behoort nie? Ons moet net instem, dan sal hulle by ons bly.” Hulle het toe na Gamor en sy seun Sigem geluister – almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp. Elke manlike persoon is besny, almal wat kan optrek uit die poort van sy dorp. Maar op die derde dag, toe hulle in pyn verkeer, het die twee seuns van Jakob, Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat, ongehinderd die dorp oorval en al die manlike persone doodgemaak. Ook Gamor en sy seun Sigem het hulle met die skerpte van die swaard doodgemaak. Hulle het Dina uit Sigem se huis geneem en weggegaan. Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes toegesak en die dorp geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het. Hulle kleinvee, beeste en donkies en alles wat in die dorp en in die veld was, het hulle gevat. Al hulle rykdom, al hulle kinders en vroue, het hulle weggevoer en alles wat binnenshuis was, buitgemaak. Jakob het vir Simeon en Levi gesê: “Julle het my in die ongeluk gestort deur my veragtelik te maak by die inwoners van die land, by die Kanaäniete en Feresiete. Ek het maar min mense; as hulle teen my saamtrek en my aanval, sal ek uitgedelg word, ek en my huis.” Hulle het egter gesê: “Moes hy dan ons suster soos 'n hoer behandel?”
GENESIS 34:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die dogters van die land te sien. En toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, owerste van die land, haar sien, het hy haar geneem en met haar gemeenskap gehad en haar verontreinig. En sy siel het aan Dina, die dogter van Jakob, gekleef, en hy het die meisie liefgehad en vriendelik met die meisie gepraat. En Sigem het met sy vader Hemor gespreek en gesê: Gee vir my hierdie meisie as vrou. Jakob het gehoor dat hy sy dogter Dina verontreinig het; nou was sy seuns met sy vee in die veld; en Jakob het stilgebly totdat hulle gekom het. Hemor, die vader van Sigem, het uitgegaan na Jakob toe om met hom te praat. Die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor, en die manne was bedroef en baie kwaad, omdat hy dwaasheid in Israel gedoen het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hê; watter ding nie gedoen behoort te word nie. Hemor het met hulle gepraat en gesê: Die siel van my seun Sigem verlang na julle dogter; En maak huwelike met ons en gee julle dogters vir ons en neem ons dogters vir julle. En julle sal by ons woon, en die land sal voor julle wees; woon en handel daarin, en kry vir julle besittings daarin. Toe sê Sigem aan haar vader en haar broers: Laat my genade vind in julle oë, en wat julle vir my sal sê, sal ek gee. Vra my nooit soveel bruidskat en geskenk nie, en ek sal gee soos julle vir my sê; maar gee my die meisie as vrou. En die seuns van Jakob het Sigem en sy vader Hemor bedrieglik geantwoord en gesê omdat hy hulle suster Dina verontreinig het: En hulle sê vir hulle: Ons kan hierdie ding nie doen om ons suster te gee aan een wat nie besny is nie; want dit was vir ons 'n smaad: Maar hierin sal ons met julle instem: As julle wil wees soos ons, dat elke man van julle besny word; Dan sal ons ons dogters vir julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem, en ons sal by julle woon, en ons sal een volk word. Maar as julle nie na ons luister om julle te laat besny nie; dan sal ons ons dogter neem, en ons sal weg wees. En hulle woorde het Hemor en Sigem, die seun van Hemor, behaag. En die jongman het nie uitgestel om die ding te doen nie, omdat hy behae gehad het in die dogter van Jakob, en hy was eerbaarder as die hele huis van sy vader. En Hemor en sy seun Sigem het by die poort van hulle stad gekom en met die manne van hulle stad gepraat en gesê: Hierdie manne is vredeliewend met ons; laat hulle daarom in die land woon en daarin handel dryf; vir die land, kyk, dit is groot genoeg vir hulle; laat ons hulle dogters vir ons as vroue neem, en laat ons ons dogters aan hulle gee. Alleenlik hierin sal die manne ons instem om by ons te woon om een volk te wees, as elke man onder ons besny word soos hulle besny is. Sal hulle vee en hulle besittings en al hulle diere nie ons s'n wees nie? laat ons net met hulle instem, en hulle sal by ons woon. En na Hemor en na sy seun Sigem het almal geluister wat uit die poort van sy stad uitgegaan het; en almal wat manlik is, is besny, almal wat uit die poort van sy stad uitgegaan het. En op die derde dag, toe hulle swaar gekry het, het twee van die seuns van Jakob, Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard geneem en die stad met vrymoedigheid afgekom en al die manspersone gedood. En hulle het Hemor en sy seun Sigem met die skerpte van die swaard gedood en Dina uit Sigem se huis geneem en uitgegaan. Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder, omdat hulle hul suster verontreinig het. Hulle het hulle skape en hulle beeste en hulle esels geneem, en wat in die stad was en wat in die veld was, En al hulle rykdom en al hulle kindertjies en hulle vroue het hulle gevange geneem en selfs alles wat in die huis was, geplunder. Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: Julle het my verskrik om my te laat stink onder die inwoners van die land, onder die Kanaäniete en die Feresiete; en ek is min in getal, hulle sal teen my vergader en my doodmaak; en ek sal vernietig word, ek en my huis. En hulle sê: Moet hy met ons suster handel soos met 'n hoer?
GENESIS 34:1-31 Die Boodskap (DB)
Dina, die dogter van Jakob en Lea, het op ’n dag vir die vroue in die omgewing gaan kuier. Hamor, die Hewiet, was die leier in die gebied. Sy seun Sigem het Dina sien stap. Hy het haar toe gegryp en gedwing om by hom te slaap. Na die tyd het Sigem baie van Dina begin hou. Hy was verlief op haar en hy het hard probeer om haar hart te wen. Sigem het toe sy pa se hulp ingeroep. “Pa,” het hy gesê, “help my tog dat Dina my vrou kan word.” Jakob het intussen die skoknuus verneem. Hulle het hom kom vertel hoe Sigem sy Dina-kind se lewe vernietig het. Jakob het aanvanklik niks gedoen nie, want hy wou eers vir die seuns wag. Hulle was nog met die vee in die veld. Na ’n ruk het Hamor, Sigem se pa, by Jakob aangekom. Hy wou met hom oor Sigem se liefde vir Dina praat. Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie. Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.” Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou. Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.” Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal. Julle kan vir Dina vra net soveel as wat julle wil en ek sal betaal. Ek sal alles gee net solank sy my vrou kan word.” Jakob se seuns was nog woedend oor die ding wat Sigem met hulle suster gedoen het. Hulle het toe ’n baie slegte plan beraam. Hulle het vir Sigem en sy pa, Hamor, gesê: “Ongelukkig kan ons nie. Ons kan tog nie ons suster aan iemand gee wat nie besny is nie. Dit sal mos ’n skande wees. Daar is egter wel ’n moontlikheid: julle moet soos ons word en julle laat besny. As julle dit doen, word alles natuurlik makliker. Ons kan dan met gerustheid ons dogters vir julle gee en ons seuns kan ook sonder enige probleme met julle dogters trou. Ons kan dan saamwoon en een volk word. As julle vandag egter anders besluit, vat ons Dina en gaan weg.” Vir Hamor en Sigem het alles goed geklink en hulle is daar weg. Die jongman, Sigem, het Dina so begeer dat hy onmiddellik met die voorbereidings vir die besnydenis begin het. Vir sy familie was Sigem ’n baie belangrike man. Hamor en sy seun Sigem het die lede van die dorpsraad by die stadspoort gaan ontmoet. Hulle wou die dorpsraadslede van hulle ervaring vertel. Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies. Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie. Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.” Die dorpsraad het met Hamor en Sigem saamgestem en elke man in die dorp is besny. Op die derde dag het al die mans nog baie pyn gehad. Dina se twee broers, Simeon en Levi, het toe ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het die dorp binnegery en op ’n gegewe oomblik het hulle die swaarde uitgeruk en al die mans in die dorp voor die voet uitgewis. Selfs Hamor en Sigem is doodgemaak. By Sigem se huis het hulle vinnig hulle suster, Dina, gaan haal en uit die dorp gejaag. Toe Jakob se ander seuns hiervan hoor, was hulle vuur en vlam. Hulle het die stad binnegejaag en net dooies sien rondlê. Toe het hulle die stad genadeloos begin plunder. Hulle verskoning was dat Sigem vir Dina verkrag het. Hulle het net mooi alles gevat, alles wat in die stad was asook buite in die veld. Al die mense se kleinvee, beeste, donkies en besittings. Selfs vroue en kinders is geroof en as gevangenes saamgeneem. Alles wat in die huise was, het Jakob se kinders vir hulleself gevat. Jakob was baie ontsteld oor alles. Vir Simeon en Levi het hy reguit gesê: “Julle het my in die allergrootste ellende gedompel. Almal in hierdie land, veral die Kanaäniete en die Feresiete, sal my nou haat. Ons is maar ’n klein klompie mense en as hulle saamstaan, is dit klaarpraat met ons.” Maar die kinders het weereens hulle swak verskoning herhaal: “Maar, Pa, hy het dan ons suster soos ’n slet behandel.”
GENESIS 34:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag het Dina, Jakob se dogter by Lea, by die jong vroue van die omgewing gaan kuier. Maar toe Sigem haar sien, het hy haar gegryp en haar verkrag. Sigem was die seun van Gamor, heerser van die gebied en ’n Hewiet. Hy het haar egter begin liefkry en haar toegeneentheid probeer wen. Hy praat toe met sy pa daaroor. “Kry tog hierdie meisie vir my,” vra hy, “want ek wil met haar trou.” Jakob het gehoor dat sy dogter verkrag is. Sy seuns was nog in die veld by die vee. Hy doen toe niks aan die saak voordat hulle teruggekom het nie. Intussen het Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gekom om die saak te bespreek. Hy kom toe daar aan net toe Jakob se seuns uit die veld aankom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was hulle geskok en woedend. Dit was ’n skandelike ding in Israel dat Sigem gemeenskap met Jakob se dogter gehad het! Dis iets wat nooit moes gebeur het nie. Gamor verduidelik toe vir Jakob en sy seuns: “My seun Sigem is regtig verlief op julle dogter. Gee asseblief toestemming dat hy met haar trou! Ondertrou met ons: Laat julle dogters met ons seuns trou, en ons sal ons dogters toelaat om met julle seuns te trou. Julle kan dan tussen ons woon. Die land is oop vir julle. Vestig julle hier en dryf met ons handel. Julle is ook welkom om eiendom tussen ons te bekom.” Sigem praat toe self met Dina se pa en broers. Hy sê: “Aanvaar my tog. Ek sal gee wat julle ook al vra. Maak nie saak wat die bruidsprys of geskenk is wat julle vra nie, ek sal dit betaal. Ek wil die meisie net baie graag as vrou hê.” Omdat hy hulle suster verkrag het, het Dina se broers egter bedrieglik gereageer op Sigem en Gamor se versoek. Daarom sê hulle: “Ons kan dit glad nie toelaat nie, want julle is nie besny nie. Dit sal ’n skande wees as sy met ’n man trou wat nie besny is nie. Maar daar is ’n oplossing vir die probleem. As elke man onder julle soos ons besny word, dan kan ons met julle ondertrou en saam hier in vrede lewe. Dan kan ons een nasie word. Indien nie, vat ons haar en gaan weg hiervandaan.” Hulle voorstel was aanvaarbaar vir Gamor en Sigem. Sigem het nie op hom laat wag nie, want hy wou Dina bitter graag hê. Sigem was hooggeag in sy familie. Hy en sy pa het saam na die vergaderplek in die poort gegaan en die voorstel aan die leiers voorgelê. “Daardie mense is goedgesind teenoor ons,” het hulle gesê. “Kom ons laat hulle toe om hier by ons te woon en met ons handel te dryf, want die land is groot genoeg om hulle ook te dra. Dan kan ons met hulle ondertrou. Hulle sal dit egter net op een voorwaarde oorweeg om hier te bly. Dit is dat elke manlike persoon onder ons besny word. As ons dit doen, sal al hulle vee, trekdiere en besittings ons s’n word. Hulle sal dan saam met ons hier kan woon.” Al die mans in die poort van die dorp het na Gamor en Sigem geluister en ingestem en hulle almal laat besny. Drie dae later, toe die mans nog baie pyn gehad het, het Dina se broers, Simeon en Levi, hulle swaarde gevat en sonder weerstand die dorp binnegegaan. Hulle het al wat ’n man is, doodgemaak, selfs ook Gamor en Sigem. Hulle het Dina uit Sigem se huis gaan wegneem en met haar na hulle kamp toe teruggekeer. Daarna het Jakob se ander seuns die dorp geplunder omdat hulle suster daar verkrag is. Hulle het al die kleinvee, beeste, donkies en alles wat hulle binne en buite die stad in die hande kon kry, gevat. Hulle het ook al die vroue en kinders met alles wat in die huise was, geroof. Daarna sê Jakob vir Levi en Simeon: “Julle het my ’n slegte naam gegee onder die Kanaäniete en Feresiete, die mense van hierdie land. Ons is maar min mense. Hulle kan saam teen ons optrek en ons almal uitroei!” “Maar hy het dan ons suster soos ’n prostituut behandel!” het hulle teruggekap.